Inflasie knaag aan jou kosmandjie

(Argieffoto: Unsplash)

Hoër verbruikerprysinflasie plaas mense onder al hoe meer druk en die gemiddelde prys van ʼn kosmandjie met basiese voedselitems styg steeds.

Jaarlikse verbruikersinflasie staan op 7,8%, die hoogste in 13 jaar. Vervoer, kos en nie-alkoholiese drankies en nutsdienste plaas groot druk op die jaarlikse koers. Brood en graan, olie en vette, asook brandstof en krag het ook vandeesmaand die koers help opjaag.

Verbruikers steier onder die koste van nie-duursame goedere – items soos kos, drankies, elektrisiteit, brandstof en medisyne – die meeste items wat hulle gereeld moet koop. Jaarlikse inflasie vir nie-duursame goedere staan op ʼn dubbelsyferstyging: die 14,4% is veel hoër as die koers vir duursame items (4,8%) en dienste (4,2%).

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die verbruikersprysindeks tussen Junie en Julie met 1,5% gestyg, slegs die vierde keer sedert 2008 wat die maandelikse toename 1,5% of meer was.

Die jaarlikse koers vir kos en nie-alkoholiese drankies was 9,7% in Julie, hoër as die 8,6% waarop dit in Junie gestaan het. Brood- en graaninflasie is op ʼn drafstap en staan nou op 13,7% op ʼn jaargrondslag (dit was 11,2% in Junie). Daar was ook skerp stygings in die prys van mieliemeel (4,2%), koekmeel (6,3%), macaroni (5%) en witbrood (2,8%).

Die prys van rys het die teenoorgestelde gedoen en is 3,1% laer.

Olie en vette toon die grootste jaarlikse styging onder voedselprodukte en het tot 36,2% in Julie toegeneem (van 32,5% in Junie).

Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) se indeks van huishoudelike bekostigbaarheid het bevind daar was op ʼn jaargrondslag ʼn verlangsaming in die styging van pryse in die maande voor Augustus verlede jaar, waarna die Julie-oproer skerp prysstygings in verskeie gebiede veroorsaak het.

Op ʼn maandgrondslag is daar vir die tweede agtereenvolgende maand laer inflasie op die algehele kosmandjie. In Augustus het 21 van die 44 items in die kosmandjie duurder geword, in Julie was 31 items duurder, in Mei was 28 items duurder en in April het 35 van die 44 items prysstygings ondervind.

PMEJBD waarsku dat hoewel dit lyk of pryse maandeliks daal, word die kosmandjie steeds duurder – al is dit effens stadiger.

“Ons sien nog nie enige aansienlike daling in pryse wat die algehele koste van die huishoudelike kosmandjie sal verminder en druk op huishoudings verlig nie,” sê die organisasie.

Taxigeld is opgestoot en só ook nutsdienste.

Munisipaliteite het onlangs hul kragtariewe met 7,5% opgestoot en brandstof is 56,2% duurder as ʼn jaar gelede.

Werkskepping vorder teen ʼn slakkepas en diegene wat wel werk het of ʼn maatskaplike toelaag ontvang, sukkel steeds om kop bo water te hou.

“Die hoë koste van voedsel bly ʼn groot krisis vir miljoene Suid-Afrikaanse gesinne en belemmer mense se behoefte om ʼn vol en produktiewe lewe te lei; om behoorlike en voedsame kos te kan bekostig, om gesond en in beheer van hul toekoms te wees.”

Dit raak veral vroue wat hul gesinne probeer kos gee.

“Ons hoor al hoe meer vroue wat sê dat hulle al hoe meer onveilig op straat voel. Meer mense word beroof. Daar is ʼn gevoel dat meer mense in die moeilikheid en desperaat is en bereid is om te steel om te oorleef. Daar is ʼn spanning, ʼn onrustige gevoel wat heers.”

Die PMBEJD se kosmandjie bevat 44 items van supermarkte in Johannesburg, Durban, Kaapstad, Pietermaritzburg en Springbok. Dit sluit produkte soos mieliemeel, kookolie, brood en groente in.

Die prys van mieliemeel het in al die gebiede waar die opname gedoen word, gestyg. Meel is oral, behalwe in Durban, duurder. Kookolie is duurder in Kaapstad en Johannesburg, terwyl die prys van brood skerp in Johannesburg en Durban gestyg het.

In Johannesburg was die meeste beesvleis duurder en gevriesde hoenderstukke het ʼn prysstyging in al die gebiede behalwe Springbok ondervind.

Tamaties, botterskorsies en groenrissies het die gesamentlike prys van groente in die mandjie veral opgestoot.

Huishoudelike skoonmaakmiddels en persoonlike higiëneprodukte word ook steeds duurder. Die gemiddelde koste van ʼn basiese mandjie met dié produkte is vandeesmaand R900,45.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

domheks ·

en kaders voel niks want hulle verhoging is meer as die duurste kosmandjie!

Oosieoos ·

Dis a skande arm mense vergaan van die elende en die staat verryk huself terwyl hulle die hoogs betaaldes is

annie ·

Reg dat jul die duur koffie wys want om so vroeg op jou nugter maag al oor die vingers getik te word… skaars wakker… is nogal pynlik. Daarna wag ‘n duur bordjie mieliepap en…

VaalDonkie ·

En ons huis drink net filter koffie. Maar gelukkig kan mens nog House of Coffee en Bootlegger se 1kg bone bekostig.

Elize ·

Hoeveel mense word gevoed met hierdie kosmandjie? Weet nie of ek dit mis lees nie.

VaalDonkie ·

Weet ook nie. As ek moet kyk na my eie familie, dan kos dit seker maklik R150 per dag net aan kos. En dan praat ons van hoender/mince en groente. Dan het niemand nog koffie of tee gehad nie.

VaalDonkie ·

Jis ek weet nie hoe party mense dit deur ‘n maand moet maak nie. Ek sien intree-vlak poste word geadverteer met R6000 se salaris. Dis hoeveel ek 16 jaar gelede aangebied was vir dieselfde pos. En dan is alles twee maal of drie maal duurder. Daai tyd kon jy nog ‘n woonstel huur vir R2000/m en ‘n kar vir R1000/m finansier. Maar ek weet nie hoe selfs jong paartjies dit deesdae moet kan doen nie. Ek hou van Ribeye steak. Laasjaar was hy R150/kg. Nou is hy al R250/kg by dieselfde supermark. En ons het alweer begin rys saam met ons kos maak al wil ons “keto” eet. Want dis net eenvoudig te duur om net vleis en groente op te sit.

KatjieDeKat ·

Ja ek gebruik ook heelwat rys. Ek maak Chinese “stirfries”. Sny hoenderborsies, vark of minute steaks in repies en braai dit met bevrore gemengde groente en ons eet dit saam met rys of rysnoedels. Ek koop soja sous en sesame oil om die regte Chinese smaak te gee. Dis darem redelik gesond en baie vullend. Ek het boonop nog Celiac Disease so ek kan glad nie graan eet nie, die gluten daarin maak my baie sieklik. So jy kan jou voorstel hoe moeilik dit is, want hulle druk graan in Alles in, soos selfs speserye bv. So ek moet by Dischem my speserye koop. Ek kan darem gelukkig my eie brood bak met rysmeel en ander gluten vrye meel tipes. Ai asof die lewe nie al duur genoeg is nie! Ek leef maar in die dag meesal op jogurt en piesangs.

VaalDonkie ·

My vrou en kind het ‘n probleem met Gluten. Darem nie Celiac nie. Maar dis ook maar moeilik. Ons het geving Ina Paarman se speserye is omtrent alles gluten-vry. Probeer miskien van dit?

KatjieDeKat ·

Dankie ja, ek gebruik van Ina Paarman se speserye. Maar ek woon buite n klein dorpie, so soms is haar vleis speserye nie beskikbaar nie, so ek koop maar ekstra by Dischem. Carb Smart het ook goeie vleis speserye.

MK123 ·

Ons woon in Dubai en dis die eerste keer in baie jare wat ons ook die toename in pryse swaar aan ons sak voel, so dit is nie net in SA nie. Petrolprys het 90% toegeneem in die laaste 12 maande, kospryse is belaglik hoog (Bv. R120 vir 500g botter, R35 vir n halwe brood, R115 vir 250g kaas, R550 p/g vir steak, R450 p/g skaaptjops, R140 vir ‘n sakkie appels, R170 vir klein boksie druiwe, R125 vir 2 mielies… om net n paar te noem), en hier is geen jaarlikse salarisverhogings nie, miskien 5% verhoging elke 4-5 jaar as jy gelukkig is. Al wat ons red, is die feit dat ons nie belasting betaal nie, anders sou die lewe hier nie veel beter gewees het as in SA nie (behalwe vir veiligheid natuurlik).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.