Inkatha-LP waarskynlik volgende Skoor-voorsitter

Argieffoto

Suid-Afrika kry waarskynlik eersdaags die jongste voorsitter van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge in die land se geskiedenis.

Goed ingeligte bronne het aan Maroela Media gesê die posisie is aangebied aan die 32-jarige IVP-LP Mkhuleko Hlengwa.

Hlengwa is sedert 2014 ʼn parlementslid en word wyd gereken as een van die parlement se skerpste lede. Hy het reeds gedien in Skoor, wat die parlement se belangrikste oorsigkomitee is aangesien dit oorsig uitoefen oor besteding in die hele staatsdiens – nie net enkele portefeuljes nie.

Die tradisie oor die hele Britse Statebond heen is dat die voorsitterspos van hierdie belangrike komitee aan ʼn gerespekteerde lid van die opposisie toevertrou word.

Die afgelope 14 jaar is dit beklee deur Themba Godi van die AIC, wat egter nie vanjaar tot die parlement herkies is nie.

Die DA het sy bes gedoen om die ANC te oortuig om die pos aan ʼn DA-lid, Alf Lees van Ladysmith, aan te bied, maar daarvan het kennelik dadels gekom.

Eerder gaan die eer nou die IVP en by name Hlengwa toeval. Hy is ʼn voormalige nasionale leier van die Inkatha-jeugbrigade en tans die IVP se nasionale woordvoerder.

Hlengwa is deel van die vleuel in die IVP wat ʼn sterker opposisierol vir die party sien, meer progressief is en nie graag met die ANC saamwerk nie.

Hlengwa het naby Amanzimtoti aan die KwaZulu-Natalse suidkus grootgeword. Hy is die tweede oudste seun van ʼn voormalige IVP-LP, wyle hoofman Wellington Hlengwa, en is as sodanig van die gepaste afkoms om vir ʼn leiersposisie in die IVP oorweeg te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

bloed KRUIP ook maar waar dit nie kan loop nie. Gee toe sowaar die pos eerder vir een van die ANC se rasgenote uit n opposisieparty, solank die “wit rassistiese” DA dit tog net nie kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.