Intelligensieverslag oor oproer bestaan dalk nooit

Was daar ‘n intelligensieverslag oor dreigende oproer in Suid-Afrika? (Argieffoto: AFP)

Daar was die afgelope paar dae al hoe meer vrae en weinig antwoorde oor die sogenaamde intelligensie wat die regering vooraf van sy staatsveiligheidsdepartement oor die opstande ontvang het. Dit blyk nou dié verslag is nooit aan die polisie oorhandig nie en die EFF beweer selfs dat geen sodanige verslag bestaan nie.

Die EFF sê indien die regering wel geweet het van die moontlike versperring van paaie en aanvalle op winkelsentrums as aanhitsing vir ʼn opstand, maar steeds verkies het om niks daaraan te doen nie, moet dit as hoogverraad beskou word.

Die rooi barette het verlede week aan Ayanda Dlodlo, die minister van staatsveiligheid, geskryf en gevra vir bewyse dat haar departement intelligensie oor die moontlike opstande gehad het. Die EFF se brief het gevolg op die minister se bewering dat die staatsveiligheidsagentskap (SVA) die inligting aan die polisie, asook die minister van polisie, Bheki Cele, gegee het – maar dat niks oënskynlik daaromtrent gedoen is nie. Dlodlo kon egter tot dusver geen antwoorde verskaf nie.

Kort nadat die oproer aanvanklik uitgebreek het, het Dlodlo gesê haar departement het die inligting ontleed, verpak en “aan die kliënt” gegee. Volgens haar het die polisie al die nodige intelligensie gehad om voorafbeplanning te doen.

Cele het egter die afgelope week in antwoord op ʼn vraag vanaf die VF Plus “ten sterkste ontken” dat hy voor verlede week se oproer enige inligtingsverslag van Dlodlo ontvang het.

“Volgens min. Cele het hy, soos die prosedure sou wees, vir geen inligting geteken of dit ontvang nie. Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het volgens hom ook geen inligting ontvang nie,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Dit staan in skerp teenstelling met min. Dlodlo se stellings verlede week. Dit is ʼn duidelike bewys van óf ʼn gebrek aan samewerking tussen die polisie en die SVA, óf dat min. Dlodlo of Cele se weergawe nie waar is nie.”

Die EFF wil nou onder meer spesifiek weet of die SVA ʼn verslag saamgestel het wat aangedui het dat daar versperrings van sekere paaie en aanvalle op winkelsentrums in KwaZulu-Natal sou wees nadat oudpres. Jacob Zuma in hegtenis geneem is.

“Wanneer is die verslag saamgestel? Aan wie en op watter dag is dit oorhandig? Meer spesifiek, aan wie by die polisie is dit op watter dag gegee?” is van die vrae wat die EFF aan Dlodlo gestel het.

Die EFF wil ook weet of die minister die verslag persoonlik met Cele en pres. Cyril Ramaphosa gedeel het en indien wel, wanneer.

“Min. Dlodlo het nog nie op die vrae gereageer nie. Die EFF kan ook bevestig dat die inligting nooit gedeel of aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie gegee is nie, ten spyte van bewerings deur SVA-amptenare dat hulle in besit daarvan was.”

Die party eis nou dat Dlodlo die trekpas moet kry en in ʼn staat van beskuldiging geplaas moet word omdat sy lede van die publiek en parlement “doelbewus mislei” het oor die “niebestaande intelligensie” wat die regering oor die sogenaamde Zuma-onluste gewaarsku het.

“Die gevolge van min. Dlodlo se verklaring is dat die regering geweet het van die moontlike versperrings van paaie en aanvalle op sentrums ter aanhitsing van ʼn opstand of openbare onrus, maar gekies het om niks te doen nie – en dat dit neerkom op verraad.”

Die EFF voer egter aan daar was nooit intelligensie wat die regering oor die oproer gewaarsku het nie. Die party sê die land se intelligensieagentskappe het geen benul gehad van die sleutelgebeure wat tot die opstande gelei het nie.

“Daar was geen intelligensiestuk wat gewaarsku het oor die versperring van die N3 by Mooirivier, die aanval van sakesentrums, of selfs die betogings deur hostelbewoners nie.

“Hulle het dit ook nie aan die polisie of die polisieminister gestuur nie. Hulle kan tot vandag toe ook steeds nie ʼn greintjie bewys lewer om enige bewering, naamlik dat hulle die regering ingelig het oor die beoogde bedrywighede en die regering dit doelbewus geïgnoreer of niks daaromtrent gedoen het nie, te staaf nie.”

Die EFF bestempel Dlodlo as ʼn gevaar vir die nasionale veiligheid en bestendigheid van die land.

“Sy is deel van inligtingsmouse wat vir ons mense lieg om hulle absolute onbevoegdheid te verdoesel. Sy het lede van die publiek mislei en haar amptenare in die SVA het doelbewus die parlement mislei om hulle onbevoegdheid en nalatigheid weg te steek.

Volgens Groenewald het Cele ook gesê die polisie het sowat ʼn jaar gelede toerusting van meer as honderdmiljoen rand aangekoop om misdaadintelligensie te bekom.

“Hierdie toerusting is steeds in onbruik aangesien etlike staatsdepartemente eers die nodige toestemming vir die gebruik daarvan moet gee en die proses bly sloer weens tydrowende rompslomp.”

Groenewald sê dit benadruk sy vorige stellings dat die verskillende intelligensieagentskappe die land in die steek gelaat het – en dat die regering onkant betrap is soos Ramaphosa reeds erken het.

Hy stem saam met die EFF dat die SVA verantwoordelikheid moet aanvaar en stappe gedoen moet word teen diegene wat tot die probleem bygedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Ja, Ja, wat ookal. Daar sal in ieder geval ‘n liegstorie uitgedink wees.

Persheks Adri

Die hele lot is onbevoeg verby! Vir intelligensie moet iemand hul brein gebruik gggmmmfff pateties

Hannes

Cele en Dlodlo kyk wie kan die meeste lieg maar so is dit ook by die eerste burger van die land en sy vrot kabinet.

Heinrich

Nooit gedink dat die groen en rooi sou saamstem nie! Hier moet beslis koppe rol!

Leonard

Dié REGERING -ANC ís NÓÚ op hete kole!