Inperking: Drukgroep hof toe, eis dat Dlamini-Zuma tronk toe

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. (Foto: Siya Duda/ GCIS)

Die drukgroep Liberty Fighters Network (LFN) dien Dinsdag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in waarin hulle vra dat die nuwe aangepaste inperkingsregulasies ongrondwetlik verklaar word en dat die verpligte dra van maskers ongeldig is.

Hulle vra ook dat die hof die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, ses maande tronkstraf oplê vir minagting van ʼn vorige hofbevel.

Die klag van minagting van die hof spruit voort uit regter Norman Davis se uitspraak van 2 Junie verlede jaar waarin gedeeltes van die destydse vlak 3-inperkingsregulasies ongrondwetlik verklaar is ná ʼn aansoek wat die LFN by die hooggeregshof ingedien het.

Verlof tot appèl teen ʼn gedeelte van daardie uitspraak, wat oor die sluiting van strande, beperkings op begrafnisgangers, die beweging van kinders, die reg om te mag oefen en die oopstel van ondernemings gehandel het, is aan Dlamini-Zuma toegestaan, maar sy het nie die appèlaansoek voor die sperdatum van 11 Oktober by die appèlhof ingedien nie.

Die destydse inperkingsregulasies is wel later na vlak 1 afgeskaal, maar op 15 Desember verlede jaar is nuwe verskerpte regulasies aangekondig wat as ʼn aangepaste vlak 3-inperking beskryf is en weer die sluiting van strande ingesluit het.

(Foto: SANParke/Facebook)

In ʼn brief wat op 18 Desember aan die kantoor van die staatsadvokaat gestuur is, sê LFN dat die sluiting van strande in die Tuinroete, in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ʼn direkte oortreding van die Junie-hofbevel is en dat die minister dus aan minagting van die hof skuldig is. Sy het tot 20 Desember tyd gehad om dié beperkings op te hef wat sy nie gedoen het nie.

LFN sê in ʼn verdere brief aan dieselfde kantoor dat daar nog nooit werklik ʼn ramptoestand, soos beskryf deur die wet, bestaan het nie en vra vir bewyse dat die verpligte kriteria vir die verklaring van ʼn ramptoestand wel nagekom is.

Dit sluit in bewyse dat minstens ʼn groot aantal mense, wat beweer dat hulle deur die ramp geraak is, nie in staat is om self die nagevolge van die beweerde ramp te oorkom nie en dat hulle deur die regering bygestaan moet word.

LFN wil ook verder weet of die regering bygedra het tot die mediese koste van die meer as een miljoen beweerde positiewe Covid-19-gevalle of tot die begrafniskoste van die duisende mense in Suid-Afrika wat reeds gesterf het.

“Om te beweer dat ʼn ramp bestaan – soos jou kliënt moet weet – moet die omvang van sodanige aard wees dat dié wat na bewering deur Covid-19 geraak word nié hul eie mediese of begrafniskoste kan betaal nie,” lui LFN se brief wat deur die groep se president, Reyno de Beer, onderteken is.

(Argieffoto: Unsplash)

De Beer vra tweedens vir bevestiging dat alle toetse wat gebruik is om vir die virus te toets wel deur ʼn gekwalifiseerde geregistreerde mediese praktisyn gedoen is. Die minister moet verder ook bevestig dat die RT-PCT-toetse wat tans gebruik word om die teenwoordigheid van die SARS-CoV-2-virus te bepaal, slegs vir Covid-19 toets.

Indien dit nie die geval is nie, wil De Beer bevestiging hê dat al die gevalle waar ʼn positiewe Covid-19-resultaat verkry is, ook bykomend op ʼn ander wyse getoets is soos wat die Wêreldgesondheidsorganisasie glo voorskryf.

Min. Dlamini-Zuma ontken dat sy in minagting van die hof opgetree het terwyl die kantoor van die staatsadvokaat beweer dat die aangepaste vlak 3-regulasies nie eintlik net die ou vlak 3-regulasies is wat herleef het nie.

“Dit beteken dat elk van die spesifieke regulasies wat die hooggeregshof ongrondwetlik verklaar het nou óf herroep óf herroep en vervang is deur nuwe regulasies. Wat dus ook al die status van die hofbevel van 2 Junie is, en ongeag of dit nou ingestel is of nie, is die spesifieke regulasies wat ongrondwetlik verklaar is nie langer van krag nie,” aldus ʼn brief van die staatsadvokaat se kantoor wat verlede week aan die LFN gestuur is.

Die brief sê verder dat daar dus niks anders of meer is wat die minister moet doen om daardie bevel na te kom nie en dat daar geen voorskrifte in die wet is waarvolgens aan De Beer se versoek om inligting voldoen hoef te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronika ·

Ai mens kan maar net lag……Julle baklei teen die wind! Mens weet mos nou daar sal niks gebeur nie, hul sal aanhou solank hul al die mag het om ons in ‘n kommunistiese toestand te hou, hul geniet elke oomblik daarvan, want dis wat hul wil hê! Hul het geen begrip – net soos kommunisme werk – hul het nog al die tyd hul geld en salarisse behou, hul voel vere vir die populasie wat hul werk verloor het, teen verminderde geld moes werk solank die land in armoede gedompel is is hul in beheer en hul aanhangers dankbaar vir elke ou krummeltjie wat na hul kant kom want so hou hul als in beheer……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.