Instellings lamgelê weens wanbetaling van maatskaplike ontwikkeling se toelae

(Foto: AfriForum)

Talle organisasies wat maatskaplike werk doen en na die kwesbaarste Suid-Afrikaners omsien, moet dit tydens die landwye staat van algehele afsondering sonder ʼn sent van die staat doen.

Luidens ʼn onlangse verslag oor die betaling van subsidies het honderde organisasies in die Oos-Kaap en Noordwes die afgelope vier maande nie ʼn duit van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang nie. In Limpopo en Mpumalanga is sommige van die instellings se begrotings met tot ʼn kwart gesny.

Die organisasies moes boonop groot bykomende uitgawes aangaan om beskermende toerusting (PPE’s) aan te skaf. “Die afsonderingstydperk het nie net die betrokke organisasies se vermoë om geld in te samel gepootjie nie, maar hul uitgawes het terselfdertyd toegeneem,” lui die verslag deur Lisa Vetten van die Care Work Campaign en Margaret Grobbelaar van die National Coalition of Social Services.

Benewens die ekstra koste vir PPE’s moes organisasies in alle provinsies bykomende uitgawes vir toerusting soos skootrekenaars aangaan sodat hulle personeel van die huis af kan werk. “Data moet elke maand aangekoop word vir diegene wat van die huis af werk, veral vir personeel ouer as 60.”

(Argieffoto: Cradle of Hope/Facebook)

Luidens die verslag het talle organisasies ook ingespring om kos aan desperate begunstigdes te voorsien. “Dit is uit hul eie beperkte hulpbronne aangekoop omdat die kospakkies waarvoor hulle aansoek gedoen het, nie ontvang is nie.”

Volgens ʼn organisasie in die Oos-Kaap, wat tydens die eerste twee maande van die afsonderingstydperk kospakkies voorsien het, het dit hulle sowat R185 000 uit die sak gejaag. Die sluiting van skole het boonop selfs meer druk op sommige organisasies geplaas. “Jeug- en kindersorgwerkers moet daagliks vier ure ekstra werk. Dié toesig is bykomend tot die nuwe onderrig-eise wat op sentrumpersoneel geplaas word.”

Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, het die stand van sake as ʼn “bespotting” bestempel en sê die party gaan in die parlement vrae aan minister Lindiwe Zulu daaroor stel.

Masango het ʼn beroep op Zulu gedoen om te verseker die situasie word dadelik reggestel.

“Die organisasies bedien die kwesbaarste lede van ons samelewing, waaronder ouetehuise, kinderhuise en skuilings vir vroue. Dit is betreurenswaardig dat hulle sedert Maart vanjaar nog nie betaal is nie,” het sy gesê.

Masango sê die organisasies werk namens die regering om na mense om te sien, terwyl dié hulle nou aan die genade oorlaat.

“Die minster en almal in haar departement behoort hulle te skaam. [Zulu] spog gereeld oor haar suksesse, maar dit lyk nie of dit enigsins op die werklikheid gegrond is nie. Die werklikheid is dat duisende mense elke dag weens die departement se tekortkominge ly. Die werklikheid is diegene wat ʼn positiewe ondervinding van die departement het, is die uitsondering en nie die reël nie.

“Die werklikheid is dat die departement eerder mense sal wil sien ly, as om sy werk te doen.”

 Só lyk die situasie in sommige provinsies: 

Oos-Kaap

Luidens die verslag het die departement nog geen subsidies vir 2020-’21 betaal nie. Die laaste betalings is in Maart gedoen vir werk wat rééds gedoen is. “Daar was e-posse, briewe, foonoproepe, vergaderings en beloftes, maar dit het op niks uitgeloop nie. Die hele stelsel van maatskaplike dienste wat nie-regeringsorganisasies lewer is in die gedrang,” lui die verslag.

Limpopo

Sommige subsidies is wel oorbetaal. In sommige gevalle is 75% van die bedrag betaal omdat die organisasies tussen April en Junie “nie produktief genoeg” was nie. “Dit is ten spyte van die feit dat talle noodsaaklike dienste verrig omdat hulle Kinderbeskermingsorganisasies is,” lui die verslag.

Mpumalanga

Subsidies vir maatskaplike werkers en bykomende werkers is in 2013 laas verhoog. Volgens die verslag betaal die departement dikwels baie laat en dan vir werk wat reeds gedoen is.

Noordwes

Betalings is wisselvallig en dikwels laat. Ook in dié provinsie was daar sewe jaar laas ʼn verhoging in subsidies vir maatskaplike werk en bykomende dienste.

Gauteng

Luidens die verslag lyk dit of die meeste instellings in die provinsie hul subsidies ontvang het, hoewel dit nie altyd betyds gedoen is nie. Dit skep groot probleme wanneer personeel betaal moet word.

Volgens die verslag raak die uitwerking van die afsonderingstydperk nie net huidige begunstigdes nie, maar ook toekomstige begunstigdes en blyk dit dat nie-regeringsorganisasies in hierdie stadium ʼn enorme finansiële en menslike koste dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adriaan ·

Kopdoek se woordvoerder gaan n kommissie aanstel om die bewerings te ondersoek. /s

Pieter ·

Is reg gaan stem weer vir die ANC hulle is te slim vir julle

JohanR ·

En hier sit die wat elke jaar die ANC instem en kruipeer, terwyl nie een ANC parliaments lid honder gely het die laaste 4 maande. Hulle salaris het nog altyd die 30ste van die maand in hulle rekeninge ingeval. Sit seker elke aand by ‘n dik gelaide tafel met kos, bier en wyn en eet hulle self dik, en lad vir die wat moet bak hand staan vir ‘n toelaag. Een of ander tyd ANC sal julle dag kom. Die wiel draai!

Sarel ·

Kinders… die onskuldige slagoffers van ‘n gemeenskap moet die prys betaal. God sal met gal werk glo my ongestraf sal julle nie bly nie

Wil ook net sê ·

Maar julle moet onthou dat GBV-veldtogte nou baie geld vat. En alhoewel ek 100% saamstem dat dit ‘n absolute gruwel is, beteken dit nie vir my dat weerlose kinders en bejaardes hul kos ontneem moet word nie.
Ek is sooooooooooooo keelvol!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.