Insette oor begroting wys dreigende afgrond

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die eerste dag se insette aan die parlementêre en gekose komitees oor finansies rakende die aangepaste begroting het ʼn gapende afgrond getoon wat koue rillings in gesoute parlementêre waarnemers se ruggraat laat kriewel het.

Met die voorsitter van die gekose komitee, Yunus Carrim van die ANC, wat gewaarsku het dat die omvang van die finansiële en fiskale krisis nog nie behoorlik verreken kan word nie, het die somber inslag van die insette oor ideologiese grense heen die idealisme van ander jare verdryf.

Die omvangrykste inset het gekom van die vakverbond Cosatu wat uitgewys het dat die land se ekonomiese probleme en wanbestuur van ver af kom, en dat ekonomiese omkanteling Suid-Afrika in die gesig staar. Hiertoe dra korrupsie en dalende belastinginkomste grootliks by, asook die afgradering van die land tot rommelstatus.

In reaksie hierop het die regering nie met genoeg moed opgetree wat die begroting betref nie, het Matthew Parks, Cosatu se parlementêre verteenwoordiger, in die vakverbond se inset gesê.

Die regering se voorneme om in infrastruktuur te belê word deur Cosatu verwelkom, maar nie die teenstrydige aankondigings daaroor nie. Boonop is daar nie genoeg regulatoriese ingryping om staatsbeheerde ondernemings reg te ruk of gate in die belastingstelsel te vul nie.

Die behoud van werkgeleenthede in spesifiek die kleinhandel, toerisme en die gasvryheidsbedryf moet nou, luidens Cosatu se voorlegging, voorkeur geniet, asook die prioritisering van die aankoop van plaaslike produkte vir die skep van plaaslike werkgeleenthede.

Desnieteenstaande dring Cosatu aan op verhogings in staatsdienssalarisse, met die onderneming dat hy nie in toekomstige jare op sulke verhogings sal aandring nie – maar dit is vir die toekoms. Nou soek hulle hul verhogings.

Die organisasie #paythegrants het sy inset daarop gefokus dat welsynstoelae verhoog en aan meer mense uitbetaal moet word, met die argument dat balansstate nooit belangriker as menselewens kan wees nie.

Parlementslede het dié inset egter gekritiseer omdat daar geen aanduiding is waar die geld vandaan moet kom nie.

Adv. Paul Hoffman van die Instituut vir Toerekenbaarheid het gesê hongersnood en werkloosheid staar ongekende hoeveelhede mense in die gesig. Hy beweer 30% van kos word in Suid-Afrika weggegooi en dat voedselbanke meer hiervan moet kry.

Voorts het hy aangevoer die geld wat as gevolg van staatskaping verloor is, kan heel maklik teruggevind word in die internasionale bankstelsel as die regering die politieke wil bymekaar kan skraap om byvoorbeeld skuldinvorderaars te kry om dit te doen.

Die Organisasie vir die Bekamping van Belastingvergrype (Outa) verwelkom die regering se verbintenis tot ʼn zero-gebaseerde begroting, maar betreur die feit dat dit nie toegepas word nie.

Outa wonder voorts waarom die Mededingingskommissie se bevindings oor die ontbondeling van die Passasierspooragentskap (Prasa) nie deur die regering geïmplementeer word nie, en hoekom die regering die beperking van staatskuld as persentasie van BBP eers in 2023 wil implementeer.

Outa het op #paythegrants se inset geantwoord dat dit min help om slegs op toelaes in die kort termyn te fokus terwyl die land in die langer termyn ten gronde gaan.

Laastens het Outa uitgewys dit help niks die regering bly almal anders blameer terwyl die grootskaalse korrupsie en wanbesteding op munisipale vlak onverpoosd voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

Cosatu is een van die redes hoekom die land bankrot is glo nie daar is meer salf te smeer aan ons ekonomie nie hierdie onbeholpe regering het n werkbare ekonomie in die grond in bestuur wie is so naïef om te dink hulle kan dit nou regruk

Nie Verbaas ·

Nog net n rukkie trotse ANC. Ons is amper by Zimbabwe.

Pieter ·

Cyril moet vir kopdoek en sy sussie vra hulle het baie geld

Stefan ·

Hoeveel werkgeleenthede het die vakbonde al vernietig? Om van die demper op ekonomiese groei nie eers te praat nie.

Leon ·

Moenie bekommer nie. Ons gaan nie by Zimbabwe eindig nie, Ons gaan by Zimbabwe verbygaan teen die spoed van witlig. Suid Afrika gaan lande soos Somalië em Biafra laat lyk soos ‘n kindertuin.

Jaco ·

COSATU is in ‘n dekadeslange alliansie met die ANC. Dit is dus vreemd dat die ANC-regering teen verhogings van salarisse is, maar COSATU vra juis vir verhofgings. Praat die ANC dan nou teen die ANC?

Rhona ·

Cosatu sê dit kom van lankal af. Hulle sal weet want dis juis al die stakings en verwoestings by optogte van hulle vakunies wat een van die hoofredes is dat ons land in rommelstatus sit vandag. Hulle moes somme gemaak en uitgewerk het hoeveel elke staking die besighede en land kos en vaanwaar daardie verliese verhaal gaan word.

Johannes Andries ·

Ja die regering praat sekerlik ‘n Ander taal as wat almal wat goeie raad en Advies gee. Want hulle kan die goeie raad en Advies nie hoor of verstaan nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.