Inflasie, rentekoerse: ‘Geen genade vir verbruikers’  

(Argieffoto: Unsplash)

Inflasie het vir die tweede agtereenvolgende maand gestyg en daar is opnuut kommer oor ʼn verdere rentekoersverhoging gegewe inflasie wat hoog bly.

Daar is eintlik verwag dat inflasie sou begin taan en dat rentekoerse teen die einde van die jaar sou begin daal.

Die inflasiekoers het in Maart tot 7,1% gestyg van 7% in Februarie. Kospryse het met 14% skerp gestyg en is dit die skerpste styging in kospryse sedert Maart 2009. Dit blyk dat daar ʼn moeilike paar maande vir verbruikers voorlê met rentekoerse wat na verwagting ʼn verdere 25 basispunte kan styg in Mei. Die rentekoers is einde Maart met 50 basispunte verhoog. Dit was die negende agtereenvolgende styging en die rentekoers is sedert November 2021 al met 425 basispunte verhoog.

Hardnekkige inflasie

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth, meen indien beurtkrag se impak op inflasie nie verminder kan word nie, gaan hardnekkige inflasie nie afgebring kan word nie – al word die rentekoers nog drie of vier keer verhoog. “Die rentekoers is oor die afgelope 16 maande al soveel keer verhoog en dit is duidelik dit werk nie om inflasie hok te slaan nie.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, sê die rooi ligte flits nou ook nog helderder vir Suid-Afrika se groeivooruitsig. “Wydverspreide kommer en onsekerheid oor die verdere negatiewe ekonomiese en sake-impak van Eskom se huidige voortslepende fase 5- en 6-beurtkrag is besig om toe te neem. Die jongste intense beurtkragregime van Eskom het die risiko verhoog dat die ekonomie moontlik nou in ’n tegniese resessie – met ander woorde twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei – verval het. Dit is die kumulatiewe uitkoms van hierdie en ander ontwikkelings in die onlangse verlede.”

Parsons sê die energie-uitdaging is nou nietemin geïdentifiseer as die grootste enkele bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomiese prestasie. “Teen die agtergrond van ’n -1,3%-BBP-groei in K4 van 2022, gekombineer met ’n reeks van hoofsaaklik negatiewe hoëfrekwensie- ekonomiese data in K1 van 2023, is dit dus nou moontlik dat die onlangse vernietigende voortslepende kragonderbrekings onvermydelik die balans van risiko’s in Suid-Afrika na ’n tegniese resessie laat oorhel het.”

Rentekoers styg na verwagting verder

(Argieffoto: Maroela Media)

Met inflasie wat bly styg sal rentekoerse waarskynlik bly klim en dit voorspel niks goed vir verbruikers nie.

Parsons sê aangesien verskeie ontleders reeds ’n verdere styging van 25 basispunte in die rentekoers by die volgende vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) in Mei in die vooruitsig stel op grond daarvan dat hulle ’n laer inflasiekoers verwag het, is dit nou selfs meer waarskynlik dat die MBK weer meer aggressief gaan optree.

“Dit moet beskou word teen die agtergrond daarvan dat die Reserwebank nou die leenkoste met ’n kumulatiewe 425 basispunte verhoog het sedert die siklus vir die styging van rentekoerse in November 2021 begin het. Die repokoers is nou op sy hoogste sedert 2010.”

Wanneer rentekoerse styg moet verbruikers hul hand nog dieper in die sak steek met kredietkaart- en winkelskuld wat duurder word en persoonlike lenings en motor- en huispaaiemente wat styg. Daarby kom skerp stygings in kospryse.

Verbruikers wat skuld aangegaan het toe die rentekoers heelwat laer was, sal moontlik nou behoorlik moet swoeg om hul skuld te kan diens of dit bloot net nie meer kan bekostig nie. Die gemiddelde salaris in die land verhoog egter nie teen dieselfde koers nie en maak Suid-Afrikaners al hoe armer.

Invloed op beleggings

(Foto: iStock)

In ʼn omgewing van stygende inflasie en hoë rentekoerse moet beleggers maniere soek om kapitaal in reële koersterme te spaar en te laat groei.

“Hoe hoër inflasie is, hoe meer moet jou beleggings presteer ten einde net inflasie te klop,” sê Van Zyl. “Inflasie kan sommige bateklasse negatiewer as ander beïnvloed en verminder die koopkrag van jou geld met verloop van tyd. Diversifisering van jou portefeulje kan help om jou beleggings teen risiko’s te beskerm.”

Dit is belangrik om te weet hoe inflasie jou beleggings raak en hoe jy jou beleggingsopbrengste kan beskerm.

“Dit is ook belangrik om konsekwent in jou beleggingsbenadering te wees. Praat met jou adviseur wat jou kan help om jou portefeulje te wysig om tred te hou met woelinge soos inflasie en hoë rentekoerse. ʼn Goed gediversifiseerde portefeulje kan help dat jou beleggings inflasie uitpresteer.”

Rentekoersverhogings raak beleggers positief en negatief. Mense met beleggings en geld in die bank word positief hierdeur geraak terwyl ’n verhoging in rentekoerse oor die algemeen negatief vir aandele is.

“Met hoër rentekoerse word alles duurder en kan dit tot gevolg hê dat mense meer geld uit beleggings onttrek om by te hou met stygende lewenskoste,” sê Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PersHeks ·

Wat op aarde gaan van ons word!! Wat doen ‘n mens as jy net nie meer het nie??

Wielspore ·

Ons wou ‘n motor koop totdat ek sien wat die impak van die stygende rentkoers is, nou moet ons maar vir eers sonder die motor oor die weg kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.