Inflasie gee effe skiet

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Inflasie het van Augustus tot September effens afgeneem – van 7,6% na 7,5% – nadat die prys van brandstof vir ʼn tweede agtereenvolgende maand gedaal het.

Die maandelike verbruikersprysindeks (VPI) was verlede maand ook laer (0,1%) vergeleke met Augustus (0,2%).

Suid-Afrikaners moet egter nie te vinnig bly raak nie, aangesien kos en nie-alkoholiese drankies in September vanjaar 11,9% duurder was in vergelyking met September verlede jaar. Brood en graan is intussen 19,3% duurder as ’n jaar gelede terwyl die prys van vleis die afgelope jaar met 9,9% gestyg het. Vette en olies kos 29% meer as ’n jaar gelede.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag gesê inflasie is vir die grootste gedeelte van 2022 hoofsaaklik gedryf deur die skerp stygings in die prys van kos, nie-alkoholiese drankies en brandstof.

Die prys van brandstof het egter met 6,4% van Augustus tot September gedaal. Dié welkome verligting het die jaarlikse inflasiekoers van brandstof tot 34,1% vertraag wat aansienlik laer is as die hemelhoë 56,2% wat in Julie vanjaar aangemeld is.

Maandelikse prysveranderings van kos en nie-alkoholiese drankies het verlede maand beter vertoon – 0,5% in September vergeleke met 1,8% in Augustus. Die jaarlikse inflasie van kos en nie-alkoholiese drankies is egter nog aan die styg.

Dit terwyl klere en skoene 2,8% in September vanjaar duurder was in vergelyking met verlede September. Dit is die hoogste jaarlikse styging sedert Augustus 2017 (2,9%). Huur is óók 2,8% hoër vergeleke met verlede September – die grootste styging sedert Februarie 2020 (3%).

Toiletware is intussen 8,3% duurder as ’n jaar gelede – die hoogste jaarlikse styging sedert Desember 2009 (9,7%). Die prys van toiletware het tussen Augustus en September vanjaar boonop met 1,9%, gestyg. Dit is meer as dubbel as die 0,8%- prysverhoging wat in Augustus aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Watse snert praat hulle van brandstof wat afgekom het, diesel (wat eintlik kommoditeit pryse meeste afekteer) het laaste 2 maande gestyg, en AA sê dit gaan nou weer styg.
Kos pryse styg ook omtrent 3 daagliks wat ons sovêr kan agterkom. (En dit styg met R2 plus per item)

koos ·

En kyk net hoe spotgoedkoop is sasol, wat plaaslik van SA steenkool gemaak word, en met my en pa se belastings gebou is (sarkasme in oortreffende trap).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.