Ingryping by sukkelende Mogalakwena-munisipaliteit

Argieffoto

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn proklamasie onderteken wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) magtig om beweerde korrupsie en wanadministrasie by die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo te ondersoek en om enige verliese wat die munisipaliteit gely het, te verhaal.

Dié munisipaliteit, wat Mokopane (Potgietersrus) bedien, versuim al jare om basiese dienste te lewer weens die vermorsing en wanbesteding van openbare geld. Boonop het die burgemeester, Andrina Matsemela, in Desember die trekpas gekry.

Maroela Media het vroeër berig ondanks die feit dat die munisipaliteit bankrot is, het Matsemela en haar meelopers glo in absolute weelde geleef. Sy het haarself in 2019 vir haar verjaardag bederf en ’n rojale R1,5 miljoen op ’n poeierverfpretloop vir die geleentheid uitgegee.

Sy was ook in die nuus oor die meer as R200 000 wat betaal is om ’n Mercedes-Benz C-klas vir haar te huur nadat haar vorige ampsmotor in ’n ongeluk afgeskryf is. In 2017 het sy na bewering R70 000 op ’n drie dae lange werksbesoek in Kaapstad uitgegee en in ’n vyfsterhotel tuisgegaan.

In ʼn afsonderlike ondersoek na bedrywighede by die munisipaliteit het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Oktober beslag gelê op David Kgantshi Malepa, adjunkbestuurder van tegniese dienste by die munisipaliteit, se peperduur Mercedes-Benz wat glo met gesteelde geld gekoop is.

Die proklamasie magtig die SOE om die volgende te ondersoek:

  • Ernstige wanadministrasie;
  • Onbehoorlike of onwettige optrede deur amptenare van die munisipaliteit;
  • Onwettige bewilliging van openbare fondse of bates;
  • Onwettige, onreëlmatige of nie-goedgekeurde verkrygingsprosedures, transaksies of praktyke wat verband hou met staatseiendom;
  • Opsetlike of nalatige verlies van openbare fondse of skade aan openbare bates;
  • Oortredings soos uiteengesit in die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, 2004;
  • Enige ander onwettige optrede in verband met die munisipaliteit.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, sê die VF Plus beskou die SOE se ondersoek na die Mogalakwena-munisipaliteit se aktiwiteite as ’n stap in die regte rigting. Dié party spook al die afgelope ses jaar om volgehoue druk op die regering te plaas om by dié munisipaliteit in te gryp.

“Die VF Plus sal die ondersoek noukeurig volg en toesien dat die nodige stappe, ook strafregtelik, gedoen word teen huidige en voormalige munisipale amptenare wat hulle aan korrupsie en wanadministrasie skuldig gemaak het,” sê Maritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Pragtige, lieflike berig hierdie!! Jammer dit gebeur nou eers. Mense, ek kan julle lank vermaak met hierdie klompies se totale onbevoegdheid. Dis ‘n vreeslike gesukkel hierso. Potties was eens die pêrel van Limpopo. Kom kyk nou….. Man, daar word reën op die TV vir Limpopo voorspel, dan val Eskom al weg (dis nou hier op Sterkrivier en Tinmyne se plase, weet nie elders nie). Maar hoekom moes dit SES JAAR neem om met die ondersoek te begin? Matsemela het baie stories wat rondloop (bv rakende haar vorige werk alvorens sy BURGEMEESTER gemaak is), maar dis hoorsê, so kom ons gaan… Lees meer »

Dup

As ek die regerende party was sou ek lankal my kop in skaamte laat sak het en oornag landuit gevlug het.Maar nee,die soustrein stoom lustig voort asof daar niks verkeerd is nie….

Suzette

Ek hoop werklik dat hier iets van gaan kom – wonder of daar ‘n “regrukker” aangestel gaan word?? Mangaung munisipaliteit (metro) is in net soveel gemors. Toe word daar ‘n “regrukker” aangestel en niks is nog reggeruk nie.

Jakes

Hierdie kriminele gedrag by munisipaliteite het n siekte geword want hierdie mense kom weg daarmee. Hoekom die president nie elke munisipaliteit in die land laat ondersoek nie, gaan my verstand te bowe. Hier waar ek woon is die slaggate diep genoeg om in te swem. Die burgermeester en sy maters ry ook luukse karre en die dorp lyk soos n varkhok.

Kokerboom

Politiek bly ‘n euwel en het die land al oor die afgrond gedryf. Dit moet ‘n strafbare sonde teen die mensdom verklaar word!!!