‘Intensiewe terapie’ vir man ná aanranding by nagklub

Louis Pienaar saam met sy vrou, Corryne en kinders, Aden en Finn. Foto: Verskaf

Louis Pienaar (38) is presies drie weke nadat hy na bewering deur ʼn Blou Bul-o.21-rugbyspeler by ʼn nagklub in die ooste van Pretoria aangerand is, uit die hospitaal ontslaan.

Pine Pienaar, Louis se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê Louis is Saterdag uit die Life Wilgers-hospitaal ontslaan en sterk by die huis aan. “Daar is nog ʼn lang pad van herstel wat voorlê. Hy praat met ons, maar met tye is dit baie onsamehangend,” het Pine gesê.

“Hy sukkel ook om te loop en daar lê nog intensiewe terapie vir hom voor. Hy sal vir verskeie sessies by ʼn spraak-, arbeids- en fisioterapeut moet gaan, asook opvolgbesoeke aan spesialiste.”

Pine het gesê dit is nog te vroeg om te bepaal of Louis enige permanente breinskade opgedoen het. “Vir nou is ons net dankbaar dat hy by die huis kan aansterk. Ons sien elke dag klein verbeteringe.”

Maroela Media het vroeër berig Louis, ʼn rekenaarspesialis, was lank in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die hospitaal nadat hy op 11 November omstreeks 04:00 buite ʼn kuierplek aangerand is. Hy het bloeding op sy brein opgedoen en moes onder meer ʼn operasie ondergaan om drukking op twee plekke op sy brein te verlig.

Dylan van der Walt (Foto: Verskaf)

Pine het vroeër gesê die kuierplek het toegemaak en Louis was nog op die dansvloer toe daar ʼn groep rugbyspelers, onder wie Dylan van der Walt (20), ʼn losvoorspeler vir die Blou Bulle, daar aangekom het. “Soos ons verstaan, het ʼn woordewisseling ontstaan. Louis en sy neef, Christian Cronjé, is toe na buite, waar Dylan hom in die parkeergebied van agter van sy voete af geslaan het. Hy het hom nog ʼn hou gegee, voor hy saam met mense in ʼn voertuig geklim en weggery het,” het Pine gesê. Christian het ʼn bewustelose Louis na die naaste hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid opgeneem is en lank in ʼn koma was.

Die Garsfontein-polisie ondersoek ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Kapt. Ilze Jones, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê al die getuieverklarings is intussen afgeneem en die dossier na die staatsaanklaer gestuur vir verdere beslissing. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Jones het gesê Louis se verklaring moet nog afgeneem word en sy mediese verslae is aangevra. “Die polisie was by die slagoffer toe hy ontslaan is, maar hy was nog te deurmekaar om sy verklaring af te lê.”

Dylan se prokureur, Jacques Diemieniet, het vroeër gesê sy kliënt het onderneem om sy samewerking aan die polisie te gee. Hy kon nie dadelik Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

Wayne van der Walt, Dylan se pa, het sy seun ná die voorval op Facebook verdedig. “Dylan was nog nooit betrokke by enige bakleiery in sy hele lewe nie en omdat hy vir die Bulle speel, is dit tien keer erger. Wat julle lees, is net die helfte van die storie. Dylan was saam [met] twee van sy maats, en die ander ou het vyf vriende en familie saam [met] hom gehad. Dylan het hom een keer geslaan en hy het geval,” het Wayne op Facebook geskryf.

Wayne maak verskeie bewerings, soos dat “die 38-jarige man” glo besope was en na bewering probeer het om by ʼn 20-jarige meisie aan te lê.

“Wat gebeur het, is hartseer. Ons is ʼn Christelike familie en net God kan oordeel, maar nou ja, dis net so swaar vir my kind as wat dit vir enigiemand anders sal wees.”

