Inflasie styg wéér

(Foto: Unsplash)

Inflasie is steeds aan’t styg.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag gesê jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie tot 5,6% van onderskeidelik 5,3% in Januarie en 5,1% in Desember gestyg.

Die katogorieë behuising en nutsdienste, diverse goedere en dienste (veral versekering), kos, nie-alkoholiese drankies en vervoer is grootliks verantwoordelik vir die jongste styging.

Volgens StatsSA het ʼn maand-tot-maand-styging van 10,3% in mediesefondspremies die jaarlikse koers vir gesondheidsversekering tot 12,9% laat styg.

Premies vir alle soorte versekering het die afgelope jaar met 9,5% gestyg.

Inflasie wat kos en nie-alkoholiese drankies betref, het in Februarie tot 6,1% verlangsaam. StatsSA sê die meeste kategorieë het laer jaarlikse tariewe aangeteken, buiten warm drankies en olies en vette.

Die koers vir warm drankies is aangedryf deur jaarlikse prysstygings vir kitskoffie (+12,1%), swart tee (+10,1%) en rooibostee (+8,1%).

Die koers vir olies en vette het in negatiewe gebied gebly, hoofsaaklik weens ʼn jaarlikse daling van 12,9% in die prys van sonneblomolie. Die prysdaling het egter nie vir grondboontjiebotter gegeld nie. Dié gewilde produk is 14% duurder vergeleke met ʼn jaar gelede.

Die voortslepende uitwerking van stygende eierpryse raak ook tans die kategorie melk, eiers en kaas. Eiers is 30,7% duurder as ʼn jaar gelede.

Hoewel die huidige gemiddelde prys van ʼn halfdosyn eiers (R25,48) effens laer is as in Desember toe die prys ʼn hoogtepunt van R25,85 bereik het, is dit steeds hoër as in Februarie verlede jaar (R21,13).

Verskeie brood- en graanprodukte is egter goedkoper as ʼn jaar gelede: broodmeel (-5,7%), beskuit (-2,7%), klaargemengde meel (-2,2%), pasta (-2,1%) en macaroni (-0,5%).

Die vervoerkategorie het ʼn jaarlikse styging van 5,4% aangemeld. Die styging word grootliks aan hoër voertuig- en brandstofpryse toegeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Papsak ·

Ag niks is meer reg in SA nie daar die antw met hierdie hoeeeee petrol pryse van hulle daarom skiet alles die hoogte in kan nie meer by bly nie goed net al hoe duurder !!!!!!

Ryan ·

Maar natuurlik sal dit styg. Elektrisiteit styg , brandstof styg, swak Rand, ens, en dit veroorsaak dat alle ander goedere se pryse moet styg.

Saartjievandiebosveld ·

My medies het met 20% gestyg…Al die Ander goed met 10%
Weet nie hoe gaan ‘n mens kop bo water Hou nie.

Heidi ·

En dan stuur HR vir jou ‘n epos, jammer geen verhogings die jaar nie. Kan ek dit vir die eienaar van die woonstel stuur of waar sny ons nog meer geld net om ons huur te betaal?

Pinoccio ·

Die persentasies wat hier is is min teenoor dit wat op die winkelrak is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.