Inspirerende Rebecca ook op fiksheid-podium

Rebecca saam met Heber Cannon en Justin Medeiros (verdedigende Spele-kampioen). Foto: Verskaf.

In 2014 is Rebecca Storm Nagel se lewe in ’n oogwink verander toe sy in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

“Ek het om ’n blinde draai gekom en sien toe iemand kom reg van voor op my afgepyl. Ek het uitgeswaai en die pad byster geraak,” het sy Maandag vir Maroela Media gesê.

Sy is van daardie dag af ’n parapleeg.

Maar onlangs het sy nie net ’n oefensessie by die Wodapalooza-kompetisie in Miami gewen nie, haar uiteindelike vertoning het haar ook ’n plek op die podium verseker.

“Ek het in Oktober 2020 met CrossFit begin en dit het my uitkyk op oefening heeltemal verander omdat alles so aanpasbaar is. Ek was mal oor die atmosfeer en energie by Wodapalooza; terselfdertyd het ek ’n hele paar wonderlike mense ontmoet.”

Foto: Verskaf.

Sy oefen ses dae per week by CrossFit Wild Coast in Margate, terwyl sy ook ’n bykomende swemsessie of twee inwerk.

“CrossFit-klasse laat my afsluit van dit wat in die buitewêreld aangaan. Jy kan net op jouself fokus en op dit wat jy kan doen.”

Volgens Rebecca is een van haar moeilikste uitdagings om na haar lyf te luister – rus is immers noodsaaklik!

“As ’n parapleeg kan ek net met my bolyf oefen en dit is belangrik om my skouers af en toe ’n blaaskans te gee. Maar dit is omtrent ’n moeilike storie want ek voel lui wanneer ek moet rus.”

Dit is ook ’n uitdaging wanneer sy ander gimnasiums besoek omdat haar oefensessies dan soms afgewater word; sy wil juis vir ander wys dat sy ook van die taaier sweetsessies met sukses kan aanpak.

Dan glimlag sy groot wanneer sy ’n stel gimnastiekringe sien.

“Ek hou baie van gimnastiek en ring muscle-ups is een van die meer ingewikkelde CrossFit-bewegings; ek is baie bevoorreg om dit reg te kry. Ek is dan uit my rolstoel, dus voel ek asof ek op dieselfde vlak as die ander atlete is wanneer ek dit aanpak.”

Rebecca word gemotiveer deur dit wat binne haar vermoë is, eerder as dit wat sy nie kan doen nie.

Rebecca meen Sara Sigmundsdottir is ’n baie vriendelike en opregte mens. Foto: Verskaf.

“Ek is dankbaar vir die vermoëns wat ek het en ek wil dit nie onder ’n maatemmer wegsteek nie. Mense aanvaar dit as vanselfsprekend om te stap – ja, ek kan dit nou weliswaar nie doen nie – maar ek wil my beste gee in alles wat ek kan doen.”

In Miami het sy Heber Cannon en Marston Sawyers van die Buttery Bros-faam ontmoet, terwyl sy ook skouers met Ysland se Sara Sigmundsdottir geskuur het.

“Sara is ’n ongelooflike mens – plat op die aarde, opreg en die vriendelikheid vanself.”

En as ’n mens so na die foto’s kyk, is dit duidelik dat al die bekende CrossFitters ook dink dat Rebecca Storm Nagel ’n ongelooflike mens is.

Rebecca se uitslae per Wodapalooza-oefensessie:

The Mia Bar Complex: Vierde

The Bayside Chipper: Vierde

Celebrate Ten: Vierde

Dale – An Elimination Sprint: Eerste

WZA OC Remix: Vierde

Algehele puntestand:

  1. Amalia Lizano
  2. Andrea Wilson
  3. Rebecca Storm Nagel
  4. Shelby Estocado
  5. Natalia Ryzhova
  6. Shana Coissard
  7. Ellen Field
  8. Neslie Ortiz
  • Maroela Media het gister berig oor Letchen du Plessis se heldedade in haar Adaptive-kategorie in Miami.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dit is jammer dat sy in ‘n rolstoel opgeeindig het agv ‘n roekelose bestuurder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.