Shanil Mangaroo, woordvoerder van die Blou Bulle Maatskappy, het vroeër gesê die maatskappy gaan nie in dié stadium enige kommentaar oor die voorval lewer nie. “Aangesien daar wetlike aspekte betrokke is, wag ons eers vir die ondersoek om sy gang te gaan. Sodra daar meer inligting beskikbaar word, sal ons dit verder hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jakalas ·

Ek dink laat ons eers die konteks verstaan voor mens afleidings maak. Alhoewel, om ‘n ou so erg aan te rand het geen verskooning nie en mens kan nie so erg skade van een hou op dien nie. Sal meer die volle storie later ontdek.

andre ·

Ja.oom …meeste mense wat ek ken is christelik…en skelm met geen tyd vir hul naaste

Susan ·

Aanranding bly aanranding – maak nie saak waar daar gekuier word nie of hoe laat nie!! As hy dan so “dronk” was hoekom steur aan wat hy doen/se – almal weet mos aan ‘n dronk man moet jy nie jou steur of glo wat hulle se!!
Dan sal Dylan se pa beweer hy is nie ‘n geweldadige ou nie – nou wat slaan hy dan ‘n hou – een hou is ook aanranding.
Deesdae wil almal met geweld alles reg maak – geweld betaal nie

susan ·

Rugbyspelers is regtig te groot vir hulle skoene? Word teveel betaal mors man se lewe op met sy sterk man mentaliteit. En nou?

Wiebo ·

Hoop die van der Walts gaan vir al die mediese onkostes en terapie betaal…………….. Dis die regte ding om te doen…………….. Sterkte met die herstel!

Piet Pille ·

As rugby-speler moet hy sy humeur kan beteul, slaan ‘n speler ‘n ander op die veld, ongeag die rede, word daar straf uitgedeel en lei sy span daaronder, Duidelik was daar iets sterker as lemonade ook betrokke aan beide kante.

Johnnie ·

Stem saam met Susan n rugby speler wat iemand onverwags van agter slaan is n eiterste lafaard om die minste daarvan te dink.

Piet ·

Waarom steur die kind hom aan by wie die ouer kerel aanle of nie. Hy kan mos aanle by wie hy wil. Is hy dan nou skierlik die morele kompas wat besluit wie nie maniere het nie? Is dit nie elke klub se eie verantwoordelikheid om die vrede te bewaar nie? Ag nee ou seun vra jou pa om nie verskonings te maak nie, gaan eerder kerk toe en dank die Here dat die ou nie sy lewe verloor het nie.

Ouderdom? ·

Wat maak ouderdom saak?
Sy is volgens my beter af met die meer volwasse man as met die kaartbulletjie wat na dese finansieel nie meer so goed gaan staan nie.

Eish ·

Eish geen waardes, die ouer een is getroud met 2 kinders, dit is nie reg nie.

HPV ·

Die seuntjie gaan homself ‘n drag slae in die hof op die hals haal wat hy die res van sy lewe sal onthou. Hou jouself uit ander mense se sake en moet nie aan ander mense slaan, selfs nie van agter af nie. Sterkte aan Louis Pienaar en sy gesin.

Ander Pine ·

Nie familie nie. Wil graag ook iets se. Dit is geen wonder dat ons as volk gebuk gaan onder als nie. Ons het nog nie geleer nie. Vat nie kante nie. Twee gesinne en twee lewens in situasie wat nie goed is nie. Pa wat moet sorg vir sy gesin nou op n lang pad na herstel. N jong man wat dalk als kan verloor en sy toekoms dalk weg gegooi het net omdat ons nog nie geleer het om te besef dat elke aksie wat jy doen gevolge het nie. Baie jammer vir beide in n situasie wat eintlik so maklik kon vermy gewees het.

Sputnik ·

Een hou is een te veel. Een hou en dìt van agter is dié van ‘n uiterste lafaard. Ek hoop hy kry sy loon in die hof! Kaartmannetjies met help-my-sterk-lyk-frokkies wat alles met skop en slaan wil regtimmer!

HPV ·

Getroude mans kuier saam hul vriende in kuierplekke, almal het nie ‘n leiband aan nie. Daar is vrouens wat hul mans ‘n lekker kuier saam sy vriende gun. Dit is nogaal soort van normaal selfs onder ons Afrikaners. Ons het oud weermag, jag, sport ensovoorts vriende. Selfs dominee weet daarvan!

Gerrie ·

getroude mans moet nie loop en aanle by ander meisies nie. kuier as jy moet. maar respekteer jou vrou wat by die huis wag.

nou word ay familei nog verder in skande gedompel as die cctv wys van sy uitgelatendheid. wie ondersteun hom nou. sy vrou en nie die jong meisie nje.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.