Innibos Kunstefees tot dán uitgestel

Die Standard Bank Innibos Kunstefees wat Junie in Mbombela (Nelspruit) sou plaasvind, is vir eers uitgestel tot Desember.

Die voorlopige datum vir dié nasionale fees is van 10 tot 13 Desember.

Volgens Andy Lubbe, feesdirekteur, was hulle genoop om dié besluit te neem weens die onsekerheid of openbare byeenkomste in Junie al toegelaat gaan word weens die landwye afsondering.

“Ons wil eerder nou proaktief optree en planne beraam sodat Innibos, al is dit in ’n verkorte en ietwat afgeskaalde gedaante, kan voortgaan,” sê Lubbe.

Lubbe sê geringe aanpassings sal wel aan die program gemaak moet word. Dit is grootliks omrede talle feesgangers se inkomste en moontlik verlof beperk gaan wees. “Ons glo ook feesgangers is uitgehonger vir vermaak en ontspanning. Ons gaan als in ons vermoë doen om die fees as ’n gesellige vakansie-in-die-kleine aan te bied.”

Nie net is die kunstefeeste die brood en botter van kunstenaars nie, maar ook van verwante bedrywe en tot groot ekonomiese voordeel vir die plaaslike gemeenskap.

Innibos het die afgelope paar jaar ’n ekonomiese bydrae van gemiddeld R85 miljoen vir die plaaslike gemeenskap geïn. Talle tydelike werksgeleenthede word gedurende die feestyd geskep en verskeie kleinsakeondernemings is afhanklik van die fees vir ’n noemenswaardige gedeelte van hul jaarlikse omset.

“Die pandemie is nie ’n rede om in sak en as te sit nie. Innibos sien dit as ’n uitdaging om met kreatiewe oplossings vorendag te kom, en ons is slaggereed vir ’n nommerpas kunstefees in dié buitengewone omstandighede,” sê Lubbe.

Meer besonderhede oor die program sal mettertyd bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PieterP ·

Innibos is reeds ‘n afgeskaalde gedaante niggie. Was dit nie vir die musiek saans op die hoofverhoog nie kon ek verlede jaar gerus tuis gebly het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.