Inperkings: 90% toename in selfmoord in Gauteng

Argieffoto (Foto: 1388843/Pixabay)

Selfmoordgevalle in Gauteng het met 90% toegeneem sedert April 2020.

Refiloe Nt’sekhe, die DA se skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, sê terwyl inwoners steeds ly onder die gevolge van die ekonomie-verwoestende Covid-19-inperkings van 2020 en 2021, is 695 selfmoordgevalle is in die 2019/20- finansiële jaar aangemeld. Dit het egter met 90% toegeneem nadat 1 325 sterftes sedert April 2020 bevestig is.

“In ʼn reaksie op my geskrewe vraag aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, is dit onthul dat die bydraende faktore vir diegene wat kies om hul lewens te beëindig, depressie, ʼn verlies van inkomste tydens die Covid-19-pandemie, finansiële probleme, afsterwe van familielede en huishoudelike geweld insluit.”

Nt’sekhe sê dit is baie hartseer om mens in te dink deur watter pyn dié kwesbare individue gegaan het om só ʼn punt in hul lewe te bereik. “Selfs mense wat selfmoordpogings oorleef het, het onthul dat dit nooit ʼn maklike besluit is nie, en dit word gewoonlik uit desperaatheid gedoen om hulself van die pyn te verlos wat hulle nie andersins kan oplos nie.”

Volgens Nt’sekhe is dit nog erger dat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling geen spesifieke programme het wat direk die toename in selfmoordgevalle aanspreek nie.

“In ʼn reaksie op my geskrewe vraag aan die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Morakane Mosupyoe, het die departement onthul hy het slegs maatskaplike werkers wat ʼn rits maatskaplike, emosionele, gedrag-, skool- en gesinsingrypings verskaf in gemeenskappe en by skole. Dit sluit voorkoming en bewusmakingsprogramme in wat hoofsaaklik daarop fokus om weerstandigheid te bou in gemeenskappe en onder leerders en die jeug soos die Maatskaplike Gedragsveranderingprogramme, Ouerskapprogramme, en die Ke Moja-dwelmvoorkomingsprogram.”

Die departement verskaf psigomaatskaplike ondersteuningsdienste, monitering, verwysing en bestuur van gevalle van betrokke leerders en hul gesinne, terwyl die verskaffing van terapeutiese ingryping individuele terapie insluit vir diegene met emosionele en gedragsprogleme, individuele berading, traumaberading, en verwysing na spesialisdienste, groepsterapie en gesinsterapie.

Die departement het ook gesê hy verskaf krisis-ingryping en reaksie om voorvalle soos leerdersterftes, kinderbeskerming, mishandeling en verwaarlosing te hanteer asook traumaberading, ontvallingsberading, en ingryping teen geweld, depressie en selfmoordpogings.

“Alhoewel dié dienste die absolute minimum is wat enige departement van maatskaplike ontwikkeling moet verskaf, is daar steeds ʼn dringende behoefte dat die regering meer programme sal saamstel wat baie meer gefokus is op kwessies soos selfmoord en geestesgesondheid. Die stigma hiervan duur voort in die samelewing en daar is te veel mense wat in stilte en isolasie voort bly ly.”

Nt’sekhe sê die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling moet aggressiewe bewusmakingsveldtogte van stapel stuur oor watter tipe berading en ondersteuningsdienste vir mense beskikbaar is. “Baie slagoffers voel daar is nie hulp beskikbaar nie. Hulle moet weet watter dienste beskikbaar is en hoe hulle daartoe toegang kan bekom.”

Die departement kan begin deur hul webwerf baie meer toeganklik te maak met ʼn eenvoudige Google-soektog. “Dit is tans onmoontlik om enigsins die webwerf op te spoor. Stel jouself voor hoe frustrerend dit moet wees vir iemand wat selfmoord oorweeg, maar steeds hulp probeer bekom.”

Nt’sekhe meen die webwerf moet ʼn toegewyde bladsy hê van alle hulpbronne wat beskikbaar is vir diegene wat enige tipe geestesprobleme ervaar met die beskikbare dienste wat die naaste aan hulle geleë is. “Wanneer mens aan depressie ly, verg dit baie om jouself daaruit te kry – en dit moet dus nie soveel moeite wees om toegang te kry tot die hulp wat jy nodig het nie.”

Nt’sekhe sê depressie is die stille pandemie wat al vir te lank ignoreer word. “As ons ʼn samelewing wil hê wat meer vir ander sorg en wat simpatiek optree, moet ons hierdie pandemie erken en dit takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

So hartseer…en hier Kom die volgende lot inperkings op welke manier ook al dit gaan toegepas word.
Want al wat saakmaak is Covid…….

gehasie ·

Inperking is beslis nie hoe mens hierdie beveg nie! Plakkerkampe wys mens hoe dit gedoen behoort te word!

Anel ·

Almal het nie die geriewe van internet en so om op webwerwe te gaan nie!!! Maar nou ja, as mens nie omgee vir die burgers van ‘n land nie, gaan dit maar so. My hart gaan uit na hierdie mense, want hoe desperaat moet jy nie wees nie om te dink dat selfmoord die enigste uitweg is nie.

KB ·

Kom ons gaan kyk WIE en WAT is die oorsaak van hierdie Covid-19 depressie, en begin om hierdie skuldiges te laat vervolg (hulle is horende doof, en speel met vuur).
DÁN sal dit sommer beter gaan met hierdie wêreld waarin ons moet lééf!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.