Inflasie op laagste koers in maande

Melk, eiers en kaas kos nou 6,4% meer as ʼn jaar gelede. (Foto: Maroela Media)

Die inflasiekoers staan tans op 2,9%, die laagste vlak sedert Junie verlede jaar toe die koers op 2,2% gestaan het. Dit is egter nie heeltemal goeie nuus vir verbruikers nie, aangesien die koste van sommige produkte en dienste steeds met meer as die inflasiekoers gestyg het. Die maandelikse styging in inflasie was ook in Februarie veel hoër as gewoonlik.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag gesê dit is die derde keer oor die afgelope 12 maande dat die jaarlikse koers onder die laagste vlak van die Reserwebank se inflasieteiken val.

In Mei en Junie verlede jaar was inflasie ook onder die 3%-vlak.

Die maandelikse inflasiekoers in Februarie was egter 0,7%. Dit is meer as dubbel die maandelikse 0,3%-styging wat in Januarie aangeteken is. Dit is ook die hoogste sedert Julie verlede jaar, toe maandelikse inflasie op 1,3% gestaan het.

“Dit lyk dalk vreemd dat die maandelikse verandering betreklik hoog is, terwyl die jaarlikse koers laer is as wat meestal oor die afgelope 12 maande aangeteken is. Dit is omdat ʼn opname nie elke maand van álle produkte in die VPI-mandjie gedoen word nie,” sê StatsSA.

Mediese versekering word gewoonlik in Februarie (en weer in April) gemeet, wat beteken dit het ʼn groot uitwerking op die maandelikse verandering in Februarie se VPI.

Gesondheidsinflasie

StatsSA sê mediese versekering (jou mediese fonds) is die enkele grootste item in die VPI-mandjie en is verantwoordelik vir 7,6% van algehele huishoudelike besteding. Die gemiddelde jaarlikse styging in mediesefondsbydraes in Februarie was 4,7%, heelwat laer as die 9,6%-styging ʼn jaar gelede, maar steeds hoër as die algemene inflasiekoers.

Verbruikers betaal nou gemiddeld 4,3% meer vir medies verwante produkte en dienste as ʼn jaar gelede.

Dokters het hul gelde teen einde verlede maand oor die voorafgaande 12 maande met gemiddeld 3,2% verhoog, terwyl tandartse nou 4,3% meer vra.

StatsSA sê die koste vir ʼn hospitaalbesoek het oor dieselfde tydperk met 3,4% toegeneem.

Al drie koerse is laer as wat dit in Februarie verlede jaar was.

Voedsel- en drankinflasie

In Februarie het jaarlikse inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies op 5,2% gestaan, ʼn daling van 0,8% in vergelyking met die 6%-inflasie wat in Desember verlede jaar aangeteken is. Die maandelikse styging (0,3%) in Februarie is ook laer as die styging in Januarie (0,7%).

Die inflasiekoers vir brood en grane (4,6%) is ook laer as die 5,1%-hoogtepunt wat dit in Januarie bereik het.

Die prys van witbrood het met 8% gestyg, maar mieliemeel is 3,5% goedkoper.

Melk, eiers en kaas kos nou 6,4% meer as ʼn jaar gelede en die jaarlikse koers is sedert Oktober nou bo die 5,5%-vlak.

Die gemiddelde prys van twee liter vars volroommelk het van R28,03 in Februarie verlede jaar tot R29,27 in Februarie vanjaar toegeneem.

ʼn Halfdosyn eiers sou jou in Februarie vanjaar gemiddeld R19,03 gekos het, meer as die R15,87 wat jy in Februarie verlede jaar gemiddeld daarvoor sou moes opdok.

Jaarlikse inflasie vir olie en vette het in Februarie op 10,6% gestaan – die hoogste koers sedert November 2016.

In teenstelling daarmee is vrugte-inflasie op die laagste jaarlikse koers in meer as ʼn jaar en die prys van groente het ook met 0,7% gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Vleispryse word nie eens genoem nie! Die algemene vleispryse is skandalig hoog.

koos10

Hierdie koers word gemanipuleer, netsoos die Covid getalle. Die regering gebruik die koers om salaris onderhandelinge mee te doen. Hulle sal natuurlik nie wil sien dat die koers op 8% te staan kom nie. My medies is met 11% op. Petrol met 13%. Vleis met 9%. Kos met 8%. Wie werk die koers dan uit? Niks het af gekom nie!

Anel

Duidelik doen die ouens nie inkopies nie!!!

Eend Bessinger

Inflasie op sy laagste, maar pensionarisse trek meer en meer aan die korste end. Dit sluit ons in wat afhanklik is van staatstoelaes. Dis tyd dat hierdie toelaes hersien word. Te veel mense kry toelaes, maar is in staat om te werk, veral ouers wat meer en meer kinders in die wêreld bring. As die meerderheid (onverdiende) kindertoelaes gestaak word, kan die ander toelaes maklik verdubbel word. En die lui werkloses kan dan hul arms uit hul sakke haal en werk. Of werk skep vir hulself.

Chris

Dis nou nonsens. Gaan kyk wat kos boksmelk. Bekende make se prys was verlede jaar voor Covid R68 n boks vandag is daai selfde maak R106. Vleis se pryse is vieslik hoog. Suiker het onbetaalbaar geword.