Inkomstediens hof toe oor reëls van staking

SAID-werkers wat lede is van Nehawu en die PSA staak by die inkomstediens se Alberton-kampus. (Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ʼn interim arbeidshofbevel bekom om die stakende lede van die National Education Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) en die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) te dwing om aan die stakingsreëls gehoor te gee.

Dié interdik belet stakers om te betoog op ander plekke behalwe dié wat uiteengesit is in die KVBA-stakingsreëls wat verlede jaar bepaal is.

Vakbondlede het gister begin staak by talle SAID-takke landswyd in aandrang op hoër salarisse. Die inkomstediens het die protesaksies as onwettig bestempel omdat dit plaasgevind het buite die voorafooreengekome plekke, naamlik die SAID-hoofkantoor en die Alberton-kampus.

Die inkomstediens het hom daarna tot die hof gewend om protesaksies op ander plekke stop te sit.

Die SAID en die vakbonde sal vandag weer met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vergader om formeel die stakingsreëls te bespreek en moontlik aan te pas.

Intussen is Nehawu en die PSA vasbeslote om die staking voort te sit totdat daar aan hul eise gehoor gegee word. Die PSA het gisteraand in ʼn verklaring bevraagteken hoekom die SAID gedink het dit is nodig om hof toe te gaan om seker te maak dat die stakingsreëls nagekom word.

Stakende SAID-werkers. (Foto: Leon Lestrade/African News Agency)

“Op Vrydag 22 Maart het die PSA die SAID ingelig dat die vakbond van voorneme is om gehoor te gee aan die stakingsreëls soos deur die KVBA-kommissaris bepaal. Die SAID het egter besluit om ʼn dringende aansoek te bring om seker te maak daar word aan die stakingsreëls voldoen. Die PSA sê steeds dat hy heeltemal van voorneme is om hierdie reëls na te kom. In gevalle waar protesaksies plaasgevind het buite die plekke waarop daar ooreengekom is, sal die PSA die nodige stappe doen om te verseker daar word aan die stakingsreëls gehoor gegee,” lui die verklaring.

“Onder hierdie omstandighede kan die PSA nie verstaan hoekom die SAID belastingbetalers se geld moet bestee om die howe te nader nie, aangesien alle protesaksies vreedsaam geskied het.”

Die PSA het ook beklemtoon dat die hofinterdik slegs van toepassing is op die stakingsreëls en dat die vakbonde se staking wettig is en sal voortduur.

Duisende werknemers wat lede is van onderskeidelik Nehawu en die PSA het begin staak om te eis dat ʼn 11,5% salarisverhoging aan alle werkers toegestaan word. Die inkomstediens bied 7% aan. SAID-werkers het die KVBA se bemiddelingsvoorstel van ʼn 8%-salarisverhoging vir alle werkers verwerp en sê hulle sal nie bes gee oor hul eis vir ʼn 11,5%-verhoging nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Asjas ·

Ek wonder wat sal die mense verdien as hul volgens prestasie of op kommissie basis werk?

Stem Saam ·

Ek stem volkome saam met HOU OP STAAK Die meerderheid kan nie eens die werk wat hul het doen nie of teen ‘n slakkepas. Nou staak hul oor lone. Meer geld vir minder werk. Pateties!!!

James ·

Daai man in foto het n helse rottang. Iemand gaan pak kry. Lyfstraf nou weer terug?

Jaco Engelbrecht ·

Helse Rottang (Sambok) …oortreding van “Section 5 van Dangerous Weapons Act – Act 15 of 2013”- Geen deelnemer aan n byeenkoms of demonstrasie sal in besit wees van n gevaarlike wapen soos genoem in “Dangerous Weapons Act”nie??
Ek staan om gekorrigeer te word?

diane ·

Nee dankie vir ‘n 8% verhoging???

Wat maak hulle so spesiaal of gesog?

Beeindig almal wat staak se dienste! Laat hulle by die huis gaan sit, daar is genoeg mense in SA wat wil werk.

Trol ·

As julle so ongelukkig is met julle verhoging, bedank en gaan kry dai salaris wat julle dink julle verdien. Wat moet die publiek doen wat so ongelukkig is met die swak diens wat julle lewer?

Tom ·

En dit is dieselfde mboweni wat so lekker uitgesproke is oor e-toll ( wat hy en sy kabinet chomies NIE betaal nie) wat die toelaat. As hulle nie 7 of 8% wil aanvaar nie ( 3% bo inflasie) vervang hulle met mense wat wil werk!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.