Inkomstediens tref voorsorg teen Covid-19 by takke, grensposte

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy het verskeie voorsorgmaatreëls ingestel om die verspreiding van Covid-19 te help hokslaan.

Suid-Afrika het in dié stadium drie bevestigde gevalle van die virus – twee in KwaZulu-Natal en een in Gauteng.

Edward Kieswetter, hoof van die SAID, sê al die inkomstediens se bedrywighede by sy kantore, takke en grensposte word normaalweg voortgesit en die voorsorgmaatreëls is in ooreenstemming met riglyne van die departement van gesondheid.

Alle SAID-takke gaan handreinigingsmiddels beskikbaar stel aan besoekers, asook verseker dat alle oppervlakke waaraan gereeld gevat word met spesiale ontsmettingsmiddels skoongehou word.

Dié handreinigers het die afgelope paar dae van winkelrakke gevlieg.

Die inkomstediens gaan ook inligting met belastingbetalers deel oor die basiese stappe wat gedoen kan word om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

“Die SAID het die afgelope paar weke persoonlike beskermingstoerusting aan doeanebeamptes by alle grensposte beskikbaar gestel. Dit sluit maskers, handskoene en handreinigers in,” het Kieswetter gesê.

Die OR Tambo-lughawe.

Amptenare van die departement van gesondheid sal saam met dié beamptes werk om reisigers by grensposte te toets. Die SAID voer ook deurlopend gesprek met sy eweknieë in buurlande oor stappe wat gedoen kan word om die verspreiding van die virus te voorkom.

“Ons boodskap aan ons werkers en belastingbetalers is om nie paniekerig te raak nie, maar hul eie gesondheid en dié van ander mense in ag te neem,” het Kieswetter gesê.

Hy het mense gevra om reise te beperk en waar moontlik nie hand te skud nie. Diegene wat verkouesimptome toon, moet liefs tuis bly.

“Ons wil alle belastingbetalers, handelaars en reisigers verseker dat die SAID saam met ander staatsdepartemente werk om op Covid-19 te reageer,” het Kieswetter gesê.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.