Inflasie gaan SA’ners nog lank laat les opsê

Verbruikers sê steeds les op in supermarkte. (Foto: Maroela Media)

Jaarlikse verbruikersprysinflasie het in Desember tot 7,2% gedaal, nadat dit in November op 7,4% en in Oktober op 7,6% gestaan het. Die gemiddelde inflasiekoers vir 2022 staan op 6,9% en is die hoogste syfer sedert 2009 (toe dit op 7,1% gestaan het).

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag die jongste syfers bekend gemaak.

In Desember was daar ʼn tweede maandelikse daling in inflasie. Die syfer het in Desember op 7,2% gestaan teenoor die 7,4% wat in November aangeteken is.

By supermarkte kry verbruikers dit steeds hotagter.

Kos op jou tafel ál duurder

Kosprysinflasie (voedsel en nie-alkoholiese drankies) het met 12,4% toegeneem, met brood en graanprodukte wat die grootste uitwerking op die algehele syfer gehad het. Die jaarlikse inflasiekoers vir hierdie stapelprodukte het in Desember op 20,6% te staan gekom.

Dit is veel hoër as die 1,5%-styging wat in Januarie 2022 opgeteken is en volgens StatsSA is Desember se koers boonop die hoogste sedert Februarie 2009, toe dit op 23,8% gestaan het.

Die prys van mieliemeel het in 2022 met gemiddeld 33,7% toegeneem en die maandelikse styging was 1,9%. Die prys van rys het tussen November en Desember met 1,3% gestyg wat die jaarlikse koers op 7,8% te staan bring.

Vleispryse styg ten minste stadiger en inflasie het in Desember op 9,7% gestaan, ʼn daling van November se koers van 10,5%.

Vir die vierde agtereenvolgende maand was daar ʼn stadiger styging in die prys van olie en vette. Dit het in Desember tot 22,4% gedaal.

Die gemiddelde jaarlikse prys van warm drankies het in Desember op 14,6% gestaan (van 13,9% in November). Die prys van kitskoffie het met 22,9% opgeskiet en ʼn cappuccino-sakkie sou jou in Desember 12,3% meer gekos het as ʼn jaar tevore, sê StatsSA.

Vervoer

Daar was effense lig in die vervoertonnel en vervoerinflasie het van 15,3% in November tot 13,9% in Desember gedaal.

Die prys van brandstof het die afgelope jaar met gemiddeld 22% gestyg. Dit is minder as die koers van 25,3% waarop dit in November gestaan het en heelwat laer as die koers van 56,2% wat in Julie aangeteken is. Brandstofinflasie styg sedert April 2021 met dubbelsyfers en was sedert Oktober 2021 deurlopend bo die 20%-kerf, sê StatsSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

isabelle ·

mens oorleef skaars…..dis baie erg! die armes word net armer

Shakespeare ·

Inflasie se dinges. Die ergste degraderende “inflasie” is die ANC/EFF en stemvee. PUNT !!!!

Waarnemer ·

Toemaar,alles gaan goedkoper word…tot na aabstaande jaar se verkiesing…en dan gaan ons weer vir 4 jaar klippe kou tensy die kaders tot n val gebring word.

Lourens ·

SPAR in Pretoria verkoop melk @ R42 vir ‘n 2 liter bottel. En hou dit voor as ‘n besparing.
Dan is daar natuurlik brood. Daardie plastiekverpakte gesnyde brood op die foto kos dubbeld wat ‘n varsgebakte brood kos, en het helfte van die dightheid en voedingswaarde. Maar selfs die armes (te oordeel aan voorkoms) koop die duur een.

SwartBees ·

Ons koop maar die ongesnyde SPAR goverment brood wat veel goedkoper en meer vullend is.

annie ·

… maar die winkelbase bly spekvet en gesond. Was al die prysverhogings nodig of was covid ‘n lekker inspuiting vir winsneming? Indien die Reserwebank weer die rentekoers opstoot wag daar ‘n verrassing vir sy majesteit. Mens hoop so Cyril hou op om net sy eie bas die heeltyd te wil red en besef hy het ‘n verantwoordelikheid waarvoor hy nogal goed vergoed word…

Nico ·

Kyk, nou na die verhouding, brood en graan staan op 20.6%, vleis 9.7%, vis 10%, melk, eiers en kaas 10%, olie en vette 22.4 % en kyk wat is die verhoging van wyn 5.9%, bier 6.8% en spiritualieë 7.2%, alkohliese drank kan opgaan met 30%. Kyk na die vervoer wanneer die diesel pryse afkom bly die pryse net so, wat doen die agbare president en anty kopdoen daar omtrent, niks, hulle het mos miljoene rand.

Wildemien ·

As ek tog net ‘n 20% salarisverhoging kan kry, sal ek dalk weer ‘n bietjie kan asemhaal. Dalk.

Delia ·

Kan iemand wat dalk verstaan vir my verduidelik hoe verhoogde brandstofpryse die voedselpryse opwaarts raak, maar as die brandstofpryse daal, daal die voedselpryse nie. Ek is seker te dom om te verstaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.