Ingewandskoors: Kraanwater is veilig, bevestig Nios

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska/Pixabay)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) neem kennis van plaaslike uitbrekings van ingewandskoors in die Wes-Kaap en Noordwes.

Ingewandskoors (ook bekend as buiktifus, wat egter verwarring skep deurdat dit soos ‘n onverwante siekte Tifus klink) is ‘n siekte wat veroorsaak word deur die bakterium Salmonella typhii.

“Tydens 2020 en 2021, alhoewel die getal gevalle van ingewandskoors soortgelyk is aan vorige jare (83 gevalle in 2020 en 110 gevalle in 2021), was daar ʼn relatiewe toename in die getal gevalle wat in die Wes-Kaap en Noordwes aangemeld is,” sê Nios in ʼn verklaring.

Die getal gevalle van ingewandskoors in Suid-Afrika het oor die afgelope paar dekades afgeneem en groot uitbrekings kom nie algemeen voor nie. Die mees onlangse groot uitbreking was in 2005 in Delmas met meer as 2 900 gevalle.

Ná die uitbreking in Delmas, bly die getal gevalle van ingewandskoors in die land redelik stabiel op minder as 150 gevalle per jaar (ʼn gemiddeld van 97 gevalle per jaar).

Deur genoom-volgordebepaling (WGS)-analise van S. Typhi is klein plaaslike uitbrekings weens verskillende variante waargeneem wat verantwoordelik is vir die toename in gevalle in Noordwes en die Wes-Kaap.

In die Wes-Kaap was daar drie klusters, elkeen in ʼn verskillende distrik (Kaapstad-metro, Kaapse Wynlande en die Tuinroete) en in Noordwes is daar ʼn kluster in die Dr Kenneth Kaunda-distrik. “Alhoewel die eerste gevalle in al vier klusters in 2020 voorgekom het, is die teenwoordigheid van die onderskeie klusters in die verskillende distrikte eers in 2021 onderskei toe bykomende gevalle daaraan gekoppel kon word.

Klusters van S. Typhi in Suid-Afrika, Januarie 2020 – Januarie 2022:

ProvinsieDistrikGetal gevalleDatum van eerste gevalDatum van jongste geval
Wes-KaapStad Kaapstad14November 2020Januarie 2022
Wes-KaapKaapse Wynlande11Julie 2020Mei 2021
Wes-KaapTuinroete12Augustus 2020Desember 2021
NoordwesDr Kenneth Kaunda16November 2020Desember 2021

Die betrokke provinsiale en distriksdepartemente van gesondheid is bewus van die klusters en ʼn ondersoek oor die uitbrekings duur voort.

“Dit is hoogs onwaarskynlik dat besmette munisipale water die bron is van infeksie vir enige van die klusters, weens die demografie van die gevalle (ouderdom, tipe woning, bron van drinkwater en toegang tot sanitasie) en die skaal daarvan (elke kluster het minder as 20 gevalle oor ʼn periode van twee jaar). Dit is waarskynlik dat dit eerder ʼn ingewikkelde oordrag is binne die onderskeie gemeenskappe – hoofsaaklik weens gevalle wat nie opgemerk is nie of draers van die siekte. Dit is dus ʼn uitdaging om presies die bron binne gemeenskappe te bepaal. Gesondheidsorgwerkers landswyd moet meer bewus wees van ingewandskoors, sodat gevalle opgespoor en behoorlik behandel kan word.”

Simptome

Ingewandskoors kom wêreldwyd algemeen voor en word versprei deur water of voedsel wat besmet is met die ontlasting van ‘n persoon wat daarmee aangesteek is. Na ‘n persoon aangesteek het, kry hy simptome wat insluit ‘n hoë koors, moegheid, hoofpyn, ernstige diarree en maagkrampe.

Antibiotika word algemeen ingespan om ingewandskoors te behandel en meeste pasiënte herstel sonder komplikasies.

As ingewandskoors nie behandel word nie, kan dit aangaan vir drie weke tot ‘n maand. Sterfgevalle kom voor in tussen 10% tot 30% van onbehandelde gevalle.

Die siekte word gewoonlik verbind met ʼn gebrek aan skoon water en swak higiëne.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ontwikkel tussen 11 miljoen en 20 miljoen mense jaarliks ingewandskoors en tussen 128 000 en 161 000 mense sterf.

Kinders tussen vyf en 15 staan gewoonlik die hoogste risiko om ingewandskoors op te doen.

Selfs wanneer ʼn persoon se simptome opgeklaar het, en hulle behandeling voltooi het, kan hulle steeds draers wees van die bakterie.

Voorkoming en behandeling van ingewandskoors

Voorkomingsmaatreëls vir die publiek sluit in:

  • Handhigiëne: Was jou hande met seep en water voor jy kos behandel of eet en ná jy die toilet gebruik of ʼn baba se luier omgeruil het.
  • Kosveiligheid: Volg die WGO se stappe: hou kos skoon; hou rou en gekookte kos afsonderlik van mekaar; kook kos deeglik; hou kos teen veilige temperature; gebruik veilige water en rou materiaal.
  • Gebruik veilige water: As mense besorg is oor die gehalte van die water wat hulle gebruik om te kook of te drink, word daar voorgestel dat die water eers gekook word (plaas water in ʼn skoon houer en kook vir een minuut lank) of behandel dit met huishoudelike bleikmiddel (voeg een teelepel van huishoudelike bleikmiddel met 5% chloor) by elke 20 – 25 liter water; meng goed en laat staan vir minstens 30 minute voor gebruik).

Verskeie maatreëls kan ingestel word om ingewandskoors te voorkom en te beheer. Dit sluit in:

  • Water en sanitasie-infrastruktuur: Veilige drinkwater en verbeterde sanitasie
  • Openbare gesondheid: Korrekte diagnose en behandeling van gevalle
  • Voedselveiligheid
  • Opvoeding: Handewas en kosveiligheids-praktyke
  • Inenting: Die WGO beveel aan dat lande met ʼn hoë las van gevalle of antibiotika-weerstandigheid inentingsprogramme bekendstel.

Getal ingewandskoors-gevalle in Suid-Afrika (1 Januarie 2003 – 14 Februarie 2022):

Oor die afgelope dekade (sedert 2012) het Gauteng gewoonlik die meeste gevalle aangemeld, gevolg deur die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Hoe het ons gedink? Gedink ons kan maar ons kosbare waterbronne op ‘n ongekende skaal besoedel, solank daar net skoon water is om te drink? Hierdie misdadigers in beheer sal maar verantwoordelikheid moet neem vir die uitbraak van Ingewandskoors en Cholera wat binnekort ons land gaan tref, hoor my lied!!

VaalDonkie ·

Sorry maar ek het lankal my respek vir NIOS verloor en daarmee saam my vertroue in hulle. Maar anyway, sal maar my water kook vir so paar dae en kyk wat gebeur.

Owlie ·

Hoe moet enige men’s enige iets wat gesondheid, eerlikheid, kwaliteit aan betref vertrou word in hierdie wêreld Dis nou al oor en oor bewys dat leierskap, plundering, bedrog, geleerdheid, siektes, hygiene en zo jan ons aangaan verdkonings us om vrese aan te haag en geld te maak Ons water is nie skoon of enigsens higienies nie – jy dien dit, ruik dit, proe dit Gaan kyk hietjie na jou ketel (elektries, gas, stoof, vuur) hoe gou is daar aanpaksels onder in jou ketel. Tap kraanwater in n kasttol en kook dit op die stoof en kyk watse afsaksels dry daarin rond en kook weg, kyk soms hoe wit vuil is water wanneer jy jou kraan oopdraai – gaan kyk hoe dikwels word areas wat water uit water tanks kry se tanks werklik skoon gemaak MAAR ONS WATER IS SKOON SUIWER VEILIG BLA BLA BLA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.