Inkomstediens maak plan met sy elektroniese dienste

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Maandag aangekondig hy sal vandeesmaand oorskuif na ʼn nuwe bediener vir sy elektroniese dienste.

Dit kom nadat die inkomstediens verlede jaar onder skoot gekom het toe daar bekend gemaak is dat die eFiling-stelsel op die rand van ineenstorting is. Die inkomstediens is daarna met ʼn verdere rooi gesig gelaat toe Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, die SAID se digitale hoof, tydens ʼn televisieonderhoud gesukkel het om basiese vrae oor die stelsel te beantwoord.

Die inkomstediens het Maandag gesê die “nuwe en betroubare platform” bied die jongste tegnologie wat beskikbaar is, en sluit ʼn hernuwing van die SAID se hardeware en sagteware in.

“Dit is deel van ons migrasie na digitale transformasie, wat na verwagting talle innoverende oplossings teweeg sal bring om aan ons mandaat te voldoen om dit maklik en veilig te maak vir ons belastingbetalers om hul verpligtinge na te kom,” het die SAID in ʼn verklaring gesê.

Tydens die migrasie sal die inkomstediens se aanlynstelsels, insluitend eFiling, die eFiling-app, die e@syFile Employer en die SAID-webtuiste, geraak word. Dié dienste sal van Vrydagmiddag (12 April) tot Dinsdagoggend (16 April) vanlyn wees terwyl dit na die nuwe bediener oorgeskuif word.

Die inkomstediens sê sy Customs Electronic Data Interchange (EDI)-poort, die hoof elektroniese kanaal wat doeane gebruik om met die SAID te kommunikeer, sal nie geraak word nie.

“SAID-kliënte word aangemoedig om alle transaksies op die stelsels te voltooi voordat die oorskakeling begin. Dringende transaksies wat tydens hierdie tydperk gedoen moet word, kan wel steeds per hand by ʼn SAID-belastingtak of doeane- en aksynstak gedoen word tydens gewone kantoorure.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries du Toit ·

Nog n verskoning om die jarelange uitbetalings te vertraag. Die skade wat hulle aan klein besighede doen net nog groter en onherstelbaar

Net ek ·

Ek het hoeveel probleme met die stelsel uit gewys tydens my diensjare. En niks is daaraan gedoen…

Jammer vir julle.

Lucky ·

Die e-filing stelsel het al in 2018 ineengestort, jy hoor niks, sien niks en kry geen kommunikasie vanaf SARS nie! Nie eens n sms of e-pos wat aandui wat jy moet inbetaal of uitkry nie. Nee wat, SARS is nou nes ESKOM.

Dries du Toit ·

Daar is hoog opgegee oor miljarde uibetalings wat SARS gaan doen. Kom ons kyk hoeveel jaar ons gaan wag voor dit gedoen word. Dit le die klein besigheid sektor totaal en al lam en lei na bankrotskappe daagliks

George in Bloem ·

Wonder of ek ooit die paar rand gaan kry wat hierdie hopelose onbevoegde spul narre my nou al twee jaar lank skuld. Is dit ooit die moeite werd om die jaar eers my opgawe in te dien? Patetiese klomp.

John ·

So ‘n oorskakeling geskied nie sommer net tjop-tjop en daar gaan ons reguit na Mars toe nie… En wie is die wizzard wat gaan oorneem? Iemand se iemand se fly by night-suster se haarkapster se kèrel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.