Inflasie nou nóg hoër, maar verligting kom

(Foto bloot ter illustrasie / Maroela Media)

Amptelike data het Woensdag getoon dat inflasie in Suid-Afrika in Julie selfs verder gestyg het. Dit nadat inflasie reeds in Junie tot die hoogste vlak in 13 jaar toegeneem het. Die styging is hoofsaaklik aangedryf deur stygende voedsel-, vervoer- en elektrisiteitspryse – van die kern sosio-ekonomiese kwessies waaroor duisende stakende werkers Woensdag reg oor die land betoog het.

Luidens StatsSA se statistieke het verbruikerspryse in Julie teen ’n jaarlikse koers van 7,8% gestyg teenoor 7,4% in Junie.

Die aankondiging het op dieselfde dag gekom as die massa-stakings wat deur vakbonde, onder meer Saftu en Cosatu, gelei is, wat vandag in die meeste provinsies in die land plaasgevind het.

Stakers het ’n beroep op die regering gedoen om die toenemende armoede en lewenskoste in die land te bekamp.

Terwyl die nuwe inflasiesyfer slegte nuus vir verbruikers is, voorspel ekonome dat die land waarskynlik ’n kantelpunt bereik het, en dat inflasie in die komende maande kan afneem.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec-bank, sê die inflasie is “waarskynlik die hoogtepunt in die huidige inflasiesiklus”.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, sê inflasie sal teen hierdie tyd volgende jaar weer laer wees.

Die Covid-19-pandemie, sowel as Rusland se inval in Oekraïne, het grootliks daartoe bygedra dat inflasie wêreldwyd die hoogtes ingeskiet het.

Volgens StatsSA het dit vir Suid-Afrikaners gelei tot stygende koste vir gebruiksgoedere, onder andere voedsel, elektrisiteit, brandstof en medikasie.

Hoewel graanpryse internasionaal aan die daal is, sê Roodt dit neem “tot soveel as twee jaar voordat ’n prysskok sy pad deur die ekonomie werk”.

Pryse vir brood en graan was in Julie 13,7% hoër, vanaf 11,2% in Junie. Dit beteken dat witbrood nou sowat R17,84 kos vergeleke met R15,57 ’n jaar gelede. Die brandstofprys het met ʼn enorme 56,2% gestyg teenoor verlede jaar. Stygende inflasie het die Reserwebank aangespoor om rentekoers tot 5,5% verhoog.

Roodt voorspel dat nog ʼn verhoging waarskynlik sal kom. Christie Viljoen, senior bestuurder en ekonoom van PwC Suid-Afrika, sê dit sal ʼn verergerende uitwerking op die breër ekonomie hê, met hoër tariewe wat tot hoër skuldterugbetalings vir verbruikers sal lei. Dít sal uiteraard huishoudings se begrotings knou.

“Dit lei weer tot verminderde bestedingskrag vir verbruikers en maatskappye. Dit is ’n uitdaging vir Suid-Afrika wat ’n verbruikersgedrewe ekonomie is,” het Viljoen gesê. Die stygende lewenskoste eis ʼn verdere tol op ’n bevolking waar die werkloosheidsyfer 34% nader.

Die vakbond UASA het gesê inflasie voorspel onheil vir werkers.

“Verbruikers sukkel om te oorleef, aangesien die prys van basiese goedere en dienste aanhou styg, wat onbekostigbaar word vir die man op straat,” het Abigail Moyo, UASA se woordvoerder, gesê.  Moyo meen hoewel brandstofpryse die afgelope maand ’n aansienlike daling getoon het, baat dit nie die pendelaars wat werk toe en terug moet keer nie – of dit nou per taxi of private voertuig is.

“Duisende Suid-Afrikaners soek werk, maar kan skaars bekostig om vir onderhoude te gaan, terwyl hulle tot hul huishoudelike uitgawes behoort te kan bydra. UASA is moedeloos oor die ekonomiese toestande waaraan ons lede en mede-Suid-Afrikaners onderwerp word. Ons moedig Suid-Afrikaners aan om sterk te bly en nie hoop te verloor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Antie Sarie ·

Op skool het ons geleer n inflasie koers bo 4% wys n land is in die moeilikheid. Volgens daardie maatstaf, is in meer as die moeilikheid

Oosieoos ·

Nee wat niks wat opgegaan het, het al afgekom nie dis wensdenkery

Voilet ·

Dit raak onsaglik duur in die land. Mens kan nie meer by bly nie regtig. Dit raak regtig kommerwekkend

annie ·

Sasol het toe eintlik maar uitgedraai in ‘n selfverrykende onderneming nadat daar destyds hoog en laag beloof is dit sal tot die redding van volk en vaderland kom op die dag van benoudheid en toe is ongevraagd van elke belastingbetaler geld ‘geleen’ om die besigheid te begin. Dit het wel werk geskep en baie rook, maar vandag skep net aandeelhouers en uitlanders. Die dag van benoudheid is nou met ons! Net stilte… en stank vir dank!

gatgogga ·

Beloftes van politici beteken niks – hulle is leuenaars in die oortreffende trap.

Waarnemer ·

Ek het iewers die “aansienkike prys daling ” in brabdstof misgeloop.Waar en wanneer het dit gebeur?Beslis nie in SA nie.

gatgogga ·

Want Ramaphosa en sy idiote het geen begrip van nasionale ekonomie nie.

Nico ·

Glo nie hierdie stories nie, die ekonome moet dit eers op skrif stel om dit te kan glo.

Tiny ·

Asseblief, watse verligting? Alles gaan op omdat daar hoër olie pryse is. Die enigste ding wat dan weer effens goedkoper raak is olie. Dink mooi terug. Het brood in 2009 goedkoper geword? Het enige iets goedkoper geword? Of het ons maar net gewoond geraak en ophou kerm? Mense moet net so ‘n klein bietjie breër lees as die hoof stroom media wat wêreld wyd dikteer word en sien dat kos al skaarser en duurder word in die wêreld. Dit gaan oor meer hier as oorloë en duur olie pryse……

Wat ons nie lees in hoof stroom media nie is dat privaat boere in Pensylvania in Amerika onlangs hewig beboet is omdat hulle nie volgens “voorgeskrewe regulasies” boer nie. Hier kom in my opinie ‘n Bybelse hongersnoot, wat nie as gevolg van natuurlike oorsake gaan plaasvind nie, maar deeglik beplan word deur ‘n sogenaamde hoër gesag.

Mieke ·

Staan sterk en moenie moed verloor nie? Vir hoe lank moet ons nog sterk staan en nie moet verloor nie?!!

Koos 100 ·

Ek mag dalk stupid wees, maar inflasie is pryse wat op gaan (in ‘n neutedop). Rentekoerse word verhoog om inflasie af te bring, dit is die reserwebank se oplossing. Hoër rentekoerse verhoog pryse want alles word duurder. Pryse wat op gaan laat die inflasiekoers styg, en pryse gaan op. Mis ek iets, of is ek net te onosel om te verstaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.