Ingrypende besluit oor drank in Matie-koshuise

(Argieffoto)

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch het beslis dat geen alkohol voortaan op die perseel van enige universiteitskoshuis verkoop of verskaf mag word nie.

Pieter Kloppers, direkteur van die sentrum van studentegemeenskappe, het gesê daar was ook ʼn verdere versoek van Studentesake om die gebruik van alkohol in en op die perseel van universiteitsakkommodasie tydelik te beëindig, terwyl daar oor reëlings ooreengekom word wat die gebruik van alkohol daar sal reguleer.

“Die bepalings in die koshuisreëls wat tans toestemming tot verbruik van alkohol reël, het oor tyd heen probleme begin veroorsaak. Dit is gepas dat daar in die lig van die US-bestuur se besluit ook aandag gegee word aan die aanpassing van die reëlings in verband met gebruik om daarmee die kultuur van drankgebruik soos dit tans neerslag vind, positief te beïnvloed,” het Kloppers in ʼn verklaring gesê.

“In die proses sal die hantering van alkohol in universiteitsakkommodasie op ander universiteite se kampusse ook in ag geneem word. Die meeste universiteite laat nie drankverbruik in koshuise toe nie.”

Verskeie US-koshuise het klein kroegies wat grootliks tydens spesiale geleenthede gebruik word.

Leandró Hopley, ʼn B Com-student aan die universiteit en inwoner van Huis Visser, is vroeër vanjaar dood nadat sy lewensondersteunende toerusting afgeskakel is. Luidens berigte was Hopley moontlik deel van ʼn drinkspeletjie wat gespeel is en het hy ophou asemhaal.

In nóg ʼn voorval is Anzel Slimmers ernstig beseer toe hy glo by ʼn venster van die Huis Marais-manskoshuis uitgeval het. Slimmers was nie ʼn inwoner van die koshuis nie en het ʼn vriend daar besoek.

Robert Kucera, ʼn HK-lid van Dagbreek-manskoshuis, het gesê die sogenaamde drinkkultuur is wél ʼn kwessie wat met mening by die universiteit gepak behoort te word. Hy glo egter nie dié besluit is ʼn stap in die regte rigting nie en sê dit gaan drankgebruik bes moontlik net ondergronds dryf.

“Ek dink ʼn kampuswye verbod is ʼn oorvereenvoudigde en kortsigtige oplossing vanaf bestuurskant,” het Kucera gesê.

“ʼn Drankverbod werk nie, dit gaan nie die drinkkultuur verminder nie. Ons is nie gelukkig met die besluit nie: Nie omdat ons nie kan drank gebruik nie, maar omdat pogings om die kultuur van drankmisbruik te pak nou onder die mat gevee word.”

Kucera het gesê daar moet oor die kultuur wat oor die jare toegelaat is om in veral manskoshuise by die universiteit pos te vat, herbesin word. “Daar was ʼn houding [van die US-bestuur] dat koshuise gelaat is om te maak wat hulle wil en dat die bestuur van die koshuise in die hande van studenteleiers gelaat is.

“Nóú, wanneer ʼn groot besluit gemaak word, veto hulle alles.”

Kucera meen die universiteit behoort ook nouer betrokke te wees by koshuise.

Hugo Kirchner, primarius van die Helshoogte-manskoshuis, stem ook nie saam met ʼn algehele verbod nie, maar verwelkom óók planne om werk te maak van drankmisbruik. “Die probleem is nie ʼn onskuldige bier op die dek of in ʼn kamer saam met ʼn pêl nie, dit is die gevalle waar dit handuit ruk,” het hy gesê.

Hy het gesê ʼn vorm van regulering kan moontlik help om die probleem hok te slaan. Soos wat daar toegewysde rookareas is, kan dieselfde beginsel moontlik geld vir plekke waar studente toegelaat word om ʼn drankie te drink.

Kirchner het gesê dit is ʼn emosionele kwessie wat behoorlik deurgetrap moet word en dat gesprekke tussen die universiteitsbestuur en studentegemeenskappe deurslaggewend gaan wees om die probleem te pak.

Die universiteit het voorts in sy verklaring gesê al die stappe wat gevolg moet word vir ʼn reëlverandering is nog nie gedoen nie. Dit is egter die verwagting dat dit wel in die nabye toekoms afgehandel sal word en tot die nodige reëlverandering met ingang van 2020 sal lei, het die verklaring gelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Judge Dredd ·

Goeie nuus vir die voormalige bierdrinkers is dat hulle nogsteeds dieselfde aantal koolhidrade kan inkry deur 2 snye brood te eet vir elke bier wat gedrink sou word.
Eet daai brood boyz!!

