‘Ingryping nou nodig om tegniese resessie te voorkom’

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Ekonome meen dringende ingryping is nodig om ʼn tegniese resessie in die land te voorkom.

“Die afname in die derde kwartaal se BBP-groei tot -0,2% vanaf 0,5% in die tweede kwartaal was erger as verwag, met negatiewe faktore wat duidelik die positiewe oorskadu het in ʼn mate wat nie in die tydperk voorsien is nie,” sê prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Dit volg ná Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se aankondiging van die kwartaallikse syfers oor Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) in die derde kwartaal van 2023.

“Alhoewel daar ʼn tydelike verbetering in energiebeskikbaarheid in die kwartaal was, het verskeie ander sleutel hoëfrekwensie indekse reeds gewaarsku oor ʼn verlies aan ekonomiese momentum. Vyf van die tien sektore in die ekonomie het ‘n afname in BBP-groei in die derde kwartaal getoon.”

Parsons meen soortgelyke ekonomiese tendense is waarskynlik ook van toepassing om ‘n waarskynlike swak BBP-groei uitkoms in die huidige vierde kwartaal van die jaar te bepaal.

“Die afname in vaste kapitaalvorming in die derde kwartaal is ook ʼn waarskuwing. Die jaar sal waarskynlik eindig met gedempte ekonomiese aktiwiteit. Die land moet nou die moontlikheid van ‘n ‘tegniese resessie’ (twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei) teen die swak ekonomiese agtergrond van die derde kwartaal van 2023 voorkom.”

Afgesien van ander wêreldwye en plaaslike wind van voor, bly groeiverwagtinge in Suid-Afrika grootliks afhanklik aan veral die geleidelike uitfasering van beurtkrag, en ʼn hoër vlak van energiesekuriteit wat bereik moet word as wat tans die geval is. Daar is boonop nou ook knelpunte in Transnet se spoor- en hawedienste wat wye ontwrigting en swaar bykomende koste aan die ekonomie oplê.

“Hierdie toenemende infrastrukturele terugslae vereis dringende remediëring – soos die onlangse Transnet-leningswaarborg deur die nasionale tesourie – om suksesvol geïmplementeer te word om die land se groeiprestasie volgende jaar te handhaaf. Die nuutste BBP-groei syfers voeg nuwe dringendheid by die beleid- en projekaksies wat nodig is om ekonomiese groei te ondersteun.”

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê die vakbond is ook baie besorg oor die huidige ekonomiese situasie van die land, gegewe die reeds massiewe werkloosheid.

“ʼn Neiging waar agt uit tien vervaardigingsektore negatiewe groei aanmeld, is onaanvaarbaar,” sê Moyo. Volgens StatsSA het leidende bedrywe, insluitend landbou, bosbou en visserye, vervaardiging en konstruksie, almal ʼn afname in die derde kwartaal aangemeld.

“Dit was ʼn moeilike jaar vir baie burgers in ʼn land waar die werkloosheidskoers onaanvaarbaar hoog bly en inflasie en rentekoerse bly styg. Ons kan nooit armoede normaliseer of die realiteit van werkloosheid aanvaar nie. Om net rond te sit en te bly wag op die regering vir oplossings, sal dinge net vererger.”

Moyo sê die land kan maar net bly droom van ekonomiese herstel totdat daar ʼn daadwerklike aksieplan ingestel is om die hoë werkloosheidsyfer om te keer en die kragkrisis op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Net-my-opinie ·

Dis eintlik heel eenvoudig….fire die ANC! Probleem opgelos!

Deon ·

Die skrif is mos lankal aan die muur. Dit het tyd geword om die regering nou maar heeltemal te ignoreer en self te doen terwille van oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.