Insekdoder eis glo ma, 3 kinders

(Argieffoto)

’n Vrystaatse ma en haar drie jong kinders is Sondag dood nadat die vrou vroeër die naweek insekdoder in hul huis in die omgewing van Thaba Nchu gespuit het.

Een kind het die voorval oorleef.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê na bewering het Oregolele Mochudi (32) Saterdag insekdoder in haar huis in Selosesha gespuit om kakkerlakke uit te roei.

Sy en haar vier kinders het daarna die huis verlaat sodat die insekdoder kon begin werk.

Die gesin is later terug na die huis en het gaan slaap. Die familielede het egter die volgende dag begin sleg voel en ’n ambulans is ontbied om hulle na die Thaba Nchu-hospitaal te neem.

Oregolele Mochudi (32) en haar twee seuns, Andile (2) en Nathi (7), is by die hospitaal dood.

Mochudi se twee dogters, Omphile (12) and Gontse (13), is na hospitale in Bloemfontein oorgeplaas waar Omphile later dood is.

Gontse word in dié stadium steeds in die hospitaal behandel.

Nog ’n familielid wat Sondag by die huis was, is intussen ook in ’n hospitaal opgeneem.

Makhele sê die polisie is besig met geregtelike doodsondersoeke.

Lt.genl. Baile Motswenyane, polisiehoof in die Vrystaat, het ’n beroep op die publiek gedoen om slegs SABS-goedgekeurde produkte te gebruik en die gebruiksaanwysings op die middels noukeurig te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eragrostis ·

Dis verskriklik, maar insekdoders (en ander gifstowwe) is die laaste uitweg, ongeag of dit geakkrediteer of nie. Daar is baie meer omgewingsvriendeliker maniere om insekte en peste weg te hou of te vang. Daar word meer goed dood gemaak as die sogenaamde pes as gif gebruik word, veral die natuurlike vyande, soos roofvlieë en spinnekoppe, wat daardie peste se getalle in beheer hou.

Hierdie tragedie sou dus nie gebeur het nie as dié vrou van hierdie inligting geweet het. Dit wys net watse effek het gifstowwe op mense se gestel, of jy dit agterkom of nie.

Miskruier ·

Made in China. Daar is deesdae baie onbekende produkte te koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.