Die Inkatha Vryheidsparty het ‘n ANC-wyk, wat die duikoord St Lucia insluit, net-net in ‘n naelbytstryd by die ANC afgeneem nadat die DA nie ‘n kandidaat gestel het nie.
Mtubatba wyk 6 aan die noordkus van KwaZulu-Natal sluit St. Lucia en die Dukuduku-woud in. Hoewel die kleiner stempunt, die Attie Viviers-saal in St. Lucia, altyd ‘n stewige DA-meerderheid oplewer, het die IVP in die DA se afwesigheid daarin geslaag om genoeg stemme te behaal sodat hulle die wyk kon buit.
Dit het die stryd teen die ANC dus gehelp dat die opposisiestem nie verdeel is nie.
Sifiso Vilane (IVP) het 1 193 stemme gekry teenoor 1 149 vir die ANC, 145 vir die ACDP (wat kennelik die DA-stemme getrek het wat nie IVP toe gegaan het nie), die EFF 144 stemme, die NGP 27 stemme en die APC 20 stemme.
Dit verteenwoordig ‘n swaai van 13 persentasiepunte teen die ANC sedert 2016.
Die ander tussenverkiesing van die week was in die Sol Plaatje-munisiapaliteit in die Noord-Kaap, en wel in wyk 7, wat die Vergenoeg-gebied van die township Galeshewe buite Kimberley insluit. Die ANC het die wyk baie gemaklik behou.
John Diphane (ANC) is die nuwe stadsraadslid nadat hy die EFF geklop het met 1 689 stemme teen 129. Dit verteenwoordig ‘n swaai van 16 persentasiepunte na die ANC sedert die munisipale verkiesing van 2016.