Inkopiesentrum-kleuter: Ma tans vry, maar kind nie by haar

Die foto van die seuntjie wat op sosiale media versprei is.

Die foto van die seuntjie wat op sosiale media versprei is.

Die ma van tweejarige blondekopseuntjie wat verlede Vrydag naby The Glen-inkopiesentrum in die suide van Johannesburg gevind is, het vandeesweek in die hof verskyn.

Die ma het Maandag in die hof verskyn maar daar was egter nog nie genoeg bewyse nie en die saak is vir verdere ondersoek laat vaar. Die ma is vrygelaat.

Ao. Lorraine van Emmerik, woordvoerder van die polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê die ondersoekbeampte van die kinderbeskermingseenheid het aan die hof se vereiste voldoen en het teen Woensdag die nodige bewyse ingehandig.

“Die saak is tans by die senior staatsaanklaer, wat sal besluit wat verder gaan gebeur,” het Van Emmerik gesê. Sy het gesê die seuntjie is steeds in ʼn plek van veiligheid en is nie terug in die ma se sorg nie.

Maroela Media het vroeër berig die ma, vermoedelik 29 jaar oud, is Saterdagmiddag in The Hill in Johannesburg deur lede van die GPF gevind nadat haar familie die seuntjie geëien het.

Die seuntjie is Vrydag gevind toe lede van die gemeenskap ʼn man met die seuntjie in Vorsterrylaan in Glenanda sien stap en hom gevra waar hy die seuntjie gekry het. Hy het glo gesê hy het die kind by The Glen-inkopiesentrum gekry en is op soek na sy ouers. Die gemeenskapslede het die seuntjie teruggeneem na die sentrum en vandaar is ʼn grootskaalse soektog na sy ouers van stapel gestuur. ʼn Foto van die kind is wyd op sosiale media gedeel.
Die ma is in hegtenis geneem op aanklagte van kinderverwaarlosing.

Die ma en seun se name word weerhou om die seun se identiteit te beskerm.

Lees alle vorige berigte oor die inkopiesentrum-kleuter op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CHRISTA ·

Waarop moet hulle kommentaar lewer? Hulle wag seker dat die hof eers sy uitspraak oor die ma se bevoegdheid (kinderverwaarlosing) moet gee.

KarooKlong ·

Gaan lees die 70 kommentare hieroor in die vorige rubrieke. Die vrou was van die eerste rubriek af veroordeel en summier skuldig bevind deur sommige kommentators. PS. Wel nie deur al 70 nie.

Dave ·

Ek was nou wel nie een van die (oordrewe) 70 nie en ek twyfel of ek enige kommentaar gelewer het daar, maar wat meer interessant is, is dat jy nou dien as haar verdediger. Jy het ‘n moeilike saak om te baklei en ek dink jy gaan jou naam poppey maak. Wat voer jy aan as opening van haar verdediging?

KarooKlong ·

Dave,
Ek het eerder gedink om te wag voordat ek kommentaar lewer. Volgens my was daar nie genoeg inligting bekend om die ma te oordeel vir dit wat sy deur sommige kommentators veroordeel voor was nie. Het jy al die vorige kommentare gelees?
Die saak is nou wel vir verdere ondersoek laat vaar maar intussen is die ma vrygelaat!
Onskuldig totdat skuldig bevind word. (Deur die hof)

Dave ·

Nee Karooklong, ek het nie al die kommentare gelees maar sommige wel. Dit waarvan berig is, met toegegee karige inligting soos jy sê, skep immers geen mooi prentjie van die ma! Des te meer dui die kind se houding ook op groot vraagtekens. ‘Onskuldig totdat skuldig bevind word’ sê jy? Beteken dit dat die Indiër wie se mooi Deense vrou in ‘n taxi vermoor is, is werklik onskuldig? Dit is steeds ‘n ope vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.