Infeksie hou brandoorlewende Sean dalk Kersfees in hospitaal

Sean kry 'n piksoen by sy ma, Mé-Lissa. Foto: Versakf

Sean kry ‘n piksoen by sy ma, Mé-Lissa. Foto: Versakf

Infeksie dreig om die brandoorlewende Sean Smith se wens om sy komende 17de verjaardag en Kersfees by sy ouerhuis in Pretoria deur te bring, in die wiele te ry.

“Hy sou vandag [Dinsdag] ontslaan word, maar daar is infeksie in sy wonde en sy dokters het daarteen besluit,” het Amoré Jooste, ’n gesinsvriendin en familiewoordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Sean, wat Saterdag verjaar, was twee maande gelede by sy ouerhuis in Theresapark in die noorde van Pretoria. Sy lewe het in ʼn oogwink verander toe hy op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken, nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen het toe sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol in Centurion.

Hy het sedertdien verskeie operasies ondergaan om sy wonde skoon te maak en van die gebrande weefsel ontslae te raak. Hy het tot dusver drie veloorplantings op sy bolyf ondergaan in die Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar hy sedert 30 Oktober gespesialiseerde behandeling vir brandslagoffers ontvang.

Sean het in November tydens ʼn onderhoud met JacarandaFM se gewilde Good Morning Angels-liefdadigheidsprogram gesê hy sien veral daarna uit om by sy jonger boetie by die huis te kan wees en om Kersfees by die huis deur te bring.

“Ons vat dit nou maar dag vir dag en kan nie met sekerheid sê wanneer hy ontslaan gaan word nie, dit hang alles van sy infeksietelling af. Hy sal eers ontslaan kan word sodra die infeksie weg is en sy dokters tevrede is.”

Jooste het gesê Sean is fisiek en emosioneel uitgeput en deesdae baie “af”.

“Hy is baie verveeld daar in die hospitaal. Hy het ook nog baie ongemak van die veloorplantings en raak geïrriteerd. Die hele beproewing het fisieke en emosionele letsels gelaat wat nog ʼn lang tyd gaan neem om te genees. Ons vra dus steeds vir al sy ondersteuners om hom in hul gedagtes en gebede te hou.”

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

E.K. ·

Sean ou maat, dit moet erg wees maar vasbyt en geduldig wees! Die drs weet die beste en ek glo jy gaan ‘n baie spesiale verjaarsdag en Kersdag hê waar ookal dit gaan wees: tuis of in die hospitaal! Ek hoop jy word GOED bederf, ons dink aan jou en hou duimvas vir alles van die beste vorentoe!

Dapper kind ·

Dapper seun staan sterk elke dag is n treetjie nader aan die einde van die seer en ongemak.
Jy is n lieflike kind met n goeie hart ek wens vir jou n spoedige herstel toe!

Sus ·

Sean jy moet nou sterkstaan! Wees geduldig en wees rustig. Dit sal alles bydra tot algehele genesing. Jy het in baie mense se harte ingekruip en ons bid vir jou. Jy is ‘n pragtige, spesiale kind. Hoop jy word vreeslik bederf op jou verjaarsdag!

Liendempers ·

Ai Seun, dit moet vreeslik vervelig wees in die hospitaal. Jy is seker ook al dik vir hospitaalkos, hospitaal beddegoed, hospitaal reuke en hospitaal klanke. Ek wil tog net vir jou se dat al moet jy jou verjaardag en Kersfees in die hospitaal deurbring, is dit veiliger om eers die infeksie hok te slaan as wat jy huistoe gaan en dan dalk net weer moet terug gaan. Dink net watse groot teleurstelling dit gaan wees. Daar is soveel mense wat omgee vir jou al ken hulle jou nie. Ons is van daai mense. Jy laat my vreeslik baie aan my eie seun dink. Ek dink dis die sagte oe en die krulhare. Onthou ook, dat dit heeltemal aanvaarbaar is vir jou om knorrig, hartseer, geirriteerd, moedeloos, alleen, briesend, huilerig, dankbaar en heeltemal deurmekaar te voel. Maar jy is sterk, jou oe se dit vir my en jy gaan heel anderkant uitkom. Baie geluk met jou verjaardag en n baie Geseende Kersfees vir jou en jou familie.

Nhk ·

Sterkte vir jou Sean. Wat van n inkleurboek al is jy jonk. Die grootmens inkleurboeke. So n kwart koppie kraanwater, strokie en blaas borrels. Dt werk briljant. Laat al die koolsuur gasse uit en suurstof is goed. Vir longe en die vel. Laat waai met die raad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.