Inentingsveldtog begin vir hoër onderwys

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die formele Covid-19-inentingsveldtog vir die hoëronderwys- en opleidingsbedryf begin Saterdag. Saptu, die Africa Parastatal on Tertiary Institution Union, verwelkom die aankondiging dat die laaste groot bedryf nou ook in aanmerking kom vir die entstof.

Die bedryf bestaan uit staatsuniversiteite, TVET en gemeenskapsopleidingskolleges, privaat instansies, die vaardigheidsopleidingsbedryf, sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SETA), die oorhoofse gehalteraad vir alle ambagte (QCTO), nasionale vaardigheidsfonds (NSF) en ʼn rits vaardigheidsontwikkelingsdiensverskaffers.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het aangekondig die departement het ʼn omvattende inentingstrategie vir die bedryf saamgestel wat ooreenstem met die departement van gesondheid se nasionale inentingsveldtog.

“Selfs al gaan tersiêre onderrig voort met aanlyn klasse, is persoonlike leer van onskatbare waarde. Ons is baie bly dat ons lede nou meer beskerming sal geniet teen die verwoestende koronavirus,” het adv. Ben van der Walt, algemene sekretaris van Saptu, gesê. “Die akademiese personeel en ondersteuningspersoneel lewer ʼn noodsaaklike diens aan die toekoms van Suid-Afrika.”

Van der Walt sê alhoewel die gemeenskap tersiêre persele as inentingsentrums gebruik het, het die departement bevestig dat dié persele toegewy sal word aan lede van die bedryf om seker te maak die inentingsveldtog word bespoedig. Die departement beraam dat tussen 100 en 500 persone per uur op só manier ingeënt kan word.

“Ons is beïndruk deur die beplanning vir die inentingsveldtog vir die hoëronderwysbedryf. Ons hoop dat die inwerkingstelling ook sonder enige groot ontwrigtings sal plaasvind. Saptu moedig opnuut sy lede aan om die gesondheid van kollegas in ag te hou wanneer hulle ʼn besluit neem oor inentings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ovelia ·

Kan net nie dink nie. Ons is bo 60 en ht nog ni eers spuit gekry ni. Hul kom net 1 keer n week en net mt n sekere hoeveelheid entstowwe Parys toe

OW ·

As ek jou raad kan gee, gaan vroeg as hulle weer kom.Dit is gewoonlik eerste daar,eerste gehelp.

Landras ·

Ek is seker hulle is oor 35 jaar – hoekom die groot hooohaaaa van uiteensetting ? Spuit meer per dag dan klap ek saam hande .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.