Ingryping by Mangaung-munisipaliteit

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

Die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein) moet onder administrasie geplaas word.

David Masondo, adjunkminister van finansies, het die opdrag aan Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, gegee by wyse van ’n brief waarin hy die swak toestand van die munisipaliteit uiteensit.

Die uitvoerende raad van die Vrystaatse provinsiale regering het in reaksie hierop Donderdag ’n vergadering onder Ntombela se leiding belê waartydens daar besluit is om verteenwoordigers aan te stel wat die nodige oorsig van ’n herstelplan by die metro sal verskaf.

Tiisetso Makhele, woordvoerder van die premier, verduidelik in ’n verklaring dat Mangaung as  metro ’n finansieel nie-afgevaardigde munisipaliteit is en dus verplig word om finansiële verslae aan die nasionale tesourie voor te lê.

Makhele bevestig in die verklaring dat die adjunkminister van finansies nou sy kommer in ’n brief aan die premier uitgespreek het oor die fiskale vermoëns van die munisipaliteit.

Luidens die verklaring het die raad verneem dat die Mangaung-metro ’n ongefinansierde begroting vir die boekjare 2018-’19 en 2019-’20 goedgekeur het. Mangaung se invorderingskoers vir die boekjaar 2017-’18 staan ook op 81% – aansienlik laer as die norm van 95%.

Daar is ook opgemerk dat daar ’n onderbesteding van voorwaardelike toelaes by die munisipaliteit is en dat die metro met ’n finansiële tekort bedryf word. Die munisipaliteit word deur ernstige finansiële risiko’s in die gesig gestaar.

Die raad het gedurende die vergadering ook die Vrystaatse departement van ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake se besluit verwelkom om die Bloemfonteinse dieretuin tydelik te sluit.

“Dit was uiters belangrik dat ons hierdie vergadering hou, ’n besluit neem en die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit red. Ons is vol vertroue dat hierdie besluit beter resultate vir die stad en sy burgers sal lewer,” het Ntombela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marietjie ·

Onder Administrasie het vir ons dorp niks beteken nie. Die eerste administrator is aangestel. Hy het gesê hy sal die dorp omkeer en hy het maar op sy kop gedraai. Alles het verder verval. Toe word n tweede aangestel nou het Eskom ons krag gesny so nou is ons dorp nog verder in sy moer. Sy stoel het nou te warm geword nou is hy ook oppad uit. Dis die definisie van onder administrasie plaas. Sterkte Bloemfontein. Ons het al ‘n voorsmaak gekry.

Chris ·

Binnekort is die hele land onder administrasie of besigheidsredding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.