Inperkingsregulasies volgende week hersien

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, sê die nasionale koronavirusbevelsraad en die kabinet sal deur die loop van volgende week vergader oor enige moontlike verandering aan inperkingsregulasies.

Die minister sê daar sal nie net gekyk word na die getal nuwe gevalle nie, maar ook na die uitwerking op die gesondheidstelsel, risiko’s wat met die ekonomie verband hou, asook sosiale gedrag.

“In hierdie stadium is ons nie ʼn posisie om te sê watter veranderings daar moontlik kan wees nie.”

Die minister het Vrydag by die departement se weeklikse mediakonferensie ook gesê die getal kinders jonger as vyf wat in hospitale met Covid-19 is, is gaandeweg besig om af te neem.

Volgens Phaahla het die syfer reeds afgeneem van ʼn aanvanklike 21% na 14% twee weke gelede. Dit staan in hierdie stadium op nagenoeg 7%.

Daar is ook geen aanduidings dat kinders tydens die vierde vlaag ernstiger siek word of selfs sterf nie. In die meeste gevalle word die virus steeds toevallig opgetel nadat kinders weens ander siektetoestande in die hospitaal opgeneem en as roetine vir Covid-19 getoets word.

“Daar is werklik geen rede tot groot kommer nie,” sê die minister.

Voorlopige data wys egter die Omikron-variant is hoogs aansteeklik, hoewel dit in hierdie stadium nie lyk of dit ernstiger siekte veroorsaak nie. Kenners sê meer data is egter nodig om die vermoede te bevestig.

Die reproduktiewe koers van die virus – met ander woorde die koers waarteen een mens ʼn ander kan aansteek – staan nou op gemiddeld 2,5. Dit is die hoogste koers wat nog tydens die pandemie ondervind is. In Gauteng, tot dusver die episentrum van nuwe gevalle, staan die reproduktiewe koers reeds op drie.

Die nuwe Omikron-variant is nou ook verantwoordelik vir meer as 80% van Covid-19-gevalle, sê Phaahla. Simptome verskil nie veel van vorige variante nie en sluit in ʼn krapperige keel, koors, hoes, diarree en braking.

Talle kinders wat Covid-19 opdoen toon geen respiratoriese simptome nie, sê Phaahla.

Entstowwe  

Volgens die minister is dit in hierdie stadium ʼn opdraande stryd om jong mense te oorreed om ingeënt te word – veral diegene tussen 18 en 25 jaar oud.

“Hoewel ons goeie dekking van ouer mense het, daag jong mense nie in groot getalle op nie.”

Hy het ʼn beroep op jong mense gedoen om nie na “anti-inentingstories op sosiale media te luister nie”.

“[Inenting] is werklik die beste beskerming op die pad vorentoe.”

Phaahla sê die getal dosisse wat daagliks toegedien word, het gedaal van sowat 290 000 per dag ʼn paar weke gelede, tot tussen 130 000 en 160 000. Suid-Afrika behoort Vrydag die 27 miljoen-kerf vir dosisse entstof toegedien verby te steek en sowat 43% van volwassenes het in hierdie stadium al minstens een dosis van die entstof ontvang.

Entstowwe teen Covid-19 blyk ook steeds doeltreffend te wees teen die Omikron-variant van die koronavirus en nagenoeg 70% van mense wat tans in hospitale vir die behandeling van die virus opgeneem word, is nie ingeënt nie.

“Die hospitale se syfers wys dat diegene wat ingeënt is, veel beter beskerm word.”

Dr. Michelle Groome, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê hospitaalopnames word ook gesien in ouderdomsgroepe met laer inentingsyfers en hoewel daar aanvanklik heelwat hospitaalopnames van kinders jonger as vyf was, word daar nou ʼn toename in hoër ouderdomsgroepe ondervind.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het intussen ʼn tweede dosis van die Pfizer-entstof vir kinders tussen 12 en 17 jaar oud goedgekeur. Volgens dr. Nicholas Crisp, adjunkdirekteur-generaal van die departement van gesondheid, het Suid-Afrika aanvanklik ʼn konserwatiewe benadering hieroor gevolg nadat voorvalle van miokarditis (inflammasie van die hartspier) onder veral jong seuns aangemeld is en wou verseker daar is nie enige veiligheidsrisiko’s nie.

