Ingryping by nóg ʼn kwarantynfasiliteit gevra

(Foto: Jackson Jost/Unsplash)

Die burgerregtegroep AfriForum het ʼn dringende prokureursbrief aan die owerhede gerig namens ʼn  groep Suid-Afrikaners wat tans in die Peermont Metcourt Hotel by Emperors Palace in kwarantyn is.

Volgens die organisasie is die groep meegedeel dat hulle die volgende 14 dae in kwarantyn in die hotel moet deurbring ten spyte van regulasies wat verlede week aangekondig is wat die opsie van selfisolasie moontlik maak.

Sue-Ann de Wet, AfriForum se bestuurder van diasporaskakeling, het gesê die groep het ernstige klagtes oor die toestande in die hotel.

Hulle vra om toegelaat te word om self te isoleer, of indien hulle verkies om in kwarantyn in ’n staatsfasiliteit te bly, dat hulle in ’n fasiliteit gehuisves word wat aan die nodige veiligheid- en higiëniese standaarde voldoen.

Daar was vantevore ook al klagtes oor dié spesifieke hotel se kwarantyngeriewe.

De Wet sê klagtes sluit in vuil kamers en beddegoed, ʼn gebrek aan skoonmaakmateriaal, bloedvlekke op die linne, insekte in beddens en onreëlmatige etevoorsiening waarvan die gehalte boonop betwyfel word.

Ingevolge die nuwe regulasies kan mense wat Suid-Afrika binnekom toestemming vra om 14 dae selfkwarantyn toe te pas indien daar aan sekere kriteria, soos vervat in die regulasies, voldoen word.

Sommige van die uiters streng voorwaardes sluit in dat die betrokke persoon se werkgewer ʼn geskrewe aansoek ten minste 72 uur voor só ʼn persoon se vertrek na Suid-Afrika moet indien om die nodige toestemming te kry.

Bewys van ʼn geskikte perseel, kontakbesonderhede tydens die isolasietydperk en ʼn reisplan van die persoon in die voorafgaande 30 dae moet ook ingedien word.

Daar was die afgelope paar maande talle klagtes oor die haglike omstandighede waarin Suid-Afrikaners wat na die land teruggekeer het, in kwarantyn moes bly. In een geval het die Pretoriase hooggeregshof selfs beslis die Zithabiseni-kwarantynkamp buite Groblersdal moet sluit weens die haglike omstandighede daar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Is dit nog nie tyd om die betrokke owerhede hof toe te vat omdat hulle duidelik hul alies afvee aan die talle klagtes nie? Dit gaan mos beter werk om ʼn nie-winsgewende organisasie saam te stel wat wel die betrokke verantwoordelikhede kan nakom sonder enige selfverryking uit ons Covid-dilemmas!

Jaco ·

hoe kan wit suid afrikaners in die buiteland NOU nog steeds wil terugkom? Al die stories oor slegte behandelilng in kwarantynfasiliteite is seker nou al lankal oral bekend.
terugkom is in elk geval ‘n terugkom na n land waarvan die wiele nou BAIE VINNIG begin afval. Dis onmoontlik dat hierdie mense wat so graag wil terugkom, onbewus is van:
beurtkrag
swak of geen munisipale dienslewering
swak lae standaard onderwys waar leerders onderwysers mag aanrand
van die hoogste misdaadvlakke in die wereld
en dan natuurlik die alewige regstellende aksie en BEE. So wit mense wat so graag wil terugkom, moet maar net weet hulle velkleur is “verkeerd” om werk te kry.
Bly waar julle is mense. Ek weet dis swaar, maar in SA gaan dit 100 maal swaarder wees.

katerinadiekat ·

Al rede wat ek aan kan dink is dat daar familie lede is wat hulle vreeslik mis of bekommerd oor is. Ek kan dink aan Geen ander rede om na SA terug te keer nadat jy ontsnap het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.