Inperkings nie die antwoord nie, sê organisasies

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Verskeie organisasies het reageer ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Dinsdagaand dat Suid-Afrika weer na koronavirusvlak 3 terugskuif as gevolg van ʼn skerp styging in gevalle die afgelope twee weke.

Ramaphosa het gesê minstens vier van die provinsies is reeds in die derde golf van die Covid-19-pandemie.

Solidariteit

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die regering moet aanspreeklikheid aanvaar vir die katastrofiese gevolge van die derde golf.

“Die regering se entstofprogram is ʼn totale mislukking. Suid-Afrika se entstoftoedienings is 10 keer minder as die gemiddeld van die wêreld. In al hierdie tyd is geen nuwe kapasiteit geskep nie.”

Buys het gesê daar is inteendeel minder kapasiteit as vorige golwe. “Inperkings wat nou deur die regering ingestel word, is ʼn desperate poging om ʼn krisis, wat deur die regering se eie onbeholpenheid geskep is, te bestuur. Dit was geen familievergadering van ʼn pa wat omgee nie. Die pa het die familie in die steek gelaat. In hierdie stadium lyk dit selfs of die regering nie eers entstofverligting vir die vierde golf gereed gaan hê nie.”

VF Plus

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, meen daar moet eerder gefokus word op die toepassing van gesondheidsprotokolle as om die aandklokreël te verleng, veral by taxi’s.

“Die restaurantbedryf word benadeel en een uur maak ʼn groot verskil aan inkomste. Dit sal boonop nie die verspreiding van die virus verminder nie.” Groenewald sê die virus versprei nie in die laaste uur wat ʼn restaurant oop is nie.

Groenewald voeg by die president moet nie nou skuil agter probleme met die verspreiding van entstowwe nie. “As hulle van die begin af betyds opgetree het, sou die aantal inentings in hierdie stadium reeds baie meer gewees het.”

AfriForum

Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, sê Ramaphosa se “verbeeldinglose toespraak” waarin hy vlak 3-inperkings aangekondig het maak dit duidelik dat doeltreffende vroeë behandeling en voorkoming met behulp van heraangewende medisynes soos ivermektien steeds nie op die regering se agenda is nie.

“Dit is ten spyte daarvan dat oorweldigende wetenskaplike bewyse bestaan dat dit lewens kan red en infeksies kan voorkom – boonop op bekostigbare wyse. Die data wys dat inperkings wat ondernemings en werksgeleenthede vernietig nie ’n noemenswaardige impak op die verloop van infeksies het nie.”

Uys sê die tyd het aangebreek dat die regering ook ander oplossings in werking stel om die Covid-19-pandemie die hoof te bied. “Voorkoming en vroeë behandeling met ’n kombinasie van medisynes, wat ivermektien insluit, kan infeksie voorkom, verhoed dat hospitale onder druk geplaas word en kan ook lewens red. Ons moet gelyklopend verskillende stappe doen om Covid-19 te beveg – stappe wat daarop gemik is om nadelige gevolge vir die ekonomie te voorkom.”

Demokratiese Alliansie

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het gesê die inperkings wat die president ingestel het, is slegs nodig omdat sy administrasie versuim het om ʼn voldoende voorraad entstof te bekom, versuim het om ʼn doeltreffende inentingsveldtog te ontwerp en in werking te stel en ʼn versuim om gesondheidsorgkapasiteit uit te bou.

“As hulle betyds die entstowwe bekom en toegedien het, sou mense se lewens en lewensbestaan tydens die derde golf beskerm gewees het. Nou gaan Suid-Afrikaners onnodig verliese ly.”

Steenhuisen sê sommige mense sal met hul lewens boet vir die regering se versuim, ander sal geliefdes verloor en talle sal hul inkomste verloor. “Almal se lewens sal ontwrig word – van kinders wat nie sal kan skool toe gaan nie en voedingsprogramme en sportaktiwiteit by die skool sal misloop, tot die verlies aan kosbare tyd saam met vriende en familie. Dit is alles weens ʼn regering wat nie vir sy mense omgee nie, wat onbekwaam en korrup is.”

Die DA het ʼn omvattende parlementêre ondersoek versoek oor die regering se hantering van die entstofprogram.

Steenhuisen voeg by selfs in die afwesigheid van ʼn suksesvolle inentingsprogram kon talle van die beperkings voorkom word as ander provinsiale regerings genoeg hospitaalbeddens, suurstof en menslikehulpbronkapasiteit verseker het om diegene te red wat dit nodig het.

“Die DA en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het deurlopend versoek dat daar ʼn doelgemaakte benadering moet wees afhangend van ʼn provinsie se gereedheid en dat provinsies meer mag moet hê om hul eie reaksie te bepaal. Die Wes-Kaap het genoeg hospitaalkapasiteit opgebou om seker te maak dat almal wat behandeling benodig om hul lewe te red, dit sal kry. “[Die Wes-Kaap] behoort dus nie aan dieselfde beperkings onderwerp te word as ander provinsies wat nie ʼn poging aangewend het om kapasiteit op te bou nie.”

Steenhuisen sê talle van die beperkings is ondoeltreffend en word slegs ingestel om ʼn illusie te skep dat iets gedoen word.

“Alhoewel die beperkings wat ingestel is grootliks onnodig is, is dit noemenswaardig dat die regering se reaksie op die derde golf nie naastenby so erg is soos hul hardhandige reaksie op die eerste en tweede golf nie. Dit is ʼn duidelike bekentenis dat die DA in April 2020 reg was om ʼn einde te versoek aan ʼn harde inperking wat die land na raming R13 miljard per dag gekos het en miljoene mense in hongersnood en armoede gedompel het.

