Inhegtenisneming van oudminister se vrou ‘onregmatig’

Norma Mngoma, vrou van oudmin. Malusi Gigaba. (Foto: Ian Landsberg African News Agency/ANA)

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag beslis die Valke se lasbrief vir die inhegtenisneming van Norma Mngoma en haar gevolglike inhegtenisneming, was onregmatig.

Mngoma, vrou van voormalige minister van finansies Malusi Gigaba, het haar tot die hof gewend nadat die Valke haar in Julie verlede jaar op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria in hegtenis geneem het.

Sy is daarvan beskuldig dat sy ʼn luukse motor wat Gigaba gery het, gekrap het.

Daar was destyds heelwat vrae oor waarom die elite-eenheid enigsins betrokke was by die saak en die eenheid het toe gesê dit vorm deel van ʼn breër ondersoek na ernstiger bewerings.

Mngoma het onder meer aangevoer haar inhegtenisneming was ʼn sogenaamde guns aan haar man.

News24 het berig die hof het vroeër gehoor Mgoma is aangekeer as deel van ʼn onregmatige plan van die Valke om beslag op haar elektroniese toestelle te lê en inhoud daarop uit te vee. Haar regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, het ook aangevoer ʼn ander motief kon dalk wees om haar te straf of ʼn les te leer omdat sy sou durf waag om haar man en sy twyfelagtige vriende te konfronteer.

Regter Cassim Sardiwalla het Donderdag Mngoma se aansoek op ʼn dringende grondslag toegestaan.

Hy het die Valke beveel om alle inligting wat onregmatig van Mngoma se toestelle verwyder is, te herstel en alle inligting wat van haar elektroniese toestelle afgelaai is, aan haar terug te besorg.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het by navraag gesê die eenheid bestudeer die uitspraak en sal later kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Juffrou ·

Ag tog, is sy óf haar ou mannetjie nou enigsins nuuswaardig! Ons stel nie belang in hulle vuil wasgoed nie.

Sarel ·

Dit gaan oor misbruik van due Spesiallis
Ondersoek Ednheid. Die mense moet azngekla word

Casper ·

Gigaba sit agter die hele storie.Die regulasies oor minderjarige kinders wat moes “unabridged”geboorte sertifikate bekom om te kan reis en alles wat daarmee gepaard gaan was gemik om te keer dat Gigaba se vrou hulle kinders landuit vat

Hennie J ·

Geen berig oor die verspotte konkelaar en sy beteuterde vroutjie is dit werd om op maroela gereflekteer te word nie. Wat wel van belang is, is dat die persone verantwoordelik vir die onwettige optrede persoonlik vir die koste daarvan verantwoordelik gehou moet word. Ongelukkig is dit klaar toegesmeer so ” You have a snowballs hope in hell!!!”

Hennie J ·

Opvolg: Toevallig het ek die beeldsending van die uitspraak gesien. Die regter is darem nou nie die voorbeeld van n regsbeampte wat sy eie uitspraak geskryf het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.