Inligting oor Bela-sittings ‘was laat’

Die sitting in Tzaneen (Foto: Verskaf)

Verskeie rolspelers in die onderwyssektor is ontevrede dat hulle op die nippertjie oor die eerste openbare sittings oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (bekend as die Bela-wetsontwerp) in kennis gestel is. Boonop nadat hulle self by die parlementêre portefeuljekomitee vir onderwys – wat in beheer van die proses is – daaroor moes navraag doen.

Van die rolspelers is ook ontevrede omdat die liggings van die sittings volgens hulle nie “toeganklik vir almal is nie” omdat dit in “afgeleë” gebiede is.

Die eerste sitting het Vrydag in Thohoyandou in Limpopo plaasgevind, gevolg deur ʼn sitting Saterdag in Tzaneen en Sondag in Polokwane. Die sittings geskied elke naweek in verskillende provinsies, met drie sittings wat volgende naweek in die Vrystaat sal plaasvind.

Tydens die sittings kan enige lid van die publiek mondelinge insette oor die wysigingswetsontwerp lewer en ook skriftelike kommentaar inhandig.

Die Bela-wetsontwerp het ten doel dat skole se taal- en toelatingsbeleid deur landswette gerig word en nie deur skole se beheerliggame nie. Die regering kry sedert die aankondiging van die wetsontwerp wind van voor en verskeie rolspelers is van mening dat dit ʼn direkte aanval op Afrikaans, sowel as moedertaalonderrig is.

Rolspelers soos die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) en AfriForum het verlede week eers ná ʼn navraag aan die komitee die datums en liggings van die sittings ontvang.

Jaco Deacon (Foto: Verskaf)

Volgens Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, was Llewellyn Brown, sekretaris van die komitee, by navraag verbaas dat die inligting nie reeds aan die organisasies beskikbaar gestel is nie.

“Dit was ʼn geskarrel om alles in ʼn paar dae se tyd reg te kry vir die eerste sittings. Ons wil graag ons verteenwoordigers by al die sittings teenwoordig hê,” het Deacon gesê.

Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het hulle ʼn gebrekkige lys van datums en liggings ontvang. Datums en liggings vir die Wes-, Noord- en Oos-Kaap moet nog deurgegee word.

Of daar ʼn “politieke agenda” skuil agter die feit dat die datums laat aan “sekere rolspelers” deurgegee is, is nog nie duidelik nie, sê Deacon.

“Ek hoop van harte dat die komitee ʼn bona fide fout gemaak het om die inligting deur te gee, eerder as dat hulle inligting selektief gedeel het.”

Hy krap wel kop oor die ANC wat slaggereed was vir die sitting asof “hulle vroeër die inligting gehad het”.

Deacon het ook sy verbasing uitgespreek dat die datums nie aan die groot klok gehang is nie, gegewe die groot openbare belangstelling wat die kwessie geniet.

“Die feit dat daar nie ʼn groter bohaai oor die sittings gemaak is nie, laat ʼn vraagteken oor die proses en hoe ernstig die komitee werklik oor openbare deelname is.”

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee, sê die komitee is dankbaar vir die groot opkoms by al drie sittings in Limpopo en die gehalte van insette wat van die mense teenwoordig ontvang is.

“Die opkoms dui op die diep toewyding van die mense vir die bestaan van ʼn gehalte onderwysstelsel vir ons kinders,” sê Mbinqo-Gigaba.

‘Oorweldigende teenkanting’

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Ten spyte van die vertraagde kommunikasie oor die sittings sê Bailey die sale was die afgelope naweek tydens die sittings in Limpopo propvol, met verteenwoordigers wat oorwegend teen die beplande wetgewing gekant is.

“Meer as 17 000 van die geskrewe kommentaar wat vooraf ontvang is, bied teenstand teen die wetsontwerp. Hierdie sittings kan waarskynlik die finale spyker in die wetsontwerp se doodskis wees,” sê sy.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen juis daarom is die sittings eintlik “onnodig”.

“Die sterk begronde kommentaar wys duidelik die foute van die wetsontwerp uit. Dit gee genoeg rede om die wetsontwerp van die tafel af te vee en ʼn nuwe konsep op die tafel te plaas,” sê Buys.

Die SOS, AfriForum en DA moedig lede van die publiek wat ʼn belang by onderwys het om ten minste een van die sessies by te woon en hul teenkanting teen die konsepwet duidelik te stel.

Dié organisasies is bekommerd daaroor dat die konsepwet besluite rakende die onderrigtaal in die hande van die provinsiale hoofde van die departement van onderwys plaas.

“Nie alleen kom dit neer op onaanvaarbare toenemende magsentralisasie in die hande van die staat nie, maar dit verbreek ook die huidige samewerkingsmodel tussen die staat en skoolgemeenskappe, soos verteenwoordig deur demokraties verkose beheerliggame van skole,” meen Bailey.

Volgens Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder vir basiese onderwys, het die departement verder versuim om uitgebreide konsultasies met die tuisonderrigsektor te doen voordat regulasies opgestel is.

Hy sê die departement het ook nie daarin slaag om aandag te gee aan gemengde en aanlyn leer nie, “ten spyte van die enorme impak wat hierdie vorme van onderrig tydens die Covid-19-pandemie gehad het”.

Taal ʼn hindernis

Stephan Honiball, voorsitter van die AfriForum-tak in Tzaneen, aan die woord (Foto: Verskaf(

Volgens Mbinqo-Gigaba het diegene wat die wetsontwerp steun, die afgelope naweek beklemtoon dat skole in die stedelike gebiede in Limpopo die taalbepalingsbeleid as verskoning gebruik om sekere leerders uit te sluit. Die deelnemers het aangevoer dat die wetsontwerp in sy huidige vorm, hierdie onbehoorlike mag om leerders uit te sluit, sal verwyder.

Ander het weer gesê die wetsontwerp sal beheerliggame se vermoëns om binne ʼn redelike tyd besluite te neem belemmer.

Van die lede van die publiek voel ook dat die wetsontwerp nie melding maak van leerders met gestremdhede nie en dat klousules oor hoe die stelsel gehalte en inklusiewe onderwys aan dié leerders sal bied, bygevoeg moet word.

Die volgende stel vergaderings vind Vrydag, Saterdag en Sondag onderskeidelik in Phuthaditjhaba, Koffiefontein en Bloemfontein in die Vrystaat plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Baie, baie dankie vir elke rolspeler, belangstellende en organisasie se hulp om hierdie teë te staan.

Marthinus Johannes ·

Dis om diegene wat daarteen is uit die pad te KRY.

Harley Davidson ·

Ons moet die skole koop by die bankrot ANC en ons kinders onafhanklik opvoed in ‘n hoër selabus soos die Cambridge sisteem.Ek dink van die skole onderhou hulself met die minimum hulp van die departement, die skole kan dan besluit in watter moedertaal hulle onderrig gaan gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.