Inkomstediens wil staking afweer

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hoop dat vakbonde na die onderhandelingstafel sal terugkeer ten einde ʼn staking te voorkom.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) het ’n kennisgewing aan die SAID gestuur om die inkomstediens in kennis te stel dat sy lede Donderdag sal begin staak nadat ʼn ooreenkoms nie gedurende loononderhandelinge bereik kon word nie.

Die PSA, wat amper die helfte van die SAID se werknemers verteenwoordig, dring aan op ʼn salarisverhoging van 11,4%.

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het gesê die inkomstediens probeer egter steeds om ʼn staking te verhoed, maar kan nie die verhoging bekostig nie.

“Die inkomstediens bly hoopvol dat georganiseerde arbeid die werkgewer se aanbod sal aanvaar van 7% wat op  die VPI [Verbruikersprysindeks] neerkom plus 3% gegrond op die gepubliseerde inflasiekoers. Dit is ʼn baie ruim aanbod, ver bo wat ander openbare instellings en die meeste ander nywerhede aanbied,” het hy gesê.

Ivan Fredericks, hoofbestuurder van die PSA, het egter gesê die vakbonde sal nie toelaat dat die wanbestuur van openbare fondse tot ʼn afname in sy lede se voordele lei nie.

“Dit is tyd dat die minister van finansies werknemers beloon vir die voorbeeldige werk wat hulle onder uiters moeilike omstandighede doen, en eerder voorsiening maak vir ʼn voldoende begroting by die SAID, in plaas daarvan om voortdurend reddingsboeie vir staatsbeheerde ondernemings wat nie presteer nie te gee.”

Volgens Memela het die SAID versoek om volgende week met die vakbonde te vergader om ʼn ooreenkoms te probeer bereik,

Indien vakbonde op 28 Maart begin staak sal dit saam met die einde van die finansiële jaar val en kan dit belastinginvordering belemmer. Volgens Memela word daar egter gebeurlikheidsplanne getref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

marous ·

Gebeurlikheidsplanne – Sluit kantore en gaan met vakansie

George in Bloem ·

Hmmmm…….as ek sien hoe lank julle vat om my(en sekerlik derduisende ander) se geld terug te betaal is ek GLAD nie verbaas dat julle sulke belaglike en ruim offers kan maak aan mense wat te onbevoeg en lui is om hulle verdomde werk te doen nie…

Andrew ·

Ek wonder of hulle die geld het om terug te betaal. Dit word mos deur die Anc beheer.

George in Bloem ·

Alweer lekker vrygewig en vinnig om die onbevoedes te beloon met die belastingbetaler se geld.G’n wonder as ek sien hoe hulle sloer(nou al 18)maande om die paar randjies terug te betaal wat hulle my skuld.

Hendrik ·

Onthou net dis nie net inkomste kantore. Invoere word vertraag, lughawens en grensposte word ook beinvloed.

Jack Sadie ·

Laat dié wat wil staak, staak. Ons sal geen verskil sien nie. Dink mooi, as jy bekwaam is en jy is nie tevrede met jou werkgewer nie, dan soek jy ander werk. As jy te sleg is om ander werk te kry, dan staak jy! Dis nie sosialisme nie, dis bloot onbekwaamheid.

Ernst Marais ·

Staak gerus.
In plaas daarvan dat ‘n bekende politikus ‘n belasting boikot begin, laat die stelsel eerder homself tot stilstand kners.

Jean ·

Ja wat almal kerm en kla, maar wanneer voorstelle gemaak word om aksie te neem soos nie geweldadige weerstand teen die regering in die vorm van belasting boikot, dan het almal ‘n eier te lê oor allies.

Johanna ·

Ons pragtige land is in elk geval besig om die afgrond in te gaan. Gewoond daaraan dat daar geen diens meer is nie. Het seker vir hulle self gesorg vir genoeg van ons belasting geld

Diefie ·

Die arme mense leef ook maar swaar daar. Daar is nog baie goeie werkers en die publiek is ook nie die onskuldigheid vanself nie.

Bells ·

Diefie, ek wens ek kon jou ‘n Bells gee! Na 21 jaar diens by SAID wil ek huil as ek sien hoe dinge wanbestuur word. Ons gewone werkers probeer ons bes onder omstandighede. Ons kan nie help as die topbestuur ‘n klomp vrot appels is nie. Die manier hoe dinge deesdae gedoen word frustreer die lewe uit ons uit en ons is magteloos.

M ·

Te veel mense wat hulle monde uitspoel. En dis juis die mense wat nie by die staatsdiens organisasies werk nie. Daar is baie goeie mense in VAN die staatsdiens organisasies wat 3 dubbele lading werk verrig. Hulle verdien nie die belaglike salarisse wat Eskom bv verdien nie. Waar Eskom elke jaar dubbel syfer salarisse verhogings kry, kry die mense tussen 4-6 % elke jaar, terwyl medies, petrol ens drasties verhoog. Dink mooi voor julle kommentaar lewer

Ben ·

Staak gerus, julle gaan in elk geval niks het om te doen nie na hierdie rondte van “Load Shedding” nie. Rekenaars gebruik krag om finansieele state uit te werk en te druk. Eskom het met hulle growwe nalatigheid het baie skade veroorsaak. Geniet dit.

Plig om te stop ·

Dit is ons almal se morele plig om te stop tot die korruptes vervolg is anders vuur ons die sisteem wat ons gaan vernietig net aan.

Diefie ·

En so verlaat di 50+ die skip om Net pensioen te ontvangs waaroor jy kan huil. Met so n halfhartige bye en is baie bly om julle te sien gaan.

SS ·

Ek werk vir SARS al vir oor die 24 jaar, en glo my ons probeer ons bes, maar… ek kan nie veel sê nie, so julle wat so graag oordeel glo ek sal NIE n maand daar kan uithou met die daaglikse druk en stress nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.