‘Informant’ op moordtoneel vas

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn man wat hom as informant voorgedoen het op ʼn misdaadtoneel in hegtenis geneem op aanklag van moord.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes was op die toneel van ʼn moord in Ntshongeni naby Scottburgh. ʼn Man op die toneel het hom as informant voorgedoen en met polisiebeamptes gestaan en gesels. Polisiebeamptes het egter agterdogtig geraak en die man is in hegtenis geneem nog voordat die liggaam van die toneel verwyder is.

Volgens Naicker het die polisie nog drie verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord. Daar is ook op gesteelde eiendom beslag gelê. Die wapen wat glo vir die moord gebruik is, is in een van die verdagtes se besit gevind. Die vier verdagtes sal na verwagting Maandag in die Scottburgh-landdroshof verskyn op aanklag van moord, kwaadwillige saakbeskadiging en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Naicker het gesê die mans word daarvan beskuldig dat hulle vroeg Donderdagoggend ʼn huis in Ntshongeni se vensters beskadig het. ʼn Vrou in die huis het glo wakker geword en haar seun uitgestuur om ondersoek in te stel. Die vrou het geweerskote gehoor. Sy het kort hierna na haar seun begin soek maar sonder sukses.

Sandile Mzizi (28) se liggaam is later in ʼn ravyn naby die Amahlongwa-rivier gevind. Hy is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.