Insekte gebruik vir antibiotika, velprodukte

(Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die onderskeie dele van insekte kan doeltreffend aangewend word vir die maak van medisyne, veevoer en velprodukte, sê wetenskaplikes aan die Universiteit Stellenbosch (US).

ʼn Kenner in insekboerdery aan die US meen insekte hoef nie net as voedselbron vir mens én dier te dien nie, maar kan selfs tot bioplastiek of alternatiewe vir antibiotika verwerk word.

Dr. Elsje Pieterse van die Universiteit Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe het vandeesweek in ʼn verklaring gesê verskeie navorsingsgroepe oor die wêreld heen bestudeer tans die moontlikheid om die antimikrobiese peptiede wat insekte produseer as plaasvervanger vir antibiotika te gebruik om infeksies te behandel.

Volgens Pieterse ondersoek die kosmetiese bedryf op sy beurt tans die waarde van louriensuur in insekte aangesien dit soortgelyke immuunversterkende vetsure as klapperolie bevat. “Insekte se waarde lê in die som van hul dele,” verduidelik sy.

Luidens die verklaring het ʼn voormalige student van Pieterse wat onlangs sy doktorsgraad behaal het, dr. Michael Woods, ʼn bestaande ensiemgebaseerde hidroliseproses aangepas om venstervlieglarwes in proteïen, vet en chitien op te breek om die onderskeie dele van die insekte ten beste te kan benut.

(Foto: Universiteit Stellenbosch)

Volgens Pieterse kan bio-afbreekbare plastiek en verpakking uit die larwes se proteïengedeelte gemaak word. Hul vet kan omgesit word in biodiesel en die chitien kan gebruik word in biofilters om swaarmetale uit vuil waterbronne te haal.

“Ons beoog om die proteïengedeelte wat hierdie proses oplewer as voedingsaanvullings vir mense en in spesiale veevoer soos hipoallergeniese troeteldierkos of in akwakultuurdiëte te gebruik. Die farmaseutiese bedryf kan die chitien gebruik en die skoonheidsbedryf die vette in voedingsaanvullings of vir die ontwikkeling van akneeverwante behandelings,” verduidelik sy.

Volgens Pieterse kan ʼn insekboerdery-opset van een hektaar tot 7 500 keer meer proteïen produseer as op ʼn tipiese sojaplantplaas. Die meeste aktiwiteite rakende insekboerdery in Suid-Afrika is egter in dié stadium toegespits op die vervaardiging van veevoer en vir gebruik in plaagbestryding, verduidelik sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.