Inkomstediens betaal R2,4 miljard tydens afsondering uit

Die Covid-19-pandemie het ook ‘n enorme uitwerking op die ekonomie, met talle bedrywe wat bykans heeltemal tot stilstand gekom het. (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy het die afgelope vier dae – sedert die staat van algehele inperking in Suid-Afrika afgekondig is – reeds sowat R2,4 miljard in belasting terugbetaal.

“Suid-Afrika, soos talle ander wêreldlande, spook met die ekonomiese en gesondheidsgevolge wat uit die Covid-19-pandemie spruit. Die SAID is deeglik bewus van die verwoestende uitwerking op mense se lewens, asook die risiko vir sakeondernemings en ʼn reeds sukkelende ekonomie,” het die SAID Maandag gesê.

“Ons bly gevolglik daartoe verbind om die noodsaaklike diens wat die SAID lewer, voort te sit om dié ongunstige toestande te help teenwerk.”

Die inkomstediens sê hy handhaaf die veiligheid van sy personeel, belastingbetalers en handelaars, terwyl hy ook verseker dat die ekonomie bly funksioneer.

Die terugbetalings beloop R1,1 vir groot ondernemings, terwyl betalings aan klein-, mediumgrootte en mikro-ondernemings R1,3 miljard beloop.

“Die terugbetalings verteenwoordig ʼn enorme kontantinspuiting in die ekonomie op ʼn kritieke tydstip. Die SAID kan dit net doen as belastingbetalers en handelaars selfs tydens die afsonderingstydperk hul belastingverpligtinge nakom.”

Die SAID sê ook dit is belangrik dat ondernemings hul belastingsake in orde hou sodat hulle toegang kan kry tot die belastingverligting wat die regering ingestel het om die ekonomiese uitwerking van die Covid-19-pandemie teen te werk.

Hy sê die inkomstediens het verskeie platforms waar belastingbetalers steeds hul sake kan voortsit. Dit sluit in sy MobiApp, eFiling, e@syFile, e-pos en die SAID se inbelsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC Venter ·

En dis nie ‘n Aprilgrap nie.

Maar miskien maak Cyril of die man met die vilthoed deur die loop van die dag ‘n aankondiging oor nuwe regulasies betreffende die inperking wat van more af sal geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.