Innoverende oplossings noodsaaklik vir moedertaalonderrig

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die waarde van moedertaalonderrig, veral op laerskoolvlak, is onomstootlik bewys. In die veeltalige konteks van Suid-Afrika is dit egter geen geringe uitdaging nie.

Internasionale Moedertaaldag word wêreldwyd op 21 Februarie gevier.

“Fedsas steun moedertaalonderrig in ál elf Suid-Afrika se amptelike tale,” het Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesê. “Die feit dat dit nie tans ’n werklikheid of ’n haalbare moontlikheid is nie, is een van die hoofoorsake van die land se swak onderwysprestasie.”

Deacon het gesê die meerderheid van Suid-Afrika se kinders ontvang nie onderrig in hul moedertaal nie. “Die groot uitdaging lê egter in die praktiese toepassing hiervan. Maar die feit dat dit duur is en bykomende beplanning verg, mag eenvoudig nie as verskoning gebruik word nie. Kinders het die reg op moedertaalonderrig,” het hy bygevoeg.

In ’n toespraak by Fedsas se algemene jaarvergadering verlede jaar het regter Eberhard Bertelsmann gesê innoverende oplossings moet vir Suid-Afrika se onderwysprobleme gevind word. Bertelsmann, wat allerweë beskou word as die argitek van die Suid-Afrikaanse Skolewet, het gesê dat die oplossings van skoolgemeenskappe self moet kom.

“Elke skool is ’n unieke entiteit en moet dus so hanteer word,” het Deacon verduidelik. “Die gemeenskap waarbinne ’n skool funksioneer, moet dus saamwerk om oplossings te vind wat in die beste belang van die kinders van daardie gemeenskap is. Hoe om moedertaalonderrig in daardie spesifieke gemeenskap ’n werklikheid te maak, is een van die uitdagings.”

Hy het bygevoeg Fedsas is ’n innoverende organisasie met die nodige ervaring en vermoë om saam met skoolgemeenskappe te werk om sulke oplossings te verfyn. “Dit moet egter ’n haalbare en bekostigbare oplossing vir ’n spesifieke skool wees, nie die onderwys in geheel nie. Baie van Suid-Afrika se onderwysprobleme is die gevolg van ’n enkele model wat sonder aanpassings op alle skole afgedwing word,” het hy verduidelik.

Deacon het gesê die belangrikste oorweging vir enige besluit in die onderwys is die belange van die kinders. “Moedertaalonderrig is een van daardie belange – ons as onderwysrolspelers moet dus saamwerk om dit ’n werklikheid te maak.”

(Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1900 openbare skole is reeds lid van Fedsas.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DPJ ·

As iets werk wil die Reguim dit verander na iets wat iets wat nooit kan werk nie!

Johan 2 ·

Die ander tale se grootste probleem is dat die spreulers daarvan wag vir ander om dit te ontwikkel. Afrikaners word geteiken maar is die enigste Suid Afrikaners wat hul taal ontwikkel en bewaar. Ek glo in moedertaal onderrig maar ook dat die ander tale in SA gedoem is, hul verengels eerder net om later agter te kom hoe waardevol inheemse tale (soos Afrikaans) is.

Flippie ·

Daar hoef niks innoverends gedoen te word nie. In die apartheidsjare is die swart kinders in hulle primêre moedertaal onderrig.

Die onderwystelsel moet net weer die horlosie so 25 jaar terug gedraai word. Die onderwystelsel moet dan ook sommer die ou onderwysopleidings-kolleges terug bring. Either goed gewerk.

Finland wat net 5.5 mijoen mense is doen al hul onderwys en opleiding in Fins. Alhoewel hulle ook in ‘n andertalige omgewing moet gaan werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.