Inflasie bly stabiel

Argieffoto (Pixabay)

Verbruikersinflasie het onveranderd op 4,5% in Junie gebly, maar behuising, nutsdienste en kospryse is egter aan’t styg.

Die belangrikste bydraer tot die inflasiekoers was behuising en nutsdienste, waarvan die koste jaar op jaar met 4,9% verhoog het. Dit het 1,2 persentasiepunte tot die hoofinflasiesyfer bygedra. Die syfer sal in Julie self skerper styg wanneer die verhogings van meer as 13% vir onder meer elektrisiteitstariewe bygereken word.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die syfers vroeër Woensdag bekendgemaak. SSA het bevestig dat dit nou die sewende agtereenvolgende maand is dat inflasie onder 5% is. Die syfer bly ook vir eers gemaklik binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken van tussen 3% en 6% vir inflasie.

Die jaarlikse inflasiekoers vir goedere en dienste was onderskeidelik 4,0% en 4,8%.

ʼn Stabiele wisselkoers vir die rand en die verwagting dat inflasie vir eers sal bly waar dit is, het weer die hoop laat opvlam dat Suid-Afrika dalk nog ʼn rentekoersverlaging kan kry, ná dit reeds in Julie met 25 basispunte verlaag is.

Die Reserwebank het egter verwag dat inflasie in 2019 ʼn gemiddeld van 4,4% sal wees in vergelyking met 2018 se 4,5%. Dié bank het verder ook gewaarsku dat plaaslike en wêreldrisiko’s vir die ekonomie sal bly voortduur. Die Reserwebank het ook benadruk dat dit nie nog ʼn verdere rentekoersverlaging voorspel nie.

Talle ekonome het al daarop gewys dat die trae groei in lone en ʼn sukkelende plaaslike ekonomie die eintlik rede vir dié inflasiestabiliteit is. Die laer as verwagte brandstofprys het ook gehelp om druk op inflasiepryse te verlig.

Kosprysinflasie wek egter kommer nadat dit van 3,2% in Mei tot 3,7% in Junie gestyg het. Albei syfers is die jaar-op-jaar-groei in die kosmandjie en nie-alkoholiese drinkgoed wat deur die SSA gemeet is.

Dit is veral brood en graanprodukte wat druk op die kosprysinflasie plaas. Die produkte het met ʼn gemiddeld van 7,3% duurder in die afgelope jaar geword. Vis se prys het met 6% gestyg terwyl vleis net 0,3% gemiddeld duurder is as verlede jaar.

SSA het bygevoeg dat die koste van openbare vervoer die afgelope jaar met 8,3% gestyg het. Taxigeld, asook bus- en treinkaartjies word gewoonlik in Junie gemeet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerrie ·

Jy moet RERIG stupid of naief wees as jy die statistieke glo van Stats SA.

My uitgawes het met meer as 10% gestyg – dis nou die gewone dinge, jy weet, wat GEWONE mense se sakke raak soos kruideniersware, PETROL, krag, versekering, mediese fonds.

Grootste klomp leuns wat hulle die bevolking voer

Asmain ·

Iemand kan nie somme maak nie…elke verbruiker kan getuig hoe inflasie van maand tot maand styg! Of die Dept dink Jan Alleman is stupid!

Arbeider ·

Lae inflasiesyfers is mos die rede om lae salarisverhogings te gee!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.