Inflasie daal weer tot 4%

Foto: M. B. M./Unsplash.com

Die inflasiekoers het in Julie tot 4% gedaal, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag bekend gemaak.

Dit is sy laagste vlak sedert Januarie. Volgens SSA was ʼn daling in brandstofpryse en ʼn styging in munisipale tariewe die hoofprysbewegings gedurende Julie.

Brandstofpryse het verlede maand effens gedaal wat vervoerinflasie afgebring het vanaf 5,5% in Junie tot 3% in Julie. Dit verklaar grotendeels die daling in verbruikersprysinflasie.

Motoriste het in Julie vanjaar R15,81 per liter 95-oktaan-petrol opgedok. Dít teenoor die R16,02 per liter 95-oktaan-petrol van Julie verlede jaar.

Kosprysinflasie het ook verlede maand gedaal tot 3,4% vanaf 3,7% in Junie.

Verbruikers moet egter nie te gou opgewonde raak nie aangesien die prys van brood en graanprodukte steeds styg met ʼn jaarlikse koers van 7,9%. Die prys van vleisprodukte het ook met 0,2% gestyg teenoor die 0,3% wat in Junie aangeteken is.

Volgens Kamilla Kaplan, ekonoom by Investec, word daar vanjaar ʼn gemiddelde inflasiekoers van 4,6% jaar tot jaar verwag wat binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken val.

“Inflasie het in die meeste gevorderde en ontluikende markekonomieë versag namate die olieprys herstel het vanaf onlangse hoogtepunte en die toename in die finale aanvraag verswak het. Dit bied die moontlikheid vir meer toeskietlike monetêre beleid, terwyl sentrale banke in die meeste lande rentekoerse verlaag.”

Kaplan het verder gesê die Reserwebank sal waarskynlik ʼn versigtige beleid wil handhaaf in die lig van die onlangse waardevermindering van die rand asook die alewige dreiging van afgradering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Skoolgeld ·

Maar die rand sien sy agterstewe daagliks teen ander geldstelsels ? Dis ñ helhool man.

Pieter ·

Hoe het die anc se president nou weer gese laas week watch the space hehe

GP ·

Seker verhogings tyd. Enige verhoging bo 4 % moet mense dus baie bly wees want dis bo inflasie.

Bert ·

Natuurlik glo ons dit, het enigiemand van die anc al ooit vir ons gejok?
Hulle is mos die toppunt van etiek, eerlikheid en boonop nog baie slim ook.

Johan ·

Ek glo niks van dit nie, my arbeid en my rand waarvoor ek werk beteken vir my maandeliks minder in die winkel. Ek raak net armer elke jaar en moet net heeltyd harder werk en meer doen om op dieselfde lewens standaard te bly. Ek is maar n leek met finansies, maar bogenoemde weet ek definitief raak my direk!

Michelle ·

Maar koffie, botter, melk ens ens bly styg. Noe hoe nou?

Naas ·

Nou kan die rentekoers met ‘n hele persentasiepunt (100 basispunte) verlaag word. Dit kan die haglike SA ekonomie so ‘n bietjie aanhelp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.