“Soveel lewens en mense se lewensbestaan sou gered gewees het as die DA nasionaal aan bewind was tydens dié pandemie. Want anders as die ANC, kry die DA goed gedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

koos10 ·

Die regering wil net sy mense beheer soos Kuba, USSR, China ens.
Entstowwe is nie die oplossing nie! Dis onbeproef en GEEN langer termyn toetse is beskikbaar nie. Geen waarborg word saam met die entstowwe gegee nie, maar ons moet glo dit gaan werk??? Ek vertrou geen politikus nie, maar hulle verwag ek moet my lewe in hulle vertroue plaas???

Ilze ·

Beslis is huidige vaccines NIE die oplossing nie. Duisende newe effekte en ook sterftes agv vaccines wereldwyd word verswyg.

Strandloper ·

Die keer stem ek nie saam nie, dink daar moes meer inperkings gewees het. Lewens is belangriker as aard se goed.

Fritz ·

Sooooo…….lewens is belangriker as geld. Dit beteken jy is bereid om jou huis te verkoop, in n klein woonstel in te trek en die ekstra geld te skenk sodat n vreemdeling aan die ander kant van die planeet lewensreddende mediese behandeling kan kry. Maklik om te praat. Wys dat jy bedoel wat jy sê.

Strandloper ·

Ek is verlede week skielik en hard in die bek geruk toe my vroutjie die bug opdoen…skielik verander mens se siening en dit oorheers alles maar alles. Met gebed en die wonder middel ivermektien kom ek stadig maar seker terug aarde toe. Dankie vir die eye opener.

Pietertjie ·

Daar moet meer common sense wees, eerder as meer inperkings. Korter drank-verkooptye gaan nie maak dat mense minder drink nie, dit gaan maak dat hulle meer saamdrom voor die drankwinkels om hulle gewone aankope te kan doen. Daar sal minder kans vir virus-oordrag wees as die drankwinkels en restaurante 24/7 oop is. En die veiligste openbare plek is die strande, omdat die sout-seelug die virus vernietig.

melaney ·

Ek stem saam met wat ek hier lees. Ons moet net onthou, CR het herhaaldelik gevra dat almal die reëls nakom, soos mond en neus bedek, geen groot byeenkomste ens. Indien die burgers van die begin af hierdie reëls nagekom het, glo ek sou dit nou al beter gegaan het. Ongelukkig stel niemand belang in CR se versoeke nie. CR en kie gee ons geen rede om hulle te respekteer nie. En nou ly almal daaronder. Miskien is dit ‘n bedekte seën.

Kokerboom ·

Ek dink die regering is moeg en moedeloos vir hulself. As jy weet jy het NIE die nodige bestuursvermoeë en vaardigheid en jy klou vas aan jou onnosele ideologie, ongeag gevolge, dan is daar nie pille. Dit verg baie ongevoeligheid en arrogansie om te volhou op die pad van landsvernieting gedryf deur kadergulsigheid!!!

Moeggeploeg ·

Maak nie saak wie aan stuur van sake in die land is nie, gestop sal niemand die virus kry nie. Die wêreld het ń goddelose bose plek geword en sal uitgewis word deur God net soos met die sondvloed.

annie ·

Wel, miskien is dit tog ‘n bedekte seèn in diè geval… die laksheid van die ANC… want latere inligting toon dat die Astra-tipe toe nie goed is vir sekere bestaande kwale nie en hartspier-inflammasie kan gee. Die halsoorkoptoedienning van kits-saamgeflanste entstof is nie slim nie al lyk dit hoe kordaat. Dis ‘n eeue-oue idee om mense af te sonder omdat virusse deur mense aan mense oorgedra word en mense kan nie wegbly van mense nie. Afsondering is nie die ANC se eerste uitvindsel nie.

Kompas ·

Stem saam met die DA. Entstofprogram sloer!! In Amerika is daar al deelstate wat sonder maskers rondloop omdat meeste mense al ingeënt is. Ons kon derde golf verhoed het as daar meer mense ingeënt was.

Willem ·

Stem saam Kompas ,dan kondig cr ewe trots aan dat daar 80 000 inentings per dag gedoen, wat ‘n grap, meeste ou mense sal al van ouderdom dood wees voor hul ingeënt is, teen daai tempo gaan dit omtrent 2 jaar vat om die land in te ent!

Dirk Mostert ·

Presies. Ons oumense sal van ouderdom doodgaan sonder die ent.

Sarel ·

Gazn kyk na die toestznd by Staatsospitale terwyl onbevoegde persone azngestel word wys die erns wzt
Die Regering met gesondheid van armes te doen het

Pietertjie ·

Die regering het ‘n nypende tekort aan basiese biologie-insig, basiese rekenkunde, en common sense.

Robert ·

Stem 100% saam dat inperking sy doel gedien het… tyd om normaal te lewe.

Nico ·

Die groot probleem is dat hierdie sogenaamde reënboog nasie nie hou by die gesondheids protokolle, ho die taxi’s dop. Kyk, hoe lyk dit wanneer pensioene uit betaal word, waar is die polisie dan en kyk ook die shebeens, ek stem heelhartig saam met Dr. Pieter Groenewald van die VF+.

DIABLO ·

Nieu Zeeland is n sukses verhaal. Kom ons gaan loer bietjie af by hulle. Ten opsigte van bogenoemde artikel, lees ek in n neutedop dat ons land regeer word deur idiote. Stating the obvious, I know

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.