Integriteitskommissie sê Ace moet opsy staan  

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die ANC se integriteitskommissie het aanbeveel dat Ace Magashule onmiddellik afstand moet doen van sy pos as sekretaris-generaal van die party.

Die integriteitskommissie het die aanbeveling aan die party se nasionale uitvoerende komitee gemaak na aanleiding van die ANC-resolusie dat ANC-lede wat van korrupsie of ander ernstige misdade aangekla word, onmiddellik van alle posisies in die party moet afstand doen tot die saak teen hulle afgehandel is. Indien dit nie vrywillig gedoen word nie, moet die lid geskors word.

Die kommissie het die naweek met Magashule vergader nadat daar verlede week aangekondig is dat Magashule in sy pos aanbly en nie opsy gaan staan nie, al word hy in ʼn hofsaak van omvattende betrokkenheid by korrupsie beskuldig.

Magashule het toe aangebied om eerder voor die integriteitskommissie te verskyn.

Hy staan tereg op 21 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery. Hy is verlede maand in die Bloemfontein-landdroshof op borgtog van R200 000 vrygelaat.

Magashule se borgtogvoorwaardes behels dat hy die ondersoekbeampte in kennis moet stel indien hy vir ʼn paspoort wil aansoek doen en hy mag nie kontak hê met die staat se getuie nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het intussen bevestig dat Moroadi Cholota, Magashule se persoonlike assistent toe hy destyds premier in die Vrystaat was, vir die staat gaan getuig. Die saak is tot 19 Februarie uitgestel.

Magashule word onder meer daarvan beskuldig dat hy bewus was van onreëlmatige ooreenkomste en dat hy opdrag gegee het dat meer as R50 000 vir Refiloe Mokoena se kind se studie bygedra word. Mokoena is in November verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens afgedank. Magashule word ook by ander onregmatige betalings betrek.

Magashule sal volgende jaar saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn in verband met die toekenning van ʼn R255 miljoen-kontrak om ʼn oudit van asbesdakke in die Vrystaat te doen. Die tender is tydens Magashule se termyn as Vrystaatse premier toegeken, maar dit is glo op bedrieglike en korrupte wyse gedoen. Dit was bedoel om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te verwyder, maar die nodige omsigtigheidsproses is nie gevolg nie.

Die omstrede sakeman Edwin Sodi en ses ander vermeende betrokkenes is reeds in verband met die kontrak in hegtenis geneem. Sodi se Blackhead Consulting en wyle Igo Mpambani se Diamond Hill Trading 74 het die kontrak in 2014 losgeslaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Neelsie ·

Dink jy hy sal vrywillig opsy staan? Maar dit gee die NUK dalk net die opening wat hulle nodig het om hom te skors. Tenslotte het hy homself vryeillig op die Integriteitskomitee beroep en dit het geboomersng.

LANA is ELANè ·

Ek dink werklik Cholota moet in ‘n beskermingsprogram opgeneem word, ek dink dat haar lewe in werklike gevaar gaan wees met die dat sy vir die staat getuig rondom Magashule se bedrywighede. Maar ja, ons sal maar sien of daar iets hiervan gaan kom.

Dup ·

Kan hy nie êrens gemeenskapsdiens gaan verrig nie? Veral by plekke en mense wat deur sy beweerde skelmstreke benadeel is.

JohanR ·

Jy het dinamiet nodig om ‘n ANC se bas uit ‘n stoel te lig!

Rentia ·

Hier kom sports…. Ace is nie jou speelmaat nie. Ek het nie ‘n kristalbal nodig om te weet hier kom groot chaos nie…

Aai ·

Hier begin die ANC se probleme.Nou kan hulle ons hardwerkende mense ‘n bietjie los.

Anel ·

Nou waarheen sal hy wil of kan gaan? Niemand mag mos sommer die land in of uit nie. So hoe kan hy dalk wil aa soek doen vir paspoort as ons gewone mense nie eens kan nie? En wat het van syne geword? Is dit veronderstel om teruggetrek te word nie. Wonder ook maar net.

Chris ·

Staan opsy, en maak plek vir ‘n nuwe komrad wat ook soustreintie wil ry. Wat ‘n klugspul. Komedie van ergere proporsies. Dit slaan my papdronk hoe mense wat hulle aan die wandade skuldig maak nog steeds op vrye voete en hande is.

Persheks Adri ·

Hy gaan nie opsy staan nie hy gaan met volle salaris geskors word! Hy is baie glibberig en sal gaan chaos veroorsaak eish

Ietsanders ·

Vorige staatspresidente behoort ook eers opsy te staan totdat hul saak afgehandel word. Dan sal hul vinnig spring om in die hof te verskyn om ‘hul naam skoon te kry’. Die man het mos gese hy wil sy dag in die hof he. Neem weg al sy voordele en wag vir die hof uitslae. Hoe lank gaan dit nog duur voordat die land skoongemaak kan word van misdaad en korrupsie?? BID vir die goeie mense in ons land wat hard werk om dinge reg te kry. Baie mense kan die land verlaat en dis seker ‘n wonderlike opsie, maar vir ons wat verkies om te bly, is daar harde werk wat voorle …..ook opofferinge en samewerking.

Allop ·

Ek hoop die res van die korrupte spul word ook aanstons voor die reg gedaag.

JohanEtz ·

Danie Marais – DIS MOS JOU MAATJIE WAT AL SO LANK VIR JOU SORG!

annie ·

Elias Sekgobelo (61) alias Ace Magashule boorling van Parys (VS) moet so voor die feestyd die knie buig voor die IK van die ANC. 2021 gaan ‘n wilde perd wees om op te saal. Moet ook nie van Biden verwag om ons uit te bail nie… die oupa is reeds op die krukkelys en Trump gaan nie meer daar wees om die skuld te kry sy party se dwase besluite nie, Hou die spens vol.

Heinrich ·

Bly nog steeds die grootste oksimoron: ANC en ‘Integriteits’kommissie.

Tsek! ·

Ander beskuldigdes is agter tralies maar meneer loop vry rond…

gatgogga ·

Nou is die vet in die vuur.
Maar met die ewige uitstellery in die hof, hoef Ace seker nie baie bekommerd te voel nie.

Objektief ·

en die ANC het klaar gese hy bly in sy pos.Sal dit glo op n latere stadium bespreek.

Hierdie een het ge”backfire’ want die integriteits kommissie moes hom onskuldig bevind. Weer n duidelike bewys dat hulle hele sogenaamde vryheidstryd was net om die fiskus in die hande te kry vir selfverryking

MakersMark ·

Ha ha wat ‘n grap. ANC en integriteit in een sin……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.