Intelligensiedienste: Minister wil ingryp

Minister Dipuo Letsatsi-Duba. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die duiwel draai rond onder die troebel water van Suid-Afrika se spioenwêreld nadat die inspekteur-generaal van intelligensie, dr. Setlhomaru Dintwe, ʼn interdik aangevra het teen Arthur Fraser, die land se topspioen en direkteur-generaal van die staatsekerheidsagentskap.

Fraser, ʼn broer van oudminister Geraldine Fraser-Moleketi, wat in Jacques Pauw se boek The President’s Keepers met korrupte aktiwiteite verbind word, probeer volgens hofstukke wat Dintwe ingedien het om op onderduimse wyse met die werk van die inspekteur-generaal in te meng.

Die inspekteur-generaal van intelligensie is een van die min oorsigliggame oor die land se spioene, en gerugte van erge wanbestuur in die staatsekerheidsagentskap het vererger in die meer as twee jaar dat die land geen inspekteur-generaal van intelligensie gehad het nie.

Die geheimsinnigheid en gebrek aan doeltreffende oorsig oor die gedrag van en besteding van belastinggeld deur die land se spioene word daardeur vererger dat parlementêre oorsig ingebind word tot die punt van onbenulligheid deurdat die oorsigkomitee, die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, in die geheim vergader en nie die inhoud van hul gesprekke openbaar mag maak nie, en dat die ouditeur-generaal se verslae oor die agentskap vir die algemene publiek grootliks geslote bly.

Dintwe se gedrag het dus skokgolwe deur die spioenasiewêreld, wat in praktyk grootliks ongereguleerd voortstu, gestuur en onmiddellike afwysende aksie van kabinetsvlak ontlok.

Me. Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsveiligheid, het vanmiddag in ʼn seldsame openbare verklaring klaarblyklike voorbrand gedoen om teen sowel Dintwe as Fraser op te tree.

Sy het haar kommer uitgespreek dat die verwikkelinge die vermoë van alle betrokke partye om hul wetlike en grondwetlike pligte uit te voer kan kniehalter, maar haarself daartoe verbind dat die hofverrigtinge nou eers moet afloop voor sy optree.

Hiermee stem die DA egter nie saam nie en die party se hoofsweep, John Steenhuisen, gaan pres. Cyril Ramaphosa vra om Fraser onmiddellik te skors.

Steenhuisen het uitgewys dat die DA reeds in Mei verlede jaar ʼn klag by die inspekteur-generaal ingedien het rakende die presiese bewerings wat teen Fraser vervat is in Pauw se boek. Dit handel oor gebeure wat na bewering plaasgevind het toe Fraser adjunk direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) was tussen 2007 en 2009.

Hy het ook uitgewys hoe sterk die DA Fraser se aanstelling in 2016 teengestaan het, maar oudpres. Jacob Zuma het hom nogtans aangestel.

Die burgerlike organisasie Right2Know (R2K) het verder gegaan en gevra dat Fraser dadelik afgedank word.

Murray Hunter, R2K-woordvoerder, het boonop uitgewys dat omvattende en dringende veranderinge aan die wyse waarop spioenasiebedrywighede in Suid-Afrika bedryf word, gebiedend noodsaaklik is.

R2K dring benewens die afdanking van Fraser ook daarop aan dat die intelligensie-agentskappe deur onafhanklike mense van statuur gevul word en dat kriminele klagtes teen Fraser ingedien word.

Die parlement moet wetgewing aanvaar wat die bestuur van intelligensiedienste deursigtig maak en die inspekteur-generaal die hulpbronne gee om die vrot kolle in die intelligensie-owerhede van bo tot onder weg te sny, het Hunter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.