Inflasie op laagste vlak in byna ʼn jaar

(Foto: Maroela Media)

Inflasie in Suid-Afrika is op die laagste vlak in 11 maande – maar kospryse bly hardnekkig hoog.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag die jongste syfers bekend gemaak: Die jaarlikse verbruikersprysinflasie het in April tot 6,8% gedaal van die 7,1% waarop dit in Maart vanjaar gestaan het.

Dit is die laagste koers sedert Mei verlede jaar, toe inflasie op 6,5% gestaan het.

Die maandelikse verandering in die verbruikersprysindeks was 0,4% in April vanjaar.

Kos en nie-alkoholiese drankies

Jaarlikse inflasie vir kos en nie-alkoholiese drankies het in April tot 13,9% gedaal. In Maart het dié syfer op 14% gestaan.

Die indeks vir bone en graan het in die 12 maande sedert April met 20,8% toegeneem; dit is steeds effens hoër as Maart se koers van 20,3%, maar minstens laer as die hoogtepunt van 21,8% wat in Januarie vanjaar opgeteken is.

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die prys van melk, eiers en kaas het as produktegroep die skerpste styging in 14 jaar (sedert Januarie 2009) agter die blad. Vir dié produkte was die jaarlikse prysstyging 14,5%.

Die gemiddelde prys van ʼn bottel 2 liter-melk het in die 12 maande tot April van R30,14 tot R35,88 gestyg.

Oor dieselfde tydperk het die prys van ʼn kilogram cheddarkaas van R118,24 tot R135,11 gestyg.

En waar ses eiers jou ʼn jaar gelede R20,38 gekos het, kos dit nou gemiddeld R21,59.

Groente is gemiddeld 23,1% duurder as dieselfde tyd ʼn jaar gelede – en die koers is boonop op die hoogste vlak in 15 jaar (sedert November 2007).

Produkte soos uie, wortels, rissies en aartappels stoot veral die koers op.

As jy graag ʼn koppie koffie drink om jou soggens wakker te kry, kan die styging in koffiepryse jou dalk voortaan ook snags laat wakker lê. Jaarlikse inflasie vir nie-alkoholiese drankies was in April op 10,4% (die hoogste koers sedert Januarie 2010).

Koffie is een van die produkte wat ʼn hoër as gemiddelde prysstyging ondervind het: Die prys van gemaalde koffie of bone het met 17,8% gestyg, kitskoffie is 14,8% duurder, suiwelmengsels kos jou nou 19,2% meer en vrugtesap is 16,5% duurder.

Vleisinflasie laer

(Argieffoto: Unsplash)

Hoewel jy dalk nie jou koppie boeretroos vroegoggend vir ʼn sappige biefstuk sou verruil nie, volg vleis, vette en olies minstens ʼn teenoorgestelde neiging wanneer dit kom by die betaalslag.

Vleisinflasie het vir die tweede agtereenvolgende maand verstadig en staan nou op 9,5% (ʼn daling van 10,6% in Maart).

Inflasie vir olie en vette het vir ʼn agtste agtereenvolgende maand ook gedaal en het geduik van die koers van 16% in Maart tot 9,9% in April. Die laaste keer wat die koers op enkelsyfers gestaan het, was in November 2020.

Nog noemenswaardige skommelings

Vervoerinflasie het vir die negende agtereenvolgende maand afgeneem en staan nou op 7,6%. StatsSA sê dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die jaarlikse brandstofkoers wat tot 5% verminder het. Dit is die laagste vlak sedert Maart 2021, toe dit op 2,4% gestaan het.

Skerp maandelikse verhogings is by sogenaamde tradisionele leesmateriaal opgeteken. Dit sluit in die prys van koerante (op met 7,5%) asook dié van tydskrifte (wat 5,6% duurder is).

Dit het die jaarlikse koers vir die kategorie (boeke, koerante en skryfbehoeftes) van 10,2% in Maart op 11,5% in April te staan gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Papsak ·

Groot leun groot winkels wys maar net hulle sal pryse hoog hou of jy nou kan bekostig of nie maak geen saak aan hulle nie sit liewer nog kos pryse hoer op maak ons dood regtig bring net bietjie kos pryse laer asb diesel het met hoeveel al laer geword kyk na pryse mense petrol gaan hoog

Martie Smartie ·

En ons kan StatsSA hoe glo? Staatsinstelling. En ons moet dit glo? Ha ha ha. Volgende gaan ons seker hoor korrupsie vlakke is amper nul

houopkruip ·

Dit is onverstaanbaar hoekom ekonome, makelaars, ens nie reageer op hierdie sg 6 % of 7 % inflasiekoers nie.
Dis onsin, en almal (hulle inkluis) weet dit.
Met ‘n bekende finansiele makelaar onlangs gesels, wat dit basies beaam het, maar bloot sy skouers opgetrek met “dis maar die media”.
Die inflasiekoers vir Jan Alleman moet gekwoteer word, nie vir die multi miljoeners in die land nie.
Die mense moet maar weer Ekonomie Spes 101 gaan op-swot.

Goldy ·

Ek werk in die veld en kan vir jou sê, jy is heeltemal korrek. Die werklike realiteit is baie slegter as wat kollegas in sandton en die gegoede gautengse voorstede besef.

adriaan ·

Wonder maar net wat die Rand werd gaan wees teen die dollar na ons volgende verkiesing en dit terwyl die $ reeds swak is agv die VSA se Joe Biden.

Gaitsigubib ·

Die ou wat jou afmerk meen seker dat die VSA se ekonomie goed vaar onder Biden. Wel as n resessie goed is, hoe kan mens dan stry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.