Insurgente skiet SA soldaat in Mosambiek dood

Mosambiek

ʼn Suid-Afrikaanse soldaat is in Mosambiek doodgeskiet terwyl hy saam met lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag insurgente in die geweldgeteisterde noorde van dié land probeer stuit het.

Lede van die weermag is in Cabo Delgado ontplooi as deel van Operasie Vikela, ʼn sending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Mosambiek.

Luidens ʼn verklaring van die departement van verdediging het die soldate in ʼn gebied oos van die Chai-nedersetting hulle in ʼn lokval bevind. Hulle kon hul pad uit die lokval veg, maar insurgente het weer aangeval terwyl die soldate by ʼn ontruimingspunt op ʼn helikopter gewag het.

Die soldaat is raakgeskiet en is op die toneel dood verklaar.

Sy oorskot is volgens die departement reeds na die SAOG-sending in Mosambiek (SAMIM) se taktiese basis by Chai geneem.

“Verdere ondersoek word ingestel om die omvang van beserings en verlies aan toerusting weens die ongelukkige voorval te bepaal.”

Die minister van verdediging, Thandi Modise, het ook haar medelye met die soldaat se naasbestaandes betuig.

Mosambiekse soldate, gesteun deur streeksmagte, het in ʼn afsonderlike voorval twee dae gelede ʼn rebellebasis in die geweldgeteisterde Macomia-distrik bestorm en tien insurgente doodgeskiet. Sondag se voorval volg op verskeie aanvalle die afgelope twee weke deur djihadiste op dorpies in die distrik.

Mosambiek se minister van verdediging, Cristovao Chuma, het Maandag gesê troepe het die terroristebasis aangeval en tien terroriste doodgeskiet.

“Die situasie is kommerwekkend. Ons magte is op die grond en in die komende weke gaan ons positiewe uitslae sien.”

Mosambiekse pres. Filipe Nyusi het verlede week gesê die land het die afgelope jaar minder djihadiste-aanvalle as verlede jaar ondervind, nadat Rwanda en ander buurlande begin help het om die insurgensie te stuit.

“Ons het terreuraanvalle drievoudig verminder.”

Die streek, ryk aan natuurlike gas, loop sedert 2017 deur onder aanvalle deur die Islamitiese Staat (Isis). Die geweld het reeds minstens 3 300 lewens – die meeste van hulle burgerlikes – geëis en meer as 800 000 mense ontwrig. In Maart vanjaar, in een van die ergste aanvalle tot dusver, is die hawestad Palma aangeval en talle mense doodgemaak. Die aanval het die geweld in die gebied opnuut in die internasionale soeklig geplaas en tot ingryping gelei.

Sedert Julie is meer as 3 100 soldate van Afrika, Europa en die VSA in die noordelike provinsie ontplooi om die geweld in bedwang te bring.

Verlede jaar het Mosambiek net meer as 160 aanvalle aangemeld, terwyl die getal vanjaar op 52 staan.

Nyusi sê dit is gedeeltelik te danke aan die “militêre samewerking” met Rwanda en die 16 lande in die SAOG.

Sowat 1 500 Suid-Afrikaanse troepe is in Mosambiek ontplooi, terwyl Rwanda nagenoeg 1 000 soldate na die land gestuur het.

Omdat die insurgente die afgelope vyf maande uit sommige van hul tradisionele magsbasisse verdryf is, het aanvalle nou ook na die Niassa-provinsie oorgespoel, asook oor die grens tot in Tanzanië. Hul taktieke bly egter wreed. Tientalle huise is die afgelope ruk aan die brand gesteek, minstens een mens is onthoof en twee ander is die afgelope ruk in die Macomia-distrik doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.