Ingryping langs Lesotho-grens verwelkom

Rolspelers is gevra vir beter samewerking tussen die wetstoepassingsowerhede van Lesotho en Suid-Afrika. (Argieffoto: Maroela Media)

Die organisasie Vrystaat Landbou (VL) het die ingryping wat beloof is om die onwettige toestroming van Lesotho-burgers in die Klaarwater-distrik te bekamp, verwelkom.

Verskeie organisasies, waaronder VL, die weermag, polisie, plaaslike landbougemeenskappe en hul eweknieë uit Lesotho het vandeesweek vergader om die voortgesette probleem te bespreek.

Sam Mashinini, LUR vir die polisie, paaie en vervoer in die provinsie, het onder andere die versekering gegee dat verskeie kwessies dadelik aandag sal kry.

Francois Wilken, president van VL, sê Mashinini het onderneem dat die hekke waardeur mense die land onwettig binnekom, toegespan sal word. Verder is besluit dat die grenspad aan die Suid-Afrikaanse kant, wat in ʼn bedenklike toestand is, geskraap gaan word om die weermag en polisie se patrollering te vergemaklik en hul reaksietyd te versnel.

“Die verbetering van die grenspad sal beter sigbaarheid teweeg bring wat ʼn vermindering in misdaadbedrywighede tot gevolg kan hê,” sê Wilken.

“Dit gaan ʼn beduidende uitwerking op verbeterde veiligheid van landbougemeenskappe in die gebied hê.”

Wilken sê Lesotho-burgers is ingelig dat hulle die land net deur ʼn internasionale grenspos mag binnekom. Hulle moet ook die nodige permitte en kontrakte van boere bekom om te verseker dat gehoor gegee word aan die Wet op Basiese Indiensneming.

Wilken sê misdaad deur sekere groepe of sindikate in die verskillende gebiede, is tot groot nadeel van mense aan albei kante van die grens. Om dié rede is gevra vir beter samewerking tussen die wetstoepassingsowerhede van Lesotho en Suid-Afrika om reaksietye op te skerp en misdadigers wat die grense oorsteek, vas te trek.

“Ons versoek landbougemeenskappe om alle misdaad aan te meld en onder die aandag van die polisie, wat saam met die weermag gesamentlike misdaadoperasies in die gebied sal beplan en van stapel stuur, te bring.”

VL hoop ook dat die LUR se ingryping vrugte sal afwerp en dat soortgelyke optrede in alle grensdorpe se landbougemeenskappe sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

teesee ·

JA!!! BOU N MUUR-DAAR WAS AL VOORHEEN HEININGS-HULLE KNIP DIT NET WEER STUKKEND-WAAROM GELD MORS -BOU MURE!!

OW ·

Dit sal ‘n sterk beton muur moet wees,want ‘n baksteen muur gaan voete kry.

Blikkantien ·

Dis nie so maklik nie. Sekere gedeeltes van Lesotho word slegs dmv. ‘n vlak rivier van SA geskei.

007 ·

Net soos Zume gesê het die treine gaan weer loop , 12 jaar gelede, en daar sal nooit weer krag onderbrekings wees nie. Neva eva again.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.