Navorsing wys egter dat die miokarditis-koers ná inenting dieselfde is as onder die algemene bevolking, terwyl daar ʼn toename in die getal voorvalle van jong mense met miokarditis is wanneer hulle Covid-19 opdoen.

Kinders tussen 12 en 17 jaar oud kan dus nou ʼn tweede dosis Pfizer-entstof ontvang.

Wat betref versterkende dosisse (“booster shots”) sal daar volgens Crisp in die nuwe jaar in alle erns daarmee afgeskop word.

ʼn Bykomende dosis van die Pfizer-entstof kan ses maande ná die tweede gewone dosis toegedien word. Dit beteken bykomende dosisse kan ná 28 Desember toegedien word – ses maande nadat die eerste dosisse van die Pfizer-entstof hier toegedien is.

Gesondheidswerkers het reeds begin om versterkingsdosisse van die Johnson&Johnson-entstof (J&J) te kry en ʼn besluit oor soortgelyke dosisse vir die res van die bevolking sal binne die volgende week geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Elinette ·

Jip, ook al gedink hulle moet daai bier maar eerder ‘n ander naam gee!

Anoniem ·

Julle kan julself met die grootste liefde inperk bevelsraad en kabinet.

VaalDonkie ·

Hulle moes die spuit net vir risiko-gevalle gegee het en die res alleengelaat het. Maar dit sou sin maak, so hulle het daarteen besluit.

Swerwer ·

Maak nie saak wat die inperkings gaan wees nie, het lankal besluit dat die Tuinroete met Jan Tuisbly se karretjie die beste gaan wees. Help nie om te beplan en opgewonde te wees en dan kom dit weer dat inperkings ingestel word wat jou hele Kers beplanning in die wiele gaan ry nie.

Anoniem ·

Hoe gaan hulle die etlike duisende Oos-Kapenaars wat vanaf die Wes-Kaap na hul tuistes reis keer?

Francois Le Cochon ·

Ja, een week in die voortuin, en dan ‘n week in die agtertuin!

bobmartin ·

Lag ek nou vir die komentaar. Amper wil ek se dat dit klink na n afstand tessun die voortuin na die agtertuin. Goeie een.

VaalDonkie ·

Ek het in elk geval nie R3000 vir petrol om in Plett te gaan kuier, rond te ry, en weer terug te kom Kaap toe nie.

Francois Le Cochon ·

Marius, dit sal interessant wees om te weet wat die koers sou gewees het as daar geen covid- maatreels, regulasies of inperkings was nie, maw geen covid bestuur nie.

SlinkseKoljander ·

Bring maar die imperkings, niemand hou by dit in elke geval nie.

VaalDonkie ·

My ma gaan werk 4:00 in die oggend. Sy werk by ‘n dokterspraktyk en sy doen die admin daai tyd van die oggend. Eergister toe word sy agetrek deur die polisie want sy het 3:55 by die hek uitgery.

Jasper ·

Goeie ventilasie en die oop ruimtes is goed… , solank dit nie op die strand is nie.

madels ·

Ek wonder of mense die meerderheid SA’kaners jul gehoor verloor het? Omicron is NIE so gevaarlik nie, het BAIE GERINGE simptome en nog steeds wil almal nou op jip gaan oor die virus!??? Nee genade, nou weet ek nie meer nie

Waarnemer ·

Sterkte aan almal hier op MM.Die regering het al twee weke gelede besluit wat die volgende inperking gaan wees…hulle hou dit net geheim tot volgende week….My fellow country men,vlak 4 hier kom ons…almal met vakansie moet dadelik terug keer huis toe….blah blah blah…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.