Ingang by Voortrekkermonument weer oopgestel

Die ingang van die Voortrekkermonument Donderdagoggend. (Foto: Verskaf)

Die ingang na die Voortrekkermonument by Eeufeesweg in Groenkloof, Pretoria, is Donderdagmiddag oopgestel nadat dit vroeër die dag gedurende ʼn betoging met brandende buitebande versper was.

Geraldine Paulsen, kommunikasiebeampte by die Voortrekkermonument, het die stand van sake aan Maroela Media bevestig.

“Die pad is weer oopgestel en die betogers is uitmekaar omdat hulle die reëls van die staking oortree het,” het Paulsen verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig talle motors asook ʼn toerbus moes vanoggend omdraai toe werkers van die Voortrekkermonument se skoonmaak-, tuin- en sekuriteitsdienste tot protesaksie oorgegaan het oor ʼn loongeskil.

Dié werkers het Dinsdag ʼn kennisgewing van staking by die bestuur van die Voortrekkermonument ingedien met slegs twee dae kennisgewing. Die staking is toe goedgekeur op voorwaarde dat dit vandag sou geskied en dat niks gebrand of geplunder word gedurende die betoging nie. Dié voorwaarde is egter vroegoggend verbreek toe buitebande aan die brand gesteek en die ingang na die monument geplunder is.

Luidens ʼn verklaring deur die Voortrekkermonument wat sedertdien uitgereik is, “is dit [die protesaksie] van stapel gestuur omdat daar nie ná onderhandelings tot ʼn vergelyk gekom kon word oor minimum salarisse nie”.

ʼn Eerste ronde onderhandelings het op 26 Februarie ná afloop van ʼn direksievergadering plaasgevind waartydens ʼn salarisverhoging van 6% goedgekeur is. Die werkers het egter op ʼn minimum salaris van R7 500 per maand aangedring met die salarisskaal wat in dié stadium R4 000 per maand bedra. “Die voorgestelde salarisverhoging sou dus 87,5% wees wat totaal onhaalbaar en onbillik is,” lui die verklaring.

Volgens die monument bepaal die Arbeidswet ook dat werknemers minstens sewe dae kennis moet gee vóór hulle begin staak, maar die bestuur van die monument het die stakingskennisgewing slegs twee dae voor die beplande protesaksie ontvang.

Mapula Rikhotso, kommunikasiebeampte by die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die protesaksie gestaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

Gaan die skade van hulle verhaal word?

remondo

En So is n toerbus weggedraai … die beeld van die land weer geklap met n plank -mooiso ouens hou so aan binnekort is die toerisme bedryf daarmee heen..

willem botha

Hoekom kry julle nie die seuns wat huidiglik benadeel is om die werk te doen nie ,volgende week is malema dalk in beheer dan soek hulle dubbel die salaris of hulle brand weer iets

wonder

Daar is so baie mense daar buite wat sonder werk sit en maar te dankbaar sal wees vir R4000. per maand dank almal af wat staak en stel die mense wat wil werk aan so manklik soos dit.

Jr

Hierdie is nie die einde maar net die begin. Maak gereed want dis weer ń aanval op Afrikaans en ons geskiedenis.