Inflasie nou hoogste in 5 jaar

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Jou oë bedrieg jou nie: Brood, olie en vleis hét die afgelope paar maande nes brandstof al duurder geword.

Die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) het in Mei tot 6,5%  –  bo die Reserwebank se teiken van tussen 3% en 6% – gestyg nadat dit in April en Maart op 5,9% te staan gekom het.

Die jongste VPI is die hoogste sedert Januarie 2017, toe die inflasiekoers tot 6,6% geskiet het.

Wat ʼn maand-tot-maand-basis betref, het die VPI in Mei met 0,6% gestyg.

Statistieke SA (StatsSA) sê die hoë brandstofprys is steeds grootliks te blameer vir die hoë VPI. Vervoer, kos en nie-alkoholiese drankies was verantwoordelik vir net meer as die helfte van die jaarlikse VPI nadat skerp prysstygings in dié kategorieë aangeteken is.

Sou die impak van brandstof van Mei se VPI-lesing verwyder word, sou die VPI met 5,1%, eerder as 6,5% toegeneem het.

Die prys van diesel het tussen April en Mei met 8,1% gestyg.

Die gemiddelde prys van ’n liter diesel het in Mei verlede jaar R16,20 bereik. Dit het toe R729 gekos om ’n 45 liter-tenk vol te maak. Twaalf maande later sal dit jou R1 065 uit die sak jaag om dieselfde tenk vol te maak, met die gemiddelde prys wat nou op R23,67 per liter staan.

Petrolpryse het tussen April en Mei met 0,7% afgeneem. Petrol was egter, ten spyte van hierdie afname, byna 27% duurder as wat dit in Mei 2021 was.

Die prys van kos en nie-alkoholiese drankies het tussen April en Mei met 2,1% gestyg. Dit is die grootste maandelikse styging sedert Februarie 2016, toe ’n maandelikse styging van 2,1% ook aangemeld is. Die land het in daardie stadium gebuk gegaan onder ’n erge droogte.

Vette, olies en graanprodukte raak ook al duurder.

Sonneblomolie is byna 40% duurder as wat dit ’n jaar gelede was, terwyl die prys van sonneblomolie tussen April en Mei met 16,1% gestyg het.

Die prys van brood en graanprodukte het van April tot Mei met 3,4% gestyg. Dié prys het in ʼn jaar se tyd met 8,4% toegeneem. Mieliemeel was in Mei 5,1% duurder as in April en ’n witbrood 3,7% duurder.

Die prys van vleis het intussen met 9,4% van April tot Mei toegeneem.

Jaarlikse vleisinflasie het sedert November 2020 bo die 6%-kerf gebly. Die prys van gevriesde hoenderporsies en kookvleis het vanaf Mei 2021 tot Mei 2022 met onderskeidelik 13,7% en 12,2% gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

domheks ·

Maar hulle (Ramaparra en kie) kry verhoging? Die enigstes in die land????
Ons moet maar by die phala phala OTM gaan geld trek!

Aai ·

Middel klas wat koop krag is raak arem dit gaan groot probleme veroorsaak.

Manie ·

Wie dink Statistiek SA flous hulle met die 6,5% inflasiesyfer? Selfs 16,5% sal ‘n konserwatiewe skatting wees.

Asgat ·

En so gaan inflasie en lewens kostes op, maar ons kry nie verhogings in salarisse nie danksy die slegte ekonomie. Niemand kan meer so klaar kom nie. Vleis is luuksheid en so ook al die gesonde kos wat n’ persoon veronderstel is om te eet. Kan elkeen van ons nie maar een bank kry van Ramposa se plaas af nie ???

Kokerboom ·

Die gemiddelde man in die straat verarm by die dag weens al die faktore totaal buite sy beheer!Die Reserwebank verhoog nou weer rentekoerse om sogenaamd inflasie in toom te hou en die melkkoei krepeer verder Die afwaartse spiraal hou ‘n bedreigende onseker donker toekoms vir land in!!!Burgerlike opstand kan nie uitgesluit word

annie ·

Die VSA en Brittanje verhoog hul rentekoerse vanaf ‘n lae basis, maar ons is mos ook ‘n eerstewêreldland, so die koers sal moet op in lyn met die mode om banke en veral die Reserwebank se ryk base se ego’s te streel en hul beleggings te hupstoot. Groot ellende wag op hierdie formidabele land en dit gaan nie Putin se skuld wees nie.

Cathy ·

Dinge KAN dood eenvoudig NIE meer so aanhou nie! ALS gaan op… Al wat afkom is die reen en die wat gelukkig is om nog ‘n inkomste te kan verdien, kan hul ou skoene agter na gooi vir die armes (en hul werk behoorlik doen sodat daar behoorlike dienslewering is). Pensionarisse trek aan die kortste end en kry geen hulp van die staat of enige instansie nie…Pensionarisse behoort vrygestel te word van belasting want hulle het hul lewens lank hard gewerk, elke maand betaal vir hul aftree annuiteite en tussen SARS en die hoe lewens koste, verdien die mense wat die land opgebou het ‘n bietjie verligting want bo en behalwe die hoe lewenskoste is dit *n feit dat goeie gesondheid nie gepaardgaan met ouderdom nie en die wat nie mediese fondse het nie, word NOG verder gekniehalter met ongelooflike mediese onkostes so gee die ouer geslag bietjie verligting ASB.! Nie almal ontvang ‘n inkomste nie en die wat oor 60 is en nog voel hulle KAN ‘n bydra lewer tel nie meer nie,

Corne123 ·

Ag asb tog die 6.5% is deur ongeletterde BEE aanstellings uitgewerk. Enige iemand met meer as 2 breinselle sal besef 6.5% is hopenloos te laag dalk meer amper 26.5% indien nie selfs hoeer nie maar 6.5% is n gekookte ANC syfer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.