Inperking kan ekonomie finaal knak

(Argieffoto: Facebook)

Verskeie politieke partye het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verwelkom dat ʼn strenger inperking nie dadelik ingestel sal word nie. Die partye meen egter dat onmeetbare skade reeds aan die land se ekonomie gedoen is weens vorige streng inperkingsregulasies en dat die land dit bloot nie weer kan bekostig nie.

“Ons is bly dat die regering eindelik tot sy sinne gekom het en nie die ekonomie verder wil stuit nie,” sê DA-leier John Steenhuisen, wat ook verheug is dat die regering beplan om die nasionale ramptoestand binne die volgende paar maande af te skaf.

“Dit is net jammer dat duisende sakeondernemings, miljoene werksgeleenthede en miljarde rand van belastinginkomste verlore moes gaan voor die regering die impak van verdere ekonomiese beperkings besef het.”

Hoewel die DA wil wegdoen met onder andere die aandklokreël, ondersteun hy Ramaphosa se uitlatings oor die voortydige reisverbod wat talle lande teen Suid-Afrika ingestel het weens die nuwe Covid-19-variant genaamd Omikron.

Indien dié verbod oor die feestyd sal voortduur, sal ondernemings in die toerismebedryf en die groter ekonomie finaal knak, waarsku die DA.

“As die regering nie die internasionale reisverbod omgekeer kry nie en ook nie finansiële ondersteuning aan ondernemings kan verskaf nie, kan ons verwag dat die werkloosheidsyfers in die eerste kwartaal erg sal styg en dat meer mense maatskaplike toelae sal benodig.”

Die DA meen egter nou dat die regering beduidende stappe moet doen om met internasionale vennote in gesprek te tree.

Die party wil ook hê die regering moet veral daarop fokus om inentings teen Covid-19 gedurende hierdie tyd te bevorder, nie-farmaseutiese ingrypings te ondersteun en gesondheidfasiliteite gereed te maak vir ʼn moontlike styging in hospitaalopnames.

“Dit is lewensbelangrik dat inentings en die fasiliteite wat dit toedien meer geredelik beskikbaar gemaak word sodat arm en kwesbare gemeenskappe beter toegang daartoe kan kry. Mense behoort hul inenting by baie meer punte in die land as net Clicks of Dis-Chem te kry,” sê Steenhuisen.

Ramaphosa het Sondag aangekondig dat hy ʼn taakspan saamgestel het wat sal beraadslaag oor die moontlikheid om inenting teen Covid-19 verpligtend te maak vir sekere bedrywighede en plekke.

Die VF Plus dink verpligte inentings kan egter die teenoorgestelde uitwerking hê as waarop die regering hoop.

“Gedwonge inentings kan dalk nie die gewenste reaksie hê nie en eerder tot meer weerstand lei. Daarom moet inentings ʼn vrye wilsbesluit wees en goeie kommunikasie met ʼn doeltreffende veldtog om mense te oorreed en te motiveer om in te ent, sal veel eerder ʼn positiewe uitkoms bied in die stryd teen Covid-19,” sê die VF Plus-LP Wouter Wessels.

Die VF Plus sê hy is ook steeds bekommerd oor die land se onmiddellike toekoms omdat die Covid-19-bevelsraad weer binne ʼn week oor die pandemie gaan vergader. Strenger inperkings kan moontlik daarna volg.

“Daar moet aanvaar word dat die koronavirus voortaan ʼn deel van mense se bestaan gaan wees en dat maniere gevind moet word om daarmee saam te leef,” sê Wessels.

“Dit is belangrik dat ʼn balans dringend tussen ʼn normale voortbestaan en die red van lewens gevind word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Elke keer as ek woord “bevelsraad” hoor word ek wit van woede. Dit voel so asof ons onder ‘n kommunistiese diktatuur gevange gehou word! Dan bevraagteken ek ook die vermoeë van lede van sog enaamde raad.

Frik ·

Niemand gaan my dwing om iets teen my wil en beginsels te doen nie.
Dit bly elkeen se keuse of hy die spuit wil vat of nie wil vat nie.
Mense is al verby keelvol vir die regering se arrogante en diktatoriale houding.
Genoeg is nou genoeg!

VaalDonkie ·

Nee, weet jy, mens kan baie dinge se van ons regering, maar hulle het tot nou toe nog niemand forseer nie. Dis ons werkgewers wat so klein diktators geword het. Dit mag dalk verander in die toekoms, maar tot op hede het oom Cyril gese niemand sal forseer word nie.

Johan ·

Inentings, inentings…wat van die miljoene wat reeds covid oorleef het, hoekom moet ons inent? My natuurlike immuunstelsel sal aanpas by elke variant wat daar is, laat die wat kwesbaar is inent as hul wil, maar los ons nou uit.

Gert ·

Waarvoor staan “NCCC”? National corrupt communist cronies?

Samuel ·

Ons lewe in ‘n diktatoriale, sosialistiese staat. Die regering wil ons onder die duim hou met verpligte inentings. Is CR & kie almal ingeënt?

Eden ·

Aan enige iemand dink die regime het “level one” behou oor die ekonomie, wil ek net sê: wat moet hulle nog doen om jou te oortuig dat hulle vere voel vir die ekonomie. Besighede wat toemaak en Zimbabwiërs wat hul werk verloor in restaurante laat “Squirrel” en sy bende koud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.