Bottelbek ·

Onskuldige bier , hy sluit net die deur oop. Ek weet en niemand kan se ek is in beheer nie . Ons dink net so tot dat ons nie meet in beheer is nie en dan is ons net meer “persistent ” dat ons in beheer is. Wonder of staatskaping of die bottel ons land die vinnigste vernietig .

Maar dan se ons , bottel in die hand om die wereld se skerp kant weg te keer..

Lollie ·

My mening is dat hulle drank totaal verbied. Hulle is daar om te leer en om vir hulle ń toekoms te bou. Daar is beslis ander maniere om lekker te kuier. As jy nie kan kuier sonder ń drankie nie dan weet jy nie hoe om te kuier nie.
Los die drank totdat jy klaar geleer het en jy ‘volwasse’ is. Duidelik dat vele van hulle nie volwasse is nie en met ń dankie het hulle baie vriende, is baie slim en sterk.
Stenig my maar maar elkeen het sy eie opinie.

Madeleine ·

Skokkend dat die reel NOU EERS inkom. Maar ten minste is daar nou sulke reels.

Maans ·

Ons ou volkie het ongelukkig te veel begin steun op die bottel en drank misbruik is erg. Selfs by normale vleisbraai van vriende kan jy dit altyd waarneem.

Maans ·

Ons ou volkie het ongelukkig te veel begin steun op die bottel en drank misbruik is erg. Selfs by normale vleisbraai van vriende kan jy dit altyd waarneem.

marous ·

Was daar ooit klein drank lisensies vir die klein kroegies ?

humor ·

Lollie jy se hom reg. Was al my studiejare in koshuise waarin drank totaal verbied is en daar was nooit beswaar teen die verbod nie. AS hy dan wil gaan drink laat hy iewers in n kroeg gaan drink en as hy hom dan nie kan gedra nie dan is word geskors en klaar, Tyd dat ons weer dissipline terugkry .

Swanna ·

Die “NUWE SUID AFRIKANRES” soos julle dit wil noem kan nie hul drank hanteer nie en weet nie waar die brieke is nie. Hulle sê mos die “eerste en die laaste een is sleg”

Vaalseun ·

Wat is nou die probleem? Is Stellenbosch dan nie ook die drank- en tabakhoofstad van Suid-Afrika nie?
Afrikaans is klaar verbied; nou drank; netnou dagga ook nog!
Al wat vir die arme studente gaan oorbly is studeer, sport en dans. Dis darem erg!
Gelukkig is Tollies en Aandklas darem nog daar.

RP ·

Totaal en al puntloos en onprakties. As daar nie in die koshuis gedrink gaan word nie dan gaan daar in n kroeg of in iemand se woonstel gedrink word. So eenvoudig soos dit. En natuurlik is dit veiliger om in n kroeg te drink as in jou eie kamer…

Francois le Cochon ·

Maak soos in Amerika, geen drankverkope aan onder 21-gis nie.

Kiskar ·

‘n Universiteit is ‘n fontein van kennis waar studente bymekaarkom om te drink :-)

JAGERMEISTER ·

Toe word ons Dors
My oupa was n baie wyse man hy het gese die een roep die ander een en dit is waar die probleem le

Nee wat kerels leer eers maar n bietjie die voggies sal nerens heen gaan

Groete

Catherine ·

Ons was nooit toegelaat om op U. S te drink nie. Miskien sal dit help dat al die nare goed wat ons hoor daar gebeur , iets van die verlede sal wees.

JohanR ·

As jy wil suip dan gaan suip by ‘n kroeg. ‘n Koshuis is ‘n koshuis, en ‘n kroeg is ‘n kroeg……and the two shall not meet. Dis hoekom hulle by vensters uitval……gesuip!

Toubs ·

Ek wonder altyd of die sulkes by hul ouers se huis so leer drink het en of dit hul ouers se goedkeuring wegdra.

Christa ·

Moes van begin af nie drank toe gelaat het nie. Hulle is daar Om te leer en nie te suip nie. Hulle Kan in dorp Gaan suip.

Attie ·

Die Pinotage-klub van S’Bosch moet maar die klomp drinkebroers oornooi om hul te troos.

skurweberg ·

Waarom is daar nou drankmisbruik op die kampus. Daar was nooit so’n probleem nie?

Johan ·

Helle wil die stedente se drankies wegvat? Disj vreesjlik. Hik!

Jan ·

So om in die kroeg op die dorp te gaan drink en dan huistoe te bestuur is nou hoe julle dit wil he?
Die wat op UN is weet dat na die eerste span se game laat loop ons. Vat so keel! Maatjies nou val ons maar by kar vensters uit… en dit omdat ons nie by die “huis” mag uithaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.