Ingewandskoors: Drie gevalle in Wes-Kaap aangemeld

Argieffoto

Argieffoto

Drie nuwe gevalle van ingewandskoors (buiktifus) is Donderdag in die Wes-Kaap aangemeld, slegs ʼn paar dae ná twee nuwe gevalle in Gauteng van dié aansteeklike siekte bevestig is.

Emmerentia Cupido, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê twee jong meisies, onderskeidelik nege en tien jaar oud, is met ingewandskoors gediagnoseer.

ʼn 52-jarige man word ook gemonitor nadat toetse aangedui het dat hy ingewandskoors het.

“Die twee meisies is van Kaapstad metropolitaanse gebied en die man is van die Kaapse Wynlande,” het Cupido verduidelik. Sy het gesê die bron van die bakterie word nog ondersoek en die pasiënte ontvang behandeling. “Ons het nog nie in hierdie stadium inligting waar die persone gereis het nie, so ons probeer bepaal hoe hulle besmet is.”

Maroela Media het vroeër berig die departement van gesondheid in Gauteng het twee nuwe gevalle by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal in Pretoria bevestig.

Die departement het vroeër vier gevalle by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal en Edenvale-distrikshospitaal bevestig. Een persoon is op 17 Januarie by die Charlotte Maxeke-hospitaal oorlede.

Simptome van ingewandskoors sluit hoë koors, hoofpyn, gewrigspyn, en abdominale ongemak en soms vomering in. Ingewandskoors is hoogs aansteeklik en word versprei deur besmette kos en water in te neem. Dit kom algemeen in gemeenskappe voor waar daar nie voldoende sanitasie is nie. Swak persoonlike higiëne bevorder ook die verspreiding van die siekte. Dit is veral belangrik om hande te was voor kos voorberei word.

Lees alle vorige gevalle oor ingewandskoors op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DPJ ·

Dit is vreemd dat dit juis in akademiese hospitale voorkom.
Streng maatreël sal nou toe gepas moet word.

MissDemeanor ·

Ek dink dit is so omdat akademiese hospitale juis instaat is om dit te identifiseer. Ek dink die ander hospitale het nie ‘n idee wat gebeur nie en dus weet hul nie dat hul dit ook het nie. Die mensdom is besig om die stryd teen bakterie te verloor terselfdertyd. Daar is in die afgelope 20 jaar minder as ‘n handvol antibiotikums ontwikkel, en bakteriee toon weerstand vinniger as wat ons mee kan byhou. Ons moet ophou om antibiotika te misbruik, en ons moet ook eerder net ons hande was met seep en water, nie Dettol seep nie, want seep en wayer maak ook bakteriee dood, Dettol maak hul sterker.

Hannelize ·

Wonder nou net…
Ek het permanent 90% van die tyd die simptome… Wat doen ek nou? Hardloop ek nou elke keer dr toe sodra ek ‘n hoofpyn